Saterdag 02 Augustus 2014

Wat leer Die Bybel, hoe bid ek om seker te maak dat my gebede beantwoord word? Deel 1


Die euwel van ons tyd is gebrekkige kommunikasie en wanpersepsies. As jou lewe met die HERE reg is en jy het ‘n deeglike studie van die voorafgaande gedoen, dan moet jy nou leer hoe om met GOD te kommunikeer. Verder moet jy seker maak dat jy met werklikheidspersepsies saamleef, byvoorbeeld, mens bid nie vir ‘n R350 000 ingevoerde motor, as jy bloot een van R120 000 nodig het nie.

Baie mense bid nie meer nie. Hulle sê dit help nie want hulle gebede word tog nie beantwoord nie. Baie keer is dit weens gebrekkige kommunikasie en wanpersepsies. Die euwel van gebrekkige kommunikasie en wanpersepsies strek deur die totale samelewing, ook in die sakewêreld.
Wat ons hier gaan doen is nie om te kyk wat ons nie moet doen nie, maar wat ons wel moet doen, om seker te maak dat ons antwoorde op ons gebede kry.

Ten eerste moet ons besluit presies wat ons van die Vader verlang.  Hoekom?

Want Jak. 3:6-8 sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel: want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word … want dié mens, moenie dink dat hy iets van die Vader sal ontvang nie.” Met ander woorde, so iemand sal niks van die Here ontvang nie.
Jakobus sê verder dat so iemand dubbelhartig is en boonop onbestendig is al sy weë.

Dis soos iemand wat ‘n trollie op en af in ‘n hipermark stoot en nie kan besluit wat om te koop nie, net omdat hy of sy nie vooraf besluit het wat hulle nodig het nie. As twyfel jou probleem is, bely dit en weier om te twyfel. Bestraf die twyfel in die naam van Jesus Christus en gebied dit om van jou af weg te gaan. Neem in die naam van Jesus Christus oor alles wat indruis teen jou geloofslewe.

En wanneer die antwoord daar is, moenie dan sê: O’ ek kan dit nie glo nie. Let op die volgende verhaal:
“Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die Paasfees voor die volk te bring. So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot GOD deur die gemeente vir hom opgegaan. En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. (Petrus kon hoegenaamd nie ontsnap nie, maar nie ver daarvandaan nie het ‘n groep Christene eendragtig in ernstige gebed verkeer)

“En meteens staan daar ‘n Engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. (As Petrus nie wou opstaan nie sou die boeie seer sekerlik van sy hande afgeval het nie)
“En die Engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my! (Let op, alles word nie vir Petrus gedoen nie, sommige goed moes hyself doen)
“En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die Engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ‘n gesig sien. (Hy bly GOD-gerig: As die werklikheid dan vir hom te groot is, dan sien hy ten minste ‘n gesig)

“En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die Engel hom verlaat. Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die HERE sy Engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk. En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.

(Let op wat nou gebeur) “En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het ‘n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was.
“En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy Engel. (Dit waarvoor hulle gebid het, is beantwoord, nou glo hulle dit nie. Petrus steur hom egter nie aan wat hulle dink of sê nie, hy hou aan met klop)

“En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas. Maar hy het vir hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die HERE hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na ‘n ander plek vertrek. En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie. Daarop het Herodes hom gesoek en nie gekry nie, en die wagte onder verhoor geneem en bevel gegee dat hulle tereggestel moes word. En hy het van Judéa weggegaan na Cesaréa en daar gebly.” (Wanneer ons in die geloof bid sonder om te twyfel, antwoord GOD nie net nie, Hy vernietig ook die oorsaak van ons probleme) Hand. 12:4-19.

Deel 2 vervolg.