Dinsdag 28 Julie 2015

Ouers – Wees getrou aan God


Image result for godly parents

“Die roede en die bestraffing gee wysheid ; maar ‘n seun wat aan homself
oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” – Spreuke 28:15

“Tugtig jou seun, want daar is hoop…”  – Spreuke 19:18

“Hou die tug nie terug van die kind nie, as jy hom met die roede slaan sal
hy nie sterwe nie.

Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” –
Spreuke 23:13-14.
Daar is iets hemels, iets onskuldig, iets wonderlik omtrent klein kindertjies.  Hulle is gawes van God en geen geld kan hulle koop nie.

Maar elke klein kindjie het ook iets sondig in hom.  Elkeen van hulle het ‘n natuur wat, as dit nie ingeperk word nie, handuit ruk met ontsettende gevolge. Ps. 58:4.

Omdat God mense straf oor sonde, en selfs Christene daaroor tugtig, sal dit verwaand wees van ons as ouers as ons sommige opvoeders glo wat sê dat kinders nie getugtig mag word nie.  Die kinders moet glo net met liefde grootgemaak word.

Natuurlik moet daar ‘n oorvloed van liefde in ‘n gesin wees, maar die roede beskerm dit juis en bou die liefde uit.
Om ‘n kind vir elke bakatel te slaan, is net so verkeerd as om hom nie te tugtig wanneer dit nodig is nie.  Om hom te tugtig sonder rede of sonder om rede te verskaf, is ook verkeerd.

Die Bybel leer duidelik dat ‘n roede gebruik moet word. Mens slaan nie ‘n kind met jou plat hand of vuis nie.  Jou hande is gegee om mee te seën, te genees.  Die praktyk het geleer dat selfs ‘n hond respek vir ‘n mens verloor wat hom met die hand in plaas van ‘n neutrale voorwerp slaan.

Die wêreld, ook SA, se immorele en kriminele jeugbendes is die produk van ouers wat nagelaat het om hulle kinders te tugtig, te leer en te dissiplineer.
Dit is die plig van ouers om kinders vir die Hemel voor te berei, veral ook omdat hulle dit as ‘n belofte aan God afgelê het. Tugtiging is en bly aller noodsaaklik.  Ook op skool. ‘n Geregverdigde ses-van-die-bestes in die skoolhoof se kantoor het geen kind kwaad aangedoen nie.

Volwassenes wat as kinders getugtig, geleer en gedissiplineer was, sê vandag almal dat dit die beste ding was wat hulle as kinders oorgekom het.
Tugtiging en dissipline is ‘n noodsaaklike komponent by die vorming van ‘n kind se karakter. Spreuke 22:15 sê:  “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.”

Daardie eie wil is die wortel van alle sonde en ellende.  Wat dit ook al in kinders aanvoor het nadelige nagevolge, selfs geestelik.  Wanneer daarteen opgetree word, bevorder dit hul toekomsgeluk en vroomheid.
Die Christen Godsdiens is niks anders nie as om die wil van God te doen.  Ouers het ‘n plig teenoor God en teenoor hulle kinders om God se wil te doen.  Volwassenes wat ook ‘n eie wil in plaas van God se wil openbaar, pluk net wrange vrugte daarvan.
Die korrekte opvoeding van kinders lê die fondament vir die pad na die Hemel.  Die enigste ander pad is die een oor die afgrond na die hel.
Spreuke 13:24 sê:  “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat sy seun liefhet, besoek hom met tugtiging.”
Vaders is die hoë priester van hul gesinne.  Vader Abraham is ons voorbeeld in Gen. 18:17-19. God het Abraham gekies omdat Abraham gewillig was on sy gesin die weë van God te leer.  Die gesinslewe is die pilare van ‘n Christenvolk.

Vaders moet hulle gesinne die Woord van God leer. Deut. 4:9,10.  Die Woord is die grondslag van die Goddelike gesprek en leefwyse. Deut. 6:6-9. Spreuke 4:1-4 is nog ‘n voorbeeld van ‘n vader wat sy seun leer.
Die man is hoof van sy vrou – 1Kor. 11:3,4.  Hulle moet hulle vroue liefhê – Efes. 5:25.  Hulle moet hulle vroue eer – 1Pet. 3:7.  Hulle moet hulle huise goed regeer – 1Tim. 3:4 en 12.
God het ‘n orde geskep wat soos volg lyk: God self, die Engele, die man, die vrou, die kinders, die diereryk, planteryk en mineraleryk.  Niemand durf hierdie orde omver gooi nie.

Moeders baar kinders en leer hulle – 1Tim.5:14.  Hulle bring hulle kinders na Jesus Christus – Mark 10:13-16.  Hulle moet hulle kinders leer oor geloof en ‘n sterk geloof openbaar – 11 Tim.1:5 en 3:15.
Ouers moet hulle kinders leer – Spreuke 22:6. Hulle moet die kinders korrigeer – Spreuke 13:24; 19:18; 22:15; 23:13.  Hulle moet aan die kinders voorsien – 11 Kor. 12:14.
Kinders weer, moet hulle ouers eer – Deut. 5:16 en Efes. 6:12.  Kinders moet gehoorsaam wees – Efes. 6:1.  Kinders moet God dien – Pred. 12:1. Die jongmanne moet nugter en verantwoordelik wees. Tit. 2:6-8.
‘n Mens sonder beginsels, is ‘n beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
As ‘n volk sy beginsel vergeet, oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme.
As ‘n volk gesonde beginsels verwerp, word hy ‘n dweepsieke volk.
Die denkende Christen moes 30 jaar gelede – want toe was die skrif al aan die muur – sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het.  Hy het dit nie gedoen nie
Vandag het hy weer geleentheid om dit te doen:

Die eerste is  teen die verwaarlosing van alle beginsels wat ly tot  sosiale en persoonlike agteruitgang.

