Saterdag 02 Augustus 2014

Hoe moet ons bid om seker te wees dat ons antwoorde op ons gebed verkry?



Die volgende voorbeelde ruim alle twyfel uit die weg:

“En wat julle ook al in My naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in My naam vra, sal Ek dit doen.” –  Joh. 14: 13-14.

“As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” – Joh. 15:7.

“In daardie dag (nà die Hemelvaart) sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra IN MY NAAM, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie. Bid, en julle sal ontvang (hoekom?) sodat julle blydskap volkome kan wees!” –
Joh. 16:23-24.

Daar is geen voorwaardes wat GOD bind of verhoed om die gebed van ‘n getroue kind van Hom te beantwoord nie. GOD self hoef aan geen voorwaardes te voldoen nie.

Die voorwaarde: “As julle in My bly en My woorde in julle,” is alles moontlik en binne bereik van elke wedergeborene wat dit erns met GOD bedoel.
As dit nie moontlik was om hierdie voorwaarde na te kom nie, dan sou dit sekerlik ‘n risiko aan die kant van GOD wees om sulke verreikende beloftes te maak – en so iets is tog onmoontlik, GOD sal nie ‘n fout maak nie.

As GOD dus nie kan fouteer nie, dan is die totale verantwoordelikheid  vir gebedloosheid of oneffektiewe gebed, ons sin. Van GOD se kant af is dit dus ‘n eervolle optrede. Van GOD se kant af is dit ‘n waterdigte aangeleentheid. Sy deel is reeds gedoen. Sy belofte is om altyd te antwoord ingevolge Sy Wil. Daar is dus ook geen fyn skrif nie.

Die getroue kind van GOD sal nooit iets vra buite die Vader se Wil nie. GOD wou in ‘n stadium iemand hê om in die bres te staan vir die volk. Dit is dus Sy Wil dat ons tot Hom bid om herlewing en restourasie van die volk. As ons sekere middele daarvoor benodig, dan sal Hy dit ook gee. Dieselfde geld in die geval van siele inwin vir Sy Koninkryk.

Ook geld dit ons blydskap want dit is Sy Wil dat ons blydskap volkome sal wees!

“Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh. 16:24. Sien ook: Joh. 15:11; 17:13 Fil. 2:2; 1 Joh. 1:4.

GOD se aanbod aan ons is ‘n bona fide aanbod, ‘n aanbod ter goeder trou. Dit is ‘n uitnodiging aan die wedergeborenes om in volle vennootskap saam met Hom te lewe. Nie dat ons namens Hom besluite sou neem nie, maar meer in die sin van medewerker. Rom. 16:3;9;21. 1 Kor. 3:9.

Die verantwoordelikheid en die uitvoer van GOD se raadsbesluite, plaas Hy op die skouers van Sy Kerk, my en jou se skouers.

“En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die Koninkryk van die Hemele gee; en wat jy (My gemeente) ook op die aarde mag bind, sal in die Hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.” Matt. 16: 18-19.

Die belofte word aan die Kerk in die algemeen herhaal in Matt. 18:18  “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees, en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.”

So byvoorbeeld as ‘n huwelik op die aarde in die naam van Jesus Christus verbind word, dan is dit in die Hemel gebonde. So bind ons ook die onheil in die naam van Jesus en dit sal in die Hemel ook gebonde wees. So maak ons iemand los van die onheil op aarde en in die Hemel sal so iemand ook vrygemaak wees.

In Matt. 12 praat Jesus Christus oor die uitdryf van duiwels en sê: “Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei (gebind) het nie? En dan sal hy sy huis beroof.” Matt. 12:29. Mark. 3:27.

As die drankduiwels die sterk man in iemand se lewe is, dan kan ons nie vir daardie iemand begin bid alvorens ons nie die duiwels gebind en uit die man uitgedryf het nie. Eers dan begin ons vir die man bid en beroof ons hom van al die verkeerdheid in sy lewe.


“Kyk, ek gee aan julle mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Lukas 10:19.

Uittreksel uit Sjibbolet Bediening - Past Johann Viljee