Sondag 03 Augustus 2014

Hoekom is daar dan dinge en mense wat ons skade aandoen?



 Eenvoudig omdat ons nie die HERE opreg dien en bid (sonder ophou) nie.
“Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.” Joh. 20:21.

“Bely (dus) mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Jak. 5:16

Bely mekaar julle misdade beteken nie dat ons, ons sondes teenoor mekaar moet bely nie. Dit bely ons teenoor die HERE. Maar wanneer ons teen mekaar gesondig het, dit moet ons teenoor mekaar bely – soos byvoorbeeld kwaadsprekery, liefdeloosheid. Ons kan nie antwoorde op ons gebede verwag wanneer ons liefdeloos teenoor mekaar is nie.

“Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.” Rom. 12:9-20.

Wat betref Joh. 20: 21-23 is dit duidelik dat ons as GOD se verteenwoordigers op aarde aangestel is. Soos wat die Vader Hom gestuur het, stuur Hy ons ook.
Hy sou ook nie die opdrag gegee het as Hy ons ook nie die krag voorsien het om die taak uit te voer nie. Die vraag is: Waarom het GOD verkies om binne die raamwerk van gebed te opereer? Waarom het hy die volle verantwoordelikheid vir die uitvoer en administrasie van Sy Goddelike regering op aarde, op die skouers van die wedergeborenes geplaas?

Waarom sal Hy hom nie inmeng in aardse aangeleenthede nie, behalwe om op te tree in medewerking met Sy Kerk? GOD het uit en uit van Sy magte aan Sy Kerk gedelegeer. Hoe anders kon dit moontlik word om die Evangelie na elke uithoek van die wêreld te neem?

Deel van die Opdrag is:  “En leer hulle.” Hoe sou dit moontlik wees om die nuwe siele wat inkom in die Koninkryk te leer, as dit nie die plig van die wedergeborenes is nie?  “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” Jak. 2:14.


Uittreksel uit Sjibbolet Bediening – Past Johann Viljee