Die ander is die aanname van vals beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
Die gevaar op die oomblik is dat ‘n groot deel van ons Christene  vergeet het dat ons Christen-beginsels ooit bestaan.
Ons moet dus onsself verdedig deur vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons  volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Ons het die pligte van die vader as hoë priester van die huis verskuif na die predikant en die Sondagskool.  Die pligte van die ouers het ons verskuif na die sekulêre skool. Ons morele, volks- en ekonomiese beginsels het ons op die staat afgeskuif.
Ons het beheer oor ons self en ons eie huishoudings verloor. Ons staan skuldig voor God en ons kinders.  Ons is in ellende.
Daar is net een oplossing: verootmoediging en restitusie.  Dien weer die HERE soos dit hoort – nie ons eie wil nie, maar God se wil.  Ons het tog nou duidelik gesien waar ons eie wil ons laat beland het.  Hoe kan ons onsself nog langer Christene noem?
Daar was vyf wyse maagde en vyf dwase maagde, maar sommige van ons het nie eers lampe nie, wat nog te sê van olie hoegenaamd.

So seker as wat Christus gebore is, gaan Hy weer kom.  Kom ons wag vir Hom met reikhalsende verlange, maar as sierade en met trots! – Sjibbolet

Ons het ‘n ganse SA om te besout!


Image result for angels rejoicing in heaven


“Julle is die sout van die aarde.” Matt 5:13. Is jy?
Sonder sout is kos smaakloos. Gelowiges is die sout van die aarde en daarom moet ons altyd oral smaakgewend wees. Ons invloed moet soos die werking van sout wees… helend, vernuwend, vertroostend.
            Ons teenwoordigheid in watter omstandighede ook al, moet dit vir ander aangenamer maak, swak situasies omkeer. Sout maak ‘n verskil, ons ook.
            Sout is die nommer een geneesmiddel van die natuur. Sout reinig en ontsmet en maak gesond. Wanneer ons vir siekes die hande oplê beteken dit reiniging, genesing. Dis wat gebeur het toe Jesus dit gedoen het, en nou verwag Hy dat ons dit sal doen.
            Ons woorde kan ook reining en genees, solank dit sout is.
            Ons is die sout van die aarde. Daar moet ‘n heilsame invloed vanaf ons uitgaan… in ons huise, by die werk. Ons leefwyse moet skadelike invloede uit die weg ruim, die lug suiwer.
            Sout is wit en rein. Jesus sê ons, ek en jy, is die sout van die aarde. Dan moet ons wit en rein wees, in woord en in daad. Paulus sê vir Timotheus: “Hou jou rein.” 1 Tim 5:22.
            Jesus sê: “Salig is die wat rein van hart is want hulle sal God sien.” Matt 5:8.
            Ook ons gedagtes moet rein wees. “…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efes 4:22-24
            Sout bewaar teen bederf. So beskerm ons, ons botter, ons vleis, biltong, droë wors, kouie vleise, vis, brood, ens. So moet die Gelowige ook ‘n invloed, ‘n krag ten goede hê. Daar moet ‘n bederfwerende heilsaamheid vanaf ons uitgaan.
            Moenie weer sê iemand is ‘n diep of ‘n groot Christen nie, sê eerder hy of sy is sout van die aarde. En bevraagteken jouself onmiddellik: Is jy sout?
            Straks was jy sout, maar nie meer nie. As sout laf geword het, dien dit geen doel meer nie. Laat die Woord gedurigdeur jou soutigheid bewerk.
            Vir sout om sy doel te kan dien, moet dit oral deeglik gestrooi word. ‘n Dierevel sal  nie hou as dit nie deeglik van hoek tot kant besout is nie.
            Wat ongelukkig op plekke gebeur is dat mense die sout op hope skraap en kerknaamborde daarin steek. Ek is by hierdie hoop, jy is by daardie hoop. Dis die situasie vandag, maar dis nie hoe dit hoort nie, dis nie hoe dit werk nie.
            Elke mens in jou omgewing of dorp wat jou grief, is ‘n ongeredde siel wat teen jou getuig. Daar’s te min sout. Bring nog sout.
            “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:13-016
Ons het ‘n ganse Suid-Afrika om te besout. – Sjibbolet 

Groot blydskap in die Hemel oor een bekeerde sondaar!


