Wys tans plasings met die etiket heiligmaking; Christus; Godsdiens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket heiligmaking; Christus; Godsdiens. Wys alle plasings

Vrydag 03 Julie 2015

Die grootste Geloofstoets... bly aan boord




Gelowiges sterf in die jongste tyd op die mees wreedaardigste wyses. Wie The Passion of the Christ gesien het, sal besef hoe afgryslik Jesus Christus se sterwe was.
            Die apostels had dit ook nie maklik nie. Dit is egter nie so belangrik hoe die apostels gesterf het nie. Wat belangrik is, is die feit dat hulle almal gewillig was om vir hulle geloof te sterf.
            Dit is ook wat in Noord-Afrika en die Midde-Ooste gebeur... Gelowiges, selfs kindertjies, is bereid om vir hulle geloof te sterf. Hulle word met swaarde onthoof en doodgeskiet.
            Die enigste twee apostels wie se dood in die Bybel aangeteken is, is Jakobus in Hand 12:2. Koning Herodes het Jakobus “met die swaard omgebring.” Hy is waarskynlik onthoof.
            Die ander was Judas Iskariot. Daar is verskeie weergawes van Judas se dood, maar die volgende is die mees aanvaarbare. Na Jesus se verhoor gebeur die volgende: “Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!
            “En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.
            “En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is.
            “En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe.
            “Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.” Matt 27:3-10
            Hoe die ander dood is, kom deur oorlewering. Die algemeenste aanvaarde kerkoorlewering oor die dood van ‘n apostel, is dat Petrus onderstebo aan ‘n  kruis in Rome gesterf het in vervulling van Jesus se profesie (Joh 21:18).
            Matteus, was ’n belastinggaarder wat ’n Evangelis geword het. Hy was ’n martelaar in Etiopië en is uiteindelik met die swaard gedood.
            Lukas, was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.
            Petrus, is onderstebo gekruisig. Volgens tradisie het hy dit só versoek aangesien hy homself onwaardig beskou het om op dieselfde manier as sy Meester te sterf.
            Markus, was die stigter van die kerk in Alexandrië in Egipte. Hy het toe ook daar gesterf nadat hy met perde deur die strate gesleep is.

Johannes, is in olie gekook, maar het wonderbaarlik aan die dood ontkom. Hy het in vrede gesterf op die eiland Patmos, waar hy die Openbaring-boek geskryf het.
            Jakobus die Regverdige: Hy het geweier om sy geloof te ontken, is by die Tempelmuur afgegooi, het oorleef en is met ’n knuppel doodgeslaan.
            Paulus het gedurende sy leeftyd gevangenisskap, afranselings en skipbreuk deurgemaak. Hy is gemartel en toe deur Keiser Nero van Rome in 67 n.C. onthoof.
            Andreas, is in Griekeland gekruisig. Nadat hy gegesel is, is sy liggaam aan ’n kruis vasgemaak. Hy het vir sy martelaars bly preek totdat hy na twee dae gesterf het.
            Jakobus die Grote, was bekend as Seun van die Donder. Hy het Spanje evangeliseer en is die Beskermheilige van Spanje. Hy is deur Herodus Agrippa onthoof.
            Bartolomeus, het ook as Nataniël bekend gestaan en was ’n sendeling in Asië (waar Turkye vandag is). Hy is in Armenië gemartel en tot die dood toe gegesel.
            Thomas, is ook bekend as die Ongelowige Thomas. Hy is met ’n spies op een van sy sendingreise na Indië doodgesteek. Hy het daar ’n kerk gevestig.
            Mattias, is in die plek van Judas Iskariot gekies. Hy het onder die kannibale gewerk en die verslae oor sy dood wissel van steniging en kruisiging tot onthoofding.
            Oor al hierdie gebeure en toekomstige gebeure sê die Skrif: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
            “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
            “Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
            “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
            “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
            “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
            “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
            “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Matt 24:6-13 – Sjibbolet
Gelowiges – bly lojaal, selfs te midde van hierdie heersende storm...

