Vrydag 13 Mei 2016

Moenie die tak afsaag waarop jy sit nie...


Image result for dont cut the branch you are sitting on


Moenie die tak afsaag waarop jy sit nie. Diegene wat die Skrifte nie ken nie raak verbouereerd omdat hulle gebede nie beantwoord word nie, dan begin hulle links en regs fout vind en blameer. Murmurering het nog nooit, ook nie in die Bybel se tyd, enige antwoorde opgelewer nie.
            Dan saag hulle die tak af waarop hulle sit  en volgende is hulle uit die gemeente, selfgeregverdig in eie waan.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
            Los die saag en die murmurering, en sing lofliedere, want geseënd is jy in die naam van Jesus Christus! O ja, jy is beslis geseënd. Let op die volgende:
            Moenie bid vir seëninge nie (hoekom nie), want God het “ons geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.
            Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.
            Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, (hoekom?) sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, (wann3eer?) nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.
In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.
            Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.
            Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Verkeer jy in benoudheid, in ellende? Dan stel Paulus en Silas vir ons die voorbeeld: Lofliere... en die kettings val af en die deure gaan maak oop.
            Ons glo SA is op die rand van ‘n grootse Herlewing... laat die lofliedere weerklink. -- Sjibbolet