Maandag 09 Mei 2016

Hou net aan met klop...


Image result for person knocking on a door

Jy bid vir die redding van jou gesin, vir die redding van sekere familielede en selfs vir die redding van sekere vriende.
            ‘n Vriend vertel: So het my ouma ook haar lysie gehad en vroegdag elke dag op haar aangesig voor God op ‘n matjie in haar slaapkamer gaan lê en getrou gebid.
            Sy het nie daar opgestaan voordat sy nie’n salwing van die Heilige Gees beleef het nie.
            My naam was ook op die lysie, maar ek sou dit eers heelwat later ontdek.
            Ek was onder die invloed van baie drank en dwelms. Dit het erger geword toe ek alles in die lewe verloor het, letterlik alles.
            Een middag strompel ek na die kafee op die hoek om sigarette te koop. Op pad daarheen hoor ek duidelik ‘n stem langs my wat uitdruklik se: “As ‘n wingerstok nie vrug dra nie, word hy uitgekap en verbrand.” Net dit.
            Ek was soos gewoonlik onder die invloed van drank en dwelms, maar daardie stem en die waarskuwing sal ek nooit kan vergeet nie.
            Ek het voort gestrompel en die sigarette gaan koop, en diep bekommerd huis toe gestrompel. Die huis is teen ‘n verlies verkoop.
            Dan is alles mos verby, het ek gedink.
            Terug by die huis raak ek deur die dag nie verder aan drank of dwelms nie. Ek het op die stoep gaan staan en ‘n sigaret gerook. Toe ek die stompie in die tuin wou skiet, het dit nie geval nie, dit het het net aanhou deur die lug trek. Dit was vreemd en ek was bang.
            Ek het die hele middag en aand in my studeerkamer deurgebring, dinkende hopende op ‘n plan... ‘n plan vir wat ook al.
            Uiteindelik besluit ek op selfmoord en beplan. Dit sou dodelik wees en gou en sonder ‘n vuurwapen.
            Toe ek die studeerkamer wou verlaat om te gaan selfmoord pleeg, staan daar ‘n reuse Engel die hele deur vol en ek besef instinktief: Hier kom geen mens verby nie. Ek is vasgekeer.
            Ek het begin huil. Die frustrasie was erg. Nes ek om die deur loer, is die Engel steeds daar. Ek is verboureerd.
            Ek blaai deur ‘n ou koerant en daar in ‘n klein advertensietjie staan: “As jy geestelike hulp of gebed verlang, skakel 012....”  Ek skakel. ‘n Vrou antwoord. Ek vertel ek wil selfmoord pleeg, maar hier is ‘n Engel in my pad.
            Die vrou het net begin bid en bind en bestraf en vrygespreek. Ek was verstom want ek het nog nooit so iets beleef nie. Ek het nie geweet wat om te antwoord nie... net die foon neergesit toe sy sê ek moenie huiwer om weer te bel nie.
            Ek stap na die deur en die Engel was weg. Toe na my slaapkamer waar ek die Bybel optel en begin lees van die blinde man van Jerigo.
            Daar was altyd ‘n Bybel in die huis, maar dit het eerder stof vergaar. Die blindeman roep: “HERE, HERE, Seun van Dawid, wees my barmhartig.”  Sekeres het hom stilgemaak want Jesus was op pad na ‘n afspraak. Toe skreeu hy harder...
            Ek sak op my knieë en van nie weet wat om te sê nie, begin ek: “HERE, HERE, Seun van Dawid, wees my barmhartig.”
            ‘n Donker duisternis het oor my neergesak en baie vrae. Ek onthou een  wat gese het: “Is jy van jou sinne beroof, hoe sal jy ooit van drank en dwelms ontslae kan raak?”
            Toe skreeu ek so hard ek kon... en dit was erg: “HERE, HERE Seun van Dawid, wees my barmhartig.”
            En “nou HERE vra U ook aan my, wat kan U vir my doen... en ek antwoord: HERE, dat ek kan sien.” Ineens was daar lig en toe stort ek my hart in trane uit en staan laatnag daar op... Wedergebore.
            Waarom weet ek nie, maar ek het die volgende dag ‘n brief aan my ouma gepos en my getuienis vir haar gegee. Sy is die vorige dag in die hospitaal opgeneem, maar dit wis ek nie. ‘n Verpleegsuster vertel, sy het my brief aan my ouma voorgelees. Haar enigste reaksie was in blydskap en tevredenheid: “Nou is hulle almal in.”
            Sy is kort daarna Huis toe.
            Onthou... wanneere jy bid praat jy met die lewende almagtige en liefdevolle God en Hy sal jou gebede beslis antwoord. Hou net onwrikbaar aan met klop, want, Jesus het gesê: As jy aanhou klop sal daar vir jou oopgemaak word. – Sjibbolet

·         As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za  As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com  Nog Beraders is landwyd beskikbaar.

            “En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die Engele van God.” Luk 12:8 Stuur jou getuienis aan Tabernakel Bedieninge by belindapaar@gmail.com  Sien ook:  http://verhoogjesus.blogspot.co.za/2016/04/what-this-lifting-jesus-higher-is-all.html