Image result for angels rejoicing in heaven


Bruce Crozier, 'n sewejarige seuntjie, het van sy pa se jagkamp in die Arizona berge af weggedwaal. Hy het ses dae en nagte na sy pa gesoek. Die nagtemperature was onder vriespunt. Bruce het snags onder hope droë boomblare ingekruip om warm te bly.  Hy had water in die berge.
Bruce het 50km van koers af verdwaal toe hy een dag pootuit en gehawend by ander jagters se kamp aankom. Sy pa en ‘n perdekommando van honderd man was op soek na hom, maar in ‘n heel ander rigting. Die jagters het die seuntjie versorg, na sy storie geluister en toe eers sy ma en daarna se pa op kommando gekontak.
In daardie stadium was beide ouers oortuig dat die seuntjie dood sou wees. Wilde diere sou hom verskeur het. Toe sy ma hom omhels het sy gesê: “Dit is byna onmoontlik om te glo dat ek my seun teruggekry het.” Maar die oomblik was eenvoudig te groot en sy het haar bewussyn verloor.
Toe Bruce se pa op kommando die nuus kry, en boonop hoor dat sy seun ongedeerd is, het ook hy bewusteloos inmekaar gesak.
Mens kan die skok begryp  wanneer hulle agterna vertel hoe hulle oortuig was die seuntjie is dood en hulle soek eintlik  na ‘n verskeurde lykie.
            Die Here Jesus het gesê: "Daar is blydskap in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer..." Luk 15”7. Hy probeer vir ons daardie blydskap beskryf uit 'n liefde wat ons ook ken: die liefde van 'n pa vir sy seun.
In die gelykenis van die verlore seun sê Jesus: "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom….Hy sê vir sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie… hy was verlore en ons het hom teruggekry!'" (Luk 15:20-30).
            As die Hemel so jubel oor een bekeerling, wat doen ons? Kyk weer na die prys wat betaal is sodat ek en jy gered kon word. In ons dag vind ons dat families skeef opkyk wanneer iemand met ‘n getuienis van redding by die huis aankom. Niemand jubel nie, daar word nie fees gevier nie, eerder praatjies gemaak. As jy nie grootste blydskap beleef oor een siel wat gered is nie, bevraagteken dan jou eie Christenskap.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag (nie hoop nie, jaag) die vrede na met almal, en die heiligmaking (hoekom?) waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15 – Sjibbolet

Gee jy om vir ‘n mossie?


"Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal." Ps 34:20.
            As kind het skrywer baie mossies met sy windbuks geskiet. Sedert sy redding nooit weer nie. Ek dra eerder vir hulle water en kos aan.
Voëltjies wat ek nooit oor my hart kon kry om te skiet nie, was die Dagbrekertjie, Kwikstertjie, ‘n Swaeltjie, ‘n Bosloerie en een of meer ander, maar mossies was volop. My ouma het gesê mossies verniel haar landerye en moet uitgeroei word.
Na my redding lees ek, ek is meer werd as ‘n mossie en dat die HERE weet van elke mossie wat ek geskiet het. Dit was erg. Het jy al belydenis gedoen oor ‘n mosssie?
"Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies" (Matt 10:29-31).

Displaying image003.jpg

Jesus stuur in Matt 10 Sy dissipels op 'n onbekende en gevaarlike sending. God ken hulle en hulle omstandighede baie goed, verseker Jesus hulle. Hy weet selfs hoeveel hare op elkeen se kop is. Hierdie sorgvuldige aandag en sorg van die Here is ons gerusstelling wanneer ons die Evangelie uitdra en straks teëspoed sou ervaar.
"…ek vertrou op U, want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede…" (Ps 31:10,15). God se krag en Sy insig in, en begrip vir, ons omstandighede is 'n blywende bemoediging.
Die ongeredde siele wat daagliks ons pad kruis, is vir die HERE almal meer werd as mossies. Die HERE is bewus van elke mossie wat val en ook van elke verlore siel.
Dit moet ons tot groot kommer strek dat daar mense sonder God en Sy  ryke  seëninge is.
En ons moet die oes inbring: Eseg 3:18-21. “Die oes is wel groot maar die arbeiders min...” Matt 37-38.
Wees ‘n lewende getuie vir die HERE en Sy reddende krag.
Bring die Blye Boodskap aan die ootmoediges; verbind die gebrokenes van hart, roep vir die gevangenes 'n vrylating en vir die geboeides opening van die gevangenis; troos die treurendes in Sion dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking. Jes 61:1-3
Staan vas in die gebed vir ‘n magtige Herlewing. – Sjibbolet

Skitter jy soos die Sterre...?


Image result for the stars

 "...dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre." Dan 12:3
Daar is uiteenlopende reaksie op vandag se artikel. Een Koningsdogter skryf: “Baie dankie, dit was so n kragtige en noodsaaklike oproep!”

‘n Ander skryf: “Dis onmoontlik om by elke Nagmaal nuwe siele te hê wat mens na die HERE toe gelei het.”


Ons reaksie:

“Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;
“Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
“Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
“En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
“En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
“En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:35-40

Woensdag 15 Julie 2015

Beproef die HERE...



2 Kor 9:6-15: "Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, ... God het die blymoedige gewer lief."

Meer as 100 jaar gelede het Henry Parsons Crowell tuberkulose opgedoen en kon nie meer skool toe gaan nie. Sy pa, ‘n suksesvolle skoenmaker, het op 36-jarige ouderdom aan tuberkulose gesterf en Henry self was erg  siek. Hy sou sy ideaal om 'n predikant te word nie kon verwesenlik nie.


Kort daarna hoor hy 'n preek deur D. L. Moody wat hom geïnspireer om ernstig te bid oor die gang van sy lewe. Hy het gebid: "Here, as ek nie 'n prediker van die Evangelie kan word nie, laat ek 'n goeie sakeman word. As U my sal laat geldmaak, sal ek dit in U diens gebruik."

