Donderdag 26 Mei 2016

Is jou lamp brandend?


Image result for burning lamp


Een stikdonker nag, sien die wag by 'n spooroorgang 'n motor teen hoë spoed die treinoorgang nader. 'n Trein is ook vinnig aan die kom.
            Hy gryp sy lamp en hardloop na die oorgang toe. Heeltyd skreeu hy en swaai sy lamp.
Die motoris verminder nie spoed nie. Die trein jaag oor die motor en die motoris sterf.
Die hekwag word voor die hof gedaag. Die staatsaanklaer wou weet: “Het jy, of het jy nie, die lamp geswaai om die motoris te waarsku nie?”
Met bewende lippe antwoord die hekwag: “Edelagbare, voor God, sweer ek en verklaar ek, ek het die hele tyd aanmekaar die lamp geswaai.”
Hy is ontslaan.
Na die saak verby is, vra een van sy beste vriende hom: “George, hoekom het jy so hewig gebewe toe jy jou getuienis gegee het?” George antwoord: “Ek hét die lamp geswaai soos ek getuig het, maar mag God my vergewe, daar was nie lig in die lamp nie.”
Dalk was die lampolie gedaan, dalk het die pit te kort geword. Maar die feit bly staan, die swaaiende lamp in sy hande kon nie waarsku nie. Die lig was dood.
            In baie plekke van aanbidding waar die Goeie Nuus en die waarskuwings oor die Evangelie gehoor moet word, is daar geen lig in die lamp nie.
            In jou werkplek, op universiteit en die skool, op die plaas verwag die HERE dat jy ‘n brandende lamp moet wees.
            Sonder ‘n lig in die lampe gaan groot getalle mense oor die ewige afgrond van totale vernietiging.
            Voordat God ons gebede en smeekbede sal antwoord, moet ons eers lig in ons lampe kry.
            “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:13-16
Skyn jou lamplig nie? “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. 2 Kron 7:14 –  Sjibbolet