Saterdag 02 Augustus 2014

Wat leer Die Bybel, hoe bid ek om seker te maak dat my gebede beantwoord word? Deel 3


“In daardie uur het die dissipels gekom en gevra: Wie is tog die grootste in die Koninkryk van die hemele? Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat die kind in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar, Ek sê vir julle as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die Koninkryk van die hemele binnegaan nie.” Matt. 18:3.
Is jy nie ook verbaas om dit te hoor nie? Jesus Christus sê, as ek en jy nie verander, en soos kinders word nie, sal ons nooit die Koninkryk van die hemele sien nie!
Wat doen ‘n kind? ‘n Kind is onderdanig, eerbiedig sy ouers en is baie lief vir sy ouers en bly dan en nag trou aan sy ouers. ‘n Kind glo ook alles wat sy ouers vir hom sê, hy betwyfel dit nooit.
Strofe 4: “Elkeen wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die Koninkryk van die hemele!”
Ons het geen verskoning daarvoor as ons nie die Woord ken nie.

Vyfdens moet ons aan GOD lofprysinge gee. Fil. 4: 6 lees: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes (oor die dinge wat julle werklik benodig) in alles deur gebed en versoeke met danksegging by GOD bekend word.”

Lofprysinge, iets waarvoor so baie Christene bang is dat hulle onordelik sou wees as hulle dit doen, is ‘n dinamika sonder weerga! Ps. 149 sê lofprysinge is soos ‘n tweesnydende swaard: Aan die een kant maak ons GOD se naam groot, terwyl ons aan die anderkant  “wraak uitoefen oor die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie, om ‘n vonnis wat (reeds) opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al Sy gunsgenote. Hallelujah!”

Het jy ooit kon  dink dat ‘n kind van GOD so iets deur middel van lofprysinge sou kon vermag? Christene spring op die sportpawiljoene op en af, swaai hulle arms, en bring lofprysinge aan hulle span of aan hulle held, maar as hulle dit vir GOD moet doen, dan kan ‘n klontjie suiker skaars in hulle monde smelt.

Sesdens bid ons altyd in die naam van Jesus Christus. Joh. 16: 23 lees: “En in daardie dag (na die Hemelvaart) sal julle my niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in My naam, sal Hy julle gee.”
2 Kronieke 7:14 is ‘n realiteit:  “As My Volk oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek, en hulle bekeer van hulle verkeerde weë, dan sal Ek (beslis) uit die Hemel hoor en hulle vergewe en hulle land genees.”

Uitrekstel uit Sjibbolet Bediening-Past Johann Viljee