Saterdag 02 Augustus 2014

Wat leer Die Bybel, hoe bid ek om seker te maak dat my gebede beantwoord word? Deel 2


Ons moet aanvaar dat daar twee magte op die aarde aanwesig is: GOD se mag en die satan se mag. Die twee staan teenoor mekaar. Twyfel kan nooit van die Hemel af kom nie. Die amptelike opdrag is in Jak. 4:7: “Onderwerp julle dan aan GOD: weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug!” Om te “weerstaan” beteken op aksie te neem. Om te twyfel is dus sonde.
Ten tweede moet ons die Vader vra vir dit wat ons nodig het. Onthou, Hy voorsien dit wat ons nodig het, en nie dit wat ons wil hê nie! Matt. 7:7-8 lees: “Bid, en vir julle sal gegee word: soek en julle sal vind: klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want, elkeen wat bid, ontvang: en hy wat soek, sal vind, en vir hom wat klop sal oopgemaak word.”

En verder (Matt. 6:8) “… julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle vra.”
Hoeveel mense het nie al hierdie strofe aangehaal en gesê maar hulle hoef nie te bid nie want die Vader weet reeds wat hulle nodig het. Maar, waarom moet ons dan nogtans vra? Dis eenvoudig. Wanneer jy agterkom dat jou kind se skoene vervang moet word en jy vervang dit voordat hyself agtergekom het dit is flenters, dan het daardie kind geen waardering vir die nuwe skoene nie. Kom die kind egter self agter dat sy skoene vervang moet word en hy vra mooi dat sy ouers vir hom nuwes moet koop, dan sal hy nie net waardering openbaar nie, maar  hy sal die skoene ook oppas.

Ten derde moet ons glo dat ons wel ontvang. “Want voorwaar, ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg (probleem) sê: hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang (glo dat julle dit reeds ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.

Vierdens moet ons Skriftuurplase lees wat beloftes vir ons gebed bevestig.  Fil. 4: 8. Die Christen-lewe is nie iets wat jy dan en wat uitleef nie, of net aangryp wanneer jy in nood is nie...

Asook Jos. 1: 8: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan: want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”

Die opdrag is dat ons die Woord van HERE deeglik sal ken, sodat ons nougeset kan wandel – natuurlik ook wat betref wat rondom ons aangaan sodat ons presies kan weet waarvoor om te bid of in die bres voor te staan. Christus het nooit ‘n wapen saam met Hom rondgedra nie. Hy het deurentyd die Woord as swaard gebruik, bv toe die duiwel Hom drie keer versoek het.

Die volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. Kyk net wat leer mens al net uit hierdie geskrif nie. Joh. 15:7  lees: “As julle in My bly en My woorde (kennis) in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”
Ons prop onsself vol aardse kennis, maar ons ken nie die Woord van God nie – ‘n Woord wat selfs ‘n kind kan verstaan nie!

Deel 3 vervolg