'n Dokter het hom aangeraai om in die buitelug te werk om sy gesondheid te verbeter. Hy het die raad gevolg en na sewe jaar het sy kragte begin terugkom. Hy het die verwaarloosde hawermout meule, Quaker Oats Mill in Revenna, Ohio, gekoop. Nie lank nie of Henry se gehawende hawermeule groei uit sy nate. Getrou aan sy woord aan die Here het hy van die begin af sy tiende, 10% van sy inkomste, vir die Here gegee.

Binne 10 jaar was Quaker Oats 'n huishoudelike naam in die ganse Amerika. Vir die volgende 40 jaar het Henry Crowell 60% tot 70% van sy opbrengs vir die Here se werk gegee. "Bring die hele tiende na die skathuis ...en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie" (Mal 3:10).

Hoe meer geld hy vir die Evangelie gegee het, hoe meer geld het hy gemaak.

Henry het talle Christen projekte befonds, onder meer die Moody Bybelinstituut. Op 82-jarige ouderdom op 22 Oktober 1943 is hy Huis toe. Hy het per trein gereis met sy Bybel in sy hand, toe hy weg is. Hy het die Henry Parsons & Susan Coleman Crowell Trust nagelaat wat vir lank nog die Evangelie befonds het.

Komaan, beproef jy ook die HERE. – Sjibbolet

Die Onverwagte Besoeker



"...Ek was 'n vreemdeling en julle het my nie gehuisves nie...Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie." Matt 25:31-46
            Een dag in 1775 het die bestuurder van die grootste hotel in Baltimore, Amerika, herberg geweier aan 'n man wat soos 'n eenvoudige boer aangetrek was. Hy het gevrees die man se armoedige voorkoms sal die aansien van sy luukse hotel skade berokken.
Die man het niks gesê, net omgedraai en vertrek om elders vir hom herberg te kry.
Die volgende dag ontdek die bestuurder van die luukse hotel, dit was Thomas Jefferson, visie president van Amerika, wat hy van sy deur af weggewys het.


Thomas Jefferson

Hy het dadelik 'n boodskap aan Jefferson, een van die beroemdste mense in die wêreld, gestuur en gevra hy moet asseblief terugkom na sy hotel toe. Hy is baie welkom in sy hotel.
Jefferson het teruggeantwoord: "Ek stel u uitnodiging op prys, maar as u nie vir 'n arm Amerikaanse boer plek in u hotel het nie, dan het u ook nie plek vir die visie president van Amerika nie."
            Onthou julle toe ons op skool was en iemand met ‘n maatjie van jou skoorgesoek het... dan het jy voor jou maatjie ingespring en aan die aanvaller gesê: “Vat aan hom dan vat jy aan my!”
            Dis presies wat Jesus sê: “En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen'" (Mat.25:40).
Ons gedrag jeens medegelowiges moet altyd wees met die oog gerig op die Persoon van Jesus. Hoe bedagsaam, hoe welwillend, hoe verdraagsaam, hoe liefdevol, hoe opofferend, sal ons nie teenoor mekaar wees as ons onthou: "Wat ek aan 'n ander doen, doen ek aan Jesus."
Dit is maklik en aangenaam om aan 'n gesiene Gelowige goedheid en guns te betoon. Maar dan doen mens dit vir daardie persoon self. Tog verwag die HERE dat ons almal so sal behandel, want ons doen dit nie ter wille van ons self nie, maar ter wille van Jesus. Daardie Jesus wat ons binnekort kom ophaal. – Sjibbolet
·       Voor in sy Bybel het Jefferson geskryf: "I am a real Christian, that is to say, a disciple of the doctrines of Jesus. I have little doubt that our whole country will soon be rallied to the unity of our Creator."

Dinsdag 07 Julie 2015

Hierdie Vallei van Agor is juis ons Deur van Hoop!


Image result for God seen jou


Ons is in die moeilikheid. Ons is in die Vallei van Agor, die vallei van moeilikheid, van beroering. Dis so erg dat mens nie eers aan die toekoms kan dink nie.