In Handelinge 27 ontvou ‘n drama in fynste besonderhede. Alles geskied in die donker nag sonder maan en sterre in ‘n verwoede storm op see. Kanse op oorlewing bestaan feitlik nie.
 

Hand 27 beskryf in sy geskrewe drama dit wat al die Eindtyd temas uitbeeld:
Die bemanning is uitgeput, verlate, moedeloos en skuldig aan pligsversuim. Hulle het alle hoop opgegee.
In Paulus sien ons toegewydheid en ‘n getroue nagwaak aan diens. Paulus sien hoe hierdie byna skandelike toneel voor hom afspeel, en hy keer net betyds.
Die Christendom bevind hom vandag op ‘n soortgelyke lewens stormsee. Gelowiges is uitgeput, voel verlate, is moedeloos en jou waarlik skuldig aan pligsversuim. Hulle poog om dieselfde te doen as die bemanning op die boot by Paulus... Hulle plaas hulle hoop op die Wegraping, so asof die Wegraping hulle moet uitred, pleks van die storm self die stryd aan te sê... deur lojaal te bly aan ons Skeepskaptein.
            So wou die bemanning ook die boot verlaat. Vrees het hulle oorval. Die boot het in daardie stadium net weggedryf in die storm. Hulle had geen beheer daaroor nie.
            Lees maar eers self Hand 27. Hulle gee heeltemal moed op. “En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en 'n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem.” Hand 27:20
           Hoe lyk ons stormsee? “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?
            “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!...
Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (aan boord bly) Ps 2
            Honderde duisende Christene vlug voor die Islamitiese Staat en sy tentakels. Dis ‘n bittere stryd om oorlewing. Sommige moet deur woestyne vlug. Vroue en kinders word verkrag en as seksslawe verkoop.
            Die VN se statistiek toon dat daar verlede jaar 800 000 mense op die wêreldmarkte verhandel is, sommige meisies selfs vir ‘n pakkie sigarette. Jong seuntjie se geslagsdele word uitgeslag en hulle word in ‘n verblindende woestyn son gelaat om dood te bloei. Agtjarige meisies word deur bendes verkrag, aldus die nuusmedia. Gelowiges word in die openbaar onthoof en ander in die agterkop doodgeskiet.
            Dit is alles deel van die ontsettend stormagtigheid waarin die wêreld hom bevind.
            Die jongste statistiek toon dat daar oorlog in 65 lande woed en dat 650 militêre guerrillas en separatiste groepe daaraan deelneem.
            Ter plaatse duur die verkragting en moorde tesame met ander misdaad soos gewapende roof, voort.
            Vrees versprei soos ‘n pessiekte vanuit die hel en oorweldig die mensdom. Die enigste teenmiddel vir vrees is nie hoop op die wegraping nie, maar op die Liefde van God!
            God sê ons moet by Hom skuil. Om te skuil is om diep weg te kruip, dieper in ons bloedverbond en gehegtheid aan Hom.
            Ons het ‘n oplossing. Ons is geroep tot ‘n hoër roeping in Christus Jesus: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
            “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
            “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
            “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.
            “As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
            “En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” 1 Joh 16:21
            Die Wederkoms vind nie plaas omdat ons in vrees en bewing leef nie, maar omdat ons Jesus Christus liefhet en met ons hele hart reikhalsend uitsien na sy Koms.
            Ons dink aan die ongeredde en die lou Gelowiges en ons bid sonder ophou: Here Jesus Christus help, red uit, asseblief!
            Dit gaan nie vir ons as ware Gelowiges om oorlewing nie. Ons het die Ewige Lewe. Ons het dit reeds ontvang by die Wedergeboorte. Ons beleef reeds die Ewige Lewe.
            Ons soek nie na ‘n veilige passaat uit hierdie storm nie. Ons bly lojaal aan ons Skeepskaptein en aan die bemanning.
            Onthou, Hy kom om Sy Bruid te kom haal... sonder vlek of rimpel. – Sjibbolet