Sondag 03 Augustus 2014

Hoekom is ons gered?

Ek en jy is nie gered om Hemel toe te gaan nie, ons is gered om die Koninkryk te bou. Ons moet dag en nag bid, dag en nag betrokke wees. “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie — wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.” Jak. 2:15-17.

GOD had iets oneindig groot in gedagte toe Hy die stelsel van gebed ingestel het. GOD se ewigheidsdoel met die heelal en Sy volk was om ‘n Ewigheidsmaat vir Christus op aarde te skep.

Hierdie feit is deel van die openbaarmaking van die misterie in die Boek Efesiërs wat die klimaks in Hoofstuk 5 bereik. Hierdie hoofstuk verklaar die Goddelike openbarende parallel tussen GOD se menslike en Goddelike huweliksprogramme. Strofe 32 klaar die misterie op wanneer Paulus onomwonde verklaar dat die huweliksmaats in die huweliksprogram, Christus en die Bruid (ons die wedergeborenes) is.

Hoekom? Want die Bruid (die Kerk van Christus) in sy hoedanigheid as Bruid van Christus, as huweliksmaat, sal die hoogste amp in die heelal beklee, naas die Godheid self. As Bruid van die Ewige Seun, sal sy saam met Hom universele soewereiniteit deel!

“Weet julle nie dat die Heiliges die wêreld sal oordeel nie. Weet julle nie dat ons Engele sal oordeel nie?” 1 Kor. 6: 2a-3a
“As ons verdra, sal ons saam met Hom regeer.” 2 Tim. 2:12.
“En aan hom wat oorwin en My werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee.” Openb. 2:26.
“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het.” Openb. 3:21.
“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir GOD met U bloed gekoop, uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse GOD gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Openb. 5: 9-10.

Omdat die wedergeborenes Christus se Geliefde en Bruid is, moet sy onderrig word, geleer word, en voorberei word vir haar Koninklike rol.

Deur Sy gesag aan die Bruid te delegeer om Sy administrasie en besluite op aarde uit te oefen moet die Bruid  leef  soos een wat gereed is om in die huwelik te tree. Die Bruid moet toenemend in die binnekamer in gebed verkeer rakend GOD se Raadsbesluite en die uitoefening daarvan. Ons kan dit ook in-diens-opleiding noem. Sy moet die kuns van geestelike oorlog aanleer en begryp, oor hoe om die onheilsmagte te verslaan in voorbereiding vir haar huwelik met die Lam van GOD en haar Troon-bestyging.

Om haar in staat te stel om die tegniek van oorwinning aan te leer, het GOD die stelsel van gebed ingestel. Let op hoe word haar sfeer van aksie beklemtoon: “Wat jy ook al bind op die aarde sal in die Hemel gebonde wees,” “wat jy ook al ontbind op die aarde sal in die Hemel ontbonde wees.”

En, “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra,  dit sal hulle ten deel val  van My Vader wat in die Hemel is.” Matt. 18:19. Hierdie delegering en verantwoordelikheid betreffende gesag en administrasie wat aardse aangeleenthede aanbetref,  beslaan die hoogste eer, en verhoog die Bruid tot die hoogste rangorde onder alle lewende wesens.

Geen Engel of Aartsengel sal ooit hierdie hoë rangorde beklee nie, want nie Engele nie, maar alleen wedergeborenes is in die beeld van GOD geskape en kwalifiseer om die Bruid te wees en die Bruidegom se troon te deel. Hierdie raadsplan van GOD is nie as ‘n losse gedagte agterna ingestel nie, maar kom nog voor die grondlegging van die aarde af, aldus Efes. 1: 4. “Hy het die wedergeborenes uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”

Dit was GOD se oorspronklike doel met die skepping van die heelal. En Sy gebedsprogram is die metode om die Bruid voor te berei vir haar toekomstige rol as Koningin. Dit is waarom GOD nooit oor die kop van Sy Kerk gaan nie. Hy sal nie dinge uit ons hande neem nie. Ons het ‘n kardinale rol om te vervul. Deur Haar rol hier op aarde te vervul, kan Sy haar volle status bereik as mede-regeerder van die heelal. GOD kan Haar nie verlos voordat Sy nie haar verantwoordelikheid aanvaar en ‘n sukses van haar taak maak nie.

2 Petrus 3: 9 lees: “Die HERE vertraag nie die belofte (van Sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Hoe lank ons dus nog op hierdie aarde gaan wees voordat ons oor die konings en priesters van hierdie wêreld gaan regeer, hang alles van ons eie prestasie af. Feit is, Hy kom nie voordat Sy Bruid nie sonder vlek of rimpel is nie. Efes. 5: 27.

GOD sal dus niks doen, anders as in antwoord op gebed nie. Die wedergeborenes moet in gebed en intersessie intree vir GOD se volk, vir herlewing, vir restourasie. Die grootste wat enige wedergeborene vir GOD en vir die mens kan doen, is om te bid! Natuurlik kan ons meer doen as net bid nadat ons gebid het, maar ons kan niks doen alvorens ons nie gebid het nie.

Deur gebed slaan ons die uitklophou. Deur dienswilligheid versamel ons die resultate. Hoe meer gebed daar is, hoe ‘n beter plek sal die wêreld wees waarin ons woon, en hoe magtiger sal ons teen die onheil staande kan bly. Ons het en maak tyd vir alles, behalwe om te bid. Maar hopelik, nou dat ons almal besef wie ons werklik is en watter belangrike rol ons op aarde moet vervul en watter groter rol ons in die Hiernamaals gaan vervul,  hopelik sal ons nou tyd maak om met GOD te versoen en ons voor te berei vir die komende Huwelik.

Van nou af aan, laat die volgende strofe ons slagspreuk of ons wagwoord wees: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van GOD!” 1Kor. 10: 31.