            Maar in Hosea 2:14 sê die HERE: Hierdie Vallei van Agor is juis ons deur van hoop.
            Dit is vir sommige van ons ‘n probleem om vir onsself uit te werk... die feit dat hierdie moeilikheid waarin ons is, nie deur ons as moeilikheid gesien moet word nie, maar as ons Deur van Hoop!
            Oordink hierdie woorde: “Hierdie Vallei van Agor is eintlik ons deur van hoop”. Dink dag en nag daaraan, noem dit in elke gebed. Leef in afwagting. Wees soos ‘n kind wat deur sy ma ‘n roomys beloof is. Dis al waaraan hy dink en waaroor hy praat, hierdie nuwe hoop.
            Omdat ons nou weet dat daar hoop is, moet ons terugkeer na die “Hoopvolle Vesting” (hoekom?) want God wil ons dubbel vergoed! Sag 9:12
            God wil dat ons as mense, as Sy kinders, hoop op ‘n aaneenlopende grondslag moet beleef en geniet. Nie hoop soos in “dalk” nie, maar hoop soos in “toekoms-feit”, want God sê daar is hoop.
            God sê hierdie Agor is nie wat ons sien en beleef nie, dis eintlik ons Deur na Hoop! Sien, hoor en praat nie meer oor die moeilikheid nie want vir ons is dit nie moeilikheid nie, vir ons is dit ‘n Deur van Hoop!
            Die Almagtige God is die God van hoop. Hoop is een van die gawes wat God aan ons skenk, vandaar ook die Afrikaanse spreekwoord dat “die hoop sal nooit beskaam nie!”
            Nogtans verval ons soms in wanhoop en word ons mismoedig.
            Mismoedigheid  is veronderstel om vir die Christen ‘n kortstondige moment te wees op pad terug na hoop.
            Ons het hoop as integrale deel van ons bestaan nodig want ons kan nie sonder hoop lewe nie.
            Sonder hoop voel dit vir ons of die lewe nie die moeite werd is nie.
            Wanneer ons hoop het, dan voel ons soos wat God ons gemaak het. Sonder hoop voel ons soos ‘n regte ou nikswerd – totdat ons besef, daar is hoop!
            Daar is hoop! Dit maak nie saak wat jou omstandighede is en watter probleme jy in die gesig staar nie: Daar is beslis hoop. Solank jy nog lewe en asemhaal is daar hoop.
            Omstandighede kan verander. “Want solank iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop.” – Pred. 9:4.
            “’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” – Pred. 9:4.
            Luister weer, wat jou omstandighede ook al mag wees, al staar jy die dood in die gesig, is daar hoop.
            Al het jy jouself afgeskryf en heeltemal moed opgegee, is daar hoop, want jy is heel waarskynlik in jou huidige situasie omdat jy jouself daarin geplaas het.
            Onthou, ander mense raak ook mismoedig, soos Koning Salomo. Hy was die mees wyse man wat ooit geleef het.  Hy was ‘n magtige koning, en selfs hy net by ‘n plek in sy lewe gekom waar hy gevoel het dit beter sou wees om liewer dood te wees. – Pred. 4: 1-2.
            Selfs Dawid het in wanhoop verval in Ps. 142:3.
            Natuurlik kom daar tye en omstandighede in ons lewens wat ons spreekwoordelik op moedverloor se vlakte laat sit. Ons kan maar daar sit, maar hoop verlaat ons nooit nie. Daar is altyd hoop, want God het dit beloof!
            As jy moedverlore sou word, dink maar daaraan dat jy in belangrike geselskap soos die van Koning Salomo en Koning Dawid is.
            Daarom durf ons nie in ‘n staat van ontmoediging bly nie. Ons moet die kole van hoop aanblaas tot ’n magtige hoopvolle vuur.
            Jy mag redeneer dat dit moeilik is om begrip vir bovermelde redenasie te hê.
            Dink weer ‘n keer: Daar is mense wat sê hulle sal sterwe vir Christus. Klink nogal edel né. Die waarheid is dat God nie verlang dat jy vir Hom moet sterwe nie, maar juis vir hom moet Lewe!
            Lewe om ander te bemoedig. Lewe om die gevangenes en die siekes te besoek, die ellendiges op te help, jou man, jou vrou, jou kinders lief te hê, die Lewegewende Evangelie te verkondig, om Christus voor die mens te bely.
            Waar daar lewe is, is daar hoop, sê ons altyd. Maar selfs in die dood is daar hoop want ‘n Christen gaan nie dood nie, hy het die Ewige Lewe.
            In die Vallei van Agor gaan alles tot niet, maar Hoop lei tot verandering, tot restourasie, tot nuwe lewe, tot nuwe moed, ‘n nuwe visie, ja, tot ‘n totale metamorfose!      
            Verandering verwyder die haat, die nyd en die liefdeloosheid uit jou lewe.  Hoop herstel huwelike.
            Hoop sê: “Staan op, neem jou bed op en loop!” – John. 5:8.
            Die besluit om hoop te aanvaar berus egter by jouself. Jy moet die keuse maak.
            Hoop sê:  “As jy (as Christen gestruikel het) jou sondes bely, Hy is getrou en regverdig om jou, jou sondes te vergewe, en (boonop) jou van alle ongeregtigheid te reinig. – 1 Joh. 1:9.
            Heb. 7:19 sê:  “… daar is die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader.”
            Hoop sê in Sag. 9:12: “Keer terug na die vesting o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed!”
            Hoop sê in Klaagl 3:21-26: “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:  dit is die goedertierenheid van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want Sy barmhartigheid het geen einde nie (let op:  geen einde nie); dis elke more nuut; U trou is groot!
            “Die HERE is my deel, sê my siel, daarop sal ek op Hom hoop. God is die HERE vir diegene wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE!”
            Hoop sê in Heb. 6:18-19: “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename (dis ek en jy as Christene) van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg:
            “Sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel, wat veilig en vas is en ingaan tot die binnekant van die voorhangsel.”
            Dit is noodsaaklik dat jy ‘n studie maak van Heb. 6.  Dit staan bekend as die hoop hoofstuk.
            In Joël 2 doen hoop ‘n ernstige beroep tot bekering, want daar is hoop en in Joël 2:25 kom die genadige en regverdige God en sê hy sal diegene wat terugkeer na die hoopvolle vesting vergoed vir die jare wat die sprinkane verslind het.
            Komaan, glo God, beweeg deur die Deur van Hoop ‘n nuwe toekoms binne. – Sjibbolet
                       

Vrydag 03 Julie 2015

Die grootste Geloofstoets... bly aan boord




Gelowiges sterf in die jongste tyd op die mees wreedaardigste wyses. Wie The Passion of the Christ gesien het, sal besef hoe afgryslik Jesus Christus se sterwe was.
            Die apostels had dit ook nie maklik nie. Dit is egter nie so belangrik hoe die apostels gesterf het nie. Wat belangrik is, is die feit dat hulle almal gewillig was om vir hulle geloof te sterf.
            Dit is ook wat in Noord-Afrika en die Midde-Ooste gebeur... Gelowiges, selfs kindertjies, is bereid om vir hulle geloof te sterf. Hulle word met swaarde onthoof en doodgeskiet.
            Die enigste twee apostels wie se dood in die Bybel aangeteken is, is Jakobus in Hand 12:2. Koning Herodes het Jakobus “met die swaard omgebring.” Hy is waarskynlik onthoof.
            Die ander was Judas Iskariot. Daar is verskeie weergawes van Judas se dood, maar die volgende is die mees aanvaarbare. Na Jesus se verhoor gebeur die volgende: “Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!
            “En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.
            “En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is.
            “En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe.
            “Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.” Matt 27:3-10
            Hoe die ander dood is, kom deur oorlewering. Die algemeenste aanvaarde kerkoorlewering oor die dood van ‘n apostel, is dat Petrus onderstebo aan ‘n  kruis in Rome gesterf het in vervulling van Jesus se profesie (Joh 21:18).
            Matteus, was ’n belastinggaarder wat ’n Evangelis geword het. Hy was ’n martelaar in Etiopië en is uiteindelik met die swaard gedood.
            Lukas, was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.
            Petrus, is onderstebo gekruisig. Volgens tradisie het hy dit só versoek aangesien hy homself onwaardig beskou het om op dieselfde manier as sy Meester te sterf.
            Markus, was die stigter van die kerk in Alexandrië in Egipte. Hy het toe ook daar gesterf nadat hy met perde deur die strate gesleep is.

Johannes, is in olie gekook, maar het wonderbaarlik aan die dood ontkom. Hy het in vrede gesterf op die eiland Patmos, waar hy die Openbaring-boek geskryf het.
            Jakobus die Regverdige: Hy het geweier om sy geloof te ontken, is by die Tempelmuur afgegooi, het oorleef en is met ’n knuppel doodgeslaan.
            Paulus het gedurende sy leeftyd gevangenisskap, afranselings en skipbreuk deurgemaak. Hy is gemartel en toe deur Keiser Nero van Rome in 67 n.C. onthoof.
            Andreas, is in Griekeland gekruisig. Nadat hy gegesel is, is sy liggaam aan ’n kruis vasgemaak. Hy het vir sy martelaars bly preek totdat hy na twee dae gesterf het.
            Jakobus die Grote, was bekend as Seun van die Donder. Hy het Spanje evangeliseer en is die Beskermheilige van Spanje. Hy is deur Herodus Agrippa onthoof.
            Bartolomeus, het ook as Nataniël bekend gestaan en was ’n sendeling in Asië (waar Turkye vandag is). Hy is in Armenië gemartel en tot die dood toe gegesel.
            Thomas, is ook bekend as die Ongelowige Thomas. Hy is met ’n spies op een van sy sendingreise na Indië doodgesteek. Hy het daar ’n kerk gevestig.
            Mattias, is in die plek van Judas Iskariot gekies. Hy het onder die kannibale gewerk en die verslae oor sy dood wissel van steniging en kruisiging tot onthoofding.
            Oor al hierdie gebeure en toekomstige gebeure sê die Skrif: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
            “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
            “Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
            “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
            “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
            “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
            “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
            “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Matt 24:6-13 – Sjibbolet
Gelowiges – bly lojaal, selfs te midde van hierdie heersende storm...

In Handelinge 27 ontvou ‘n drama in fynste besonderhede. Alles geskied in die donker nag sonder maan en sterre in ‘n verwoede storm op see. Kanse op oorlewing bestaan feitlik nie.
 

Hand 27 beskryf in sy geskrewe drama dit wat al die Eindtyd temas uitbeeld:
Die bemanning is uitgeput, verlate, moedeloos en skuldig aan pligsversuim. Hulle het alle hoop opgegee.
In Paulus sien ons toegewydheid en ‘n getroue nagwaak aan diens. Paulus sien hoe hierdie byna skandelike toneel voor hom afspeel, en hy keer net betyds.
Die Christendom bevind hom vandag op ‘n soortgelyke lewens stormsee. Gelowiges is uitgeput, voel verlate, is moedeloos en jou waarlik skuldig aan pligsversuim. Hulle poog om dieselfde te doen as die bemanning op die boot by Paulus... Hulle plaas hulle hoop op die Wegraping, so asof die Wegraping hulle moet uitred, pleks van die storm self die stryd aan te sê... deur lojaal te bly aan ons Skeepskaptein.
            So wou die bemanning ook die boot verlaat. Vrees het hulle oorval. Die boot het in daardie stadium net weggedryf in die storm. Hulle had geen beheer daaroor nie.
            Lees maar eers self Hand 27. Hulle gee heeltemal moed op. “En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en 'n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem.” Hand 27:20
           Hoe lyk ons stormsee? “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?
            “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!...
Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (aan boord bly) Ps 2
            Honderde duisende Christene vlug voor die Islamitiese Staat en sy tentakels. Dis ‘n bittere stryd om oorlewing. Sommige moet deur woestyne vlug. Vroue en kinders word verkrag en as seksslawe verkoop.
            Die VN se statistiek toon dat daar verlede jaar 800 000 mense op die wêreldmarkte verhandel is, sommige meisies selfs vir ‘n pakkie sigarette. Jong seuntjie se geslagsdele word uitgeslag en hulle word in ‘n verblindende woestyn son gelaat om dood te bloei. Agtjarige meisies word deur bendes verkrag, aldus die nuusmedia. Gelowiges word in die openbaar onthoof en ander in die agterkop doodgeskiet.
            Dit is alles deel van die ontsettend stormagtigheid waarin die wêreld hom bevind.
            Die jongste statistiek toon dat daar oorlog in 65 lande woed en dat 650 militêre guerrillas en separatiste groepe daaraan deelneem.
            Ter plaatse duur die verkragting en moorde tesame met ander misdaad soos gewapende roof, voort.
            Vrees versprei soos ‘n pessiekte vanuit die hel en oorweldig die mensdom. Die enigste teenmiddel vir vrees is nie hoop op die wegraping nie, maar op die Liefde van God!
            God sê ons moet by Hom skuil. Om te skuil is om diep weg te kruip, dieper in ons bloedverbond en gehegtheid aan Hom.
            Ons het ‘n oplossing. Ons is geroep tot ‘n hoër roeping in Christus Jesus: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
            “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
            “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
            “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.
            “As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
            “En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” 1 Joh 16:21
            Die Wederkoms vind nie plaas omdat ons in vrees en bewing leef nie, maar omdat ons Jesus Christus liefhet en met ons hele hart reikhalsend uitsien na sy Koms.
            Ons dink aan die ongeredde en die lou Gelowiges en ons bid sonder ophou: Here Jesus Christus help, red uit, asseblief!
            Dit gaan nie vir ons as ware Gelowiges om oorlewing nie. Ons het die Ewige Lewe. Ons het dit reeds ontvang by die Wedergeboorte. Ons beleef reeds die Ewige Lewe.
            Ons soek nie na ‘n veilige passaat uit hierdie storm nie. Ons bly lojaal aan ons Skeepskaptein en aan die bemanning.
            Onthou, Hy kom om Sy Bruid te kom haal... sonder vlek of rimpel. – Sjibbolet

Wat verlore is moet ten alle koste gevind word


Image result for liefde wen

·  
Vind ook jouself...



In Lukas 15 word drie verhale vertel: Die een oor die herder (Jesus) wat 100 skape gehad het. Toe een daarvan wegraak het hy die 99 gelos en daardie verlore skaap gaan soek.
            In die tweede storie verloor ‘n vrou (die Bruid) een van haar 10 pennings. Sy steek ‘n lamp (openbaring) op, en vee die huis om die verlore muntstuk te soek.
            In die derde verhaal is die bekende Verlore Seun wat ook verlore was, maar uiteindelik keer hy self huis toe.
            Ons het dus ‘n verlore skaap, ‘n verlore penning en ‘n verlore seun. Die drie verhale begin by 100, dan 10 en dan een plus een.
            In die eerste verhaal vind die HERE die skaap en kyk wat gebeur dan:
            “En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. (Die skaap was afgedwaal, moeg, honger, dors, verwese en dit word teruggedra)
            “En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.
            “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” Luk 15:5-7
            Die tweede storie van die verlore penning gaan oor geld. Binne die gemeente moet daar wys met die geld gewerk word. Kyk wat gebeur hier:
            “Of watter vrou (Die Bruid, die Liggaam) wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
            “En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het (binne die huis).
            “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die Engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Luk 15:8-10
            Die verhaal dui dus op geld en verwys ook na verlore sondaars.
            Geld kan baie probleme skep. Daar is niks mee verkeerd om R10 miljoen in die bank te hê nie, maar as die R10 miljoen jou het, wag groot probleme op jou.
            Die verlore skaap en die verlore penning word gevind en daar is groot blydskap in die Hemel. Die verlore skaap en penning is dus geheilig en daarom is die ander 90 skape en die ander pennings ook geheilig.
            In die geval van die laaste verhaal, fokus almal gewoonlik net altyd op een seun, maar die verhaal begin vertel van twee seuns… die een is so belangrik soos die ander.
            Die een seun het sy eie koers ingeslaan, sy fout byna te laat agtergekom en teruggekeer. Ook in dié verhaal word groot fees gevier met die terugkeer van die eens verlore seun.
            Maar let op hoe gaan die ander seun homself te buite oor die manier waarop sy verlore broer terug verwelkom word. Dis om van ween.
            En dit gebeur vandag nog wanneer ‘n eens verlore broer of suster terugkeer na die gemeente. Daar is ‘n groep vol blydskap oor sy terugkeer, maar daar is die ander wat glad nie gelukkig is met die manier waarop die verlorene terug verwelkom word nie.
            Daar word in die terug gevallene se foute vasgekyk, pleks van sy verlossing en oorwinning!
            Oor die verlore seun sê die Vader: “Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” Luk 15:24. Daar was ook vrolike musiek en beurtsange.
            Terwyl dit alles gebeur het, was die ander seun in die veld. Met sy tuiskoms vra hy aan die diensknegte wat is gaande en hulle vertel hom sy broer het teruggekom.
            “En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom.
            “Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.
            “Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.
            “Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.
            “Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.” Luk 15:28-32
            Die lede wat in die gemeente tuisgebly het, moet oplet wat met die verlore broer/suster gebeur het: Want God het hom of haar vergewe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12
            Noord en suid is sowat 19 200 km van mekaar af, maar die afstand tussen oos en wes, is onmeetbaar. Die een wat terugkom is bloedgewas, sy sondes vergewe, van elke ongeregtigheid gereinig. 1 Joh 1:9
            Ons wat tuisgebly het durf nooit na die verlore broer of suster se verlede te verwys nie. Nooit nie!
            Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8.
Die skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.
Is dit moontlik om onsself lief te hê?
            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.
            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.
Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”
            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
           Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.
           Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?
           Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.
           Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, maar “hê jou naaste lief soos jouself.”
            Die drie verhale gaan oor niks mag verlore gaan nie.
            Die broer wat tuis gebly het, was meer verlore as sy broer wat die voetpad van die wêreld ingeslaan het.
            Sorg dat jy jouself lief het, dan sal jy ander asook vir God liefhê... met jou hele hart... – Sjibbolet

Jou tiendes seën selfs jou nageslag wat nog in jou lende is…


 Image result for south african money


Gelowiges leef onder die Genade en nie onder die Wet nie, maar tiendes was nooit deel van die Wet nie, nie in die Ou- of die Nuwe Testament nie. Ons vereer die HERE met lofsange, offerandes en tiendes. Tiendes het met liefde te doen.
Ons kan tel hoeveel sade daar in ‘n appel is, maar ons kan nooit weet hoeveel appels in die sade is nie, nie voordat ons die sade plant nie. Dieselfde geld vir ‘n mieliekop. Jou tiende moet gesaai word, anders sal jy nooit weet wat die opbrengs sal wees nie.
Dit beteken dat wanneer ons saai, moet ons ‘n oes te wagte wees. Alle boere saai, juis omdat hulle ‘n oes te wagte is… en hoe meer hulle saai, hoe groter die oes.
            Let op: “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon (geld), sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
            “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
            “As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?” Luk 16:9-11
            Geld is onheilig, onrein, maar wanneer ons dit aan die HERE gee, dan word dit geheilig. Wees getrou in die gee van jou tiende en offerande en jou totale inkomste word geheilig en geseën.
            As ons nie getrou is in die gee van ons tiendes nie, is die volgende van toepassing: “En as julle nie getrou was in 'n ander (die HERE) se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?” Luk 16:12
            Die profeet Maleagi sê: “Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?
            Ons moet die eerste skuif maak en na Hom toe teruigkeer, want Hy wil na ons toe terugkeer… hoe moet ons terugkeer?
“Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.
“Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
“Bring die hele tiende na die skathuis (hoekom?), sodat daar spys in my huis kan wees; en (let op)beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.
“Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
“En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.” Mal 3:7-12
Dis duidelik, bring ons, ons kant, bring God sy kant… en Hy bring elke keer in oorvloed.
            Let verder op: “En Melgisédek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van Hemel en Aarde.
“En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.” Gen 14:18-20
Melgisédek was ‘n priester van God (soos wat ons veronderstel is om te wees). Hy seën Abraham.
In Hebr 7 gee Abraham aan Melgesédek ‘n tiende. Dan raak Levi betrokke by die tiendes… maat let op, Levi is ‘n agterkleinkind van Abraham (hy het uit die lende van Abraham voortgekom het).
Levi was soos Abraham ook ‘n buitengewone geseënde man. Juis hier sien mense dat Levi geseënd was omdat hy aan Abraham tiende gegee het… dat Levi reeds geseënd was terwyl hy nog in Abraham se lende was… nog voordat hy gebore was, was hy al geseënd.
So sal ons nageslag in ons lende ook geseënd wees as ons – nie wetties nie – maar onder die verbond van Genade ook tiendes en offerende gee.
Baie belangrik: As ons ‘n tiende en offerhande van ons inkomste gee, dan is die res van ons inkomste ook geseën: “En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.” Rom 11:16
Lees ook: Hebr 7:5-10 “Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel 'n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.
“Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.
“En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.
“En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.”
Ons is nou die besitter van die Beloftes, dis noodsaaklik dat ons tiendes en offerhande gee.
As jy nog nooit tiendes en offerende gegee het nie, maak die saak met die HERE uit, want Hy belowe in liefde en genade: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9…  en begin dan jou tiendes en offerande gee en beproef die HERE hierin.
‘n Gelowige wat nooit tiende gegee het nie, het – toe hy hierdie groot geheim, waarheid ontdek – lank gaan sit en somme maak om te bepaal met hoeveel hy die HERE beroof het en besluit om die enorme bedrag aft e betaal.  Nee, jy hoef niks terug te betaal nie, maak net jou saak met die HERE reg en begin tiendes gee. Dis al.
Dit is oor en oor bewys dat diegene wat hul tiendes en offerhande gee, in oorvloed ontvang en selfs dat, hoe meer hulle gee, hoe meer ontvang hulle.  – Sjibbolet