Maandag 16 Mei 2016

Oor Vergifnis….


Image result for forgiveness


Wat vergifnis nie is nie: Die tannie  is baie siek.  Die oom sit by haar en hou haar hand vas.
Oom: “My vrou, ons het ’n wonderlike lewe saam gehad en daar is niks wat ek nie weer sal doen as ek kan nie.  Daar is net een ding wat ek jou graag wil vra voordat dit te laat is – daardie trommel op die kas.  Ek het jou jare gelede daarna gevra en jy het gesê ek moet jou nie weer vra nie, want dit is regtig die enigste geheim wat jy vir my het.  Maar dink jy nie dis nou tyd nie?”
            “Nou gaan haal dan maar die trommel en maak dit oop,” prewel sy.
            So gesê en so gedaan. Binne die trommel is twee gehekelde doilies en ’n allemintige pak R100- en R200-note.
            Sy verduidelik: “Die dag voor ons troue het my ma my gesê ek moet altyd die minste wees as ons dalk ’n argument het. Maar, omdat sy my geaardheid geken het, het sy my gesê hoe om dit makliker te maak.  Elke keer wat ons baklei, moes ek ’n doilie hekel. Dit het my gehelp om te kalmeer.”
            Met trane in sy oë en dankbaarheid in sy hart omdat daar net twee doilies na 60 jaar se getroude lewe is, vra hy: “En die geld dan?”  Waarop sy antwoord: “Dis van al die doilies wat ek al verkoop het…”

Jesus Christus: “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle Hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.” Mat 6:14-15
            “Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het. So sal my Vader wat in die Hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” Mat 18:34-35
            As voorbeeld vir jou en my het Jesus hierdie aanhalings van Hom soos volg met Sy eie lewe gedemonstreer: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Luk 23:34

Paulus: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Ef 4:32
            “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” Kol 3:13

Stephanus:  “Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” Han 7:59-60

Vergifnis beïnvloed jou gesondheid

Die vermoë om te vergewe sal jou gees, jou gesondheid en jou huwelik salf, selfs jou uitkyk op die lewe verander, wys nuwe navorsing deur die mediese wetenskap, aldus USA Today.
            Die Amerikaanse kundiges soos medici, huweliksberaders, kundiges in geestesgesondheid, brein-navorsers en ander wat betrokke is by die emosionele welstand van mense, het almal in die jongste tyd die Bybelse waarheid oor vergifnis in die praktyk ontdek.
            Die kundiges bestuur nou ‘n spesiale veldtog genaamd ‘n “Veldtog vir Vergifnisnavorsing”.  Groot konferensies oor die onderwerp word gereeld gehou.
            Navorsers kyk na verskeie aspekte oor vergifnis en maak gebruik van verskillende soorte meetinstrumente. Hulle kyk na die effek van vergifnis rakende ‘n wye reeks van oortredings, vanaf  kindermishandeling tot onenigheid in die huwelik.
            Die uitvoerende direkteur van die veldtog, Everett Worthington, sê alle navorsing toon dusver ‘n verband tussen vergifnis en gesondheid.
            “Kroniese onvergewensgesindheid veroorsaak stres,” sê Worthington, en voeg by “elke keer wanneer mense aan hulle skuldenaar dink, dan reageer hulle liggaam.”
            “Bloeddruk en polsslag styg, gesigspiere span styf, stres-hormone word aktief.  Kroniese stres beïnvloed die immuun- en kardiovaskulêre stelsels,” sê hy.
            Daarteenoor lei vergifnis tot ‘n vermindering van stres en vervang dit negatiewe emosies met positiewe emosies.
            Die belangstelling in vergifnis word as ‘n “ontploffing” beskryf, aldus Worthington. Hy sê die “Veldtog vir Vergifnisnavorsing” is al in 1998 gestig en word deur 13 donateurs en stigtings geborg sodat verskeie projekte onderneem kan word.
            Worthington sê hy glo dat die navorsing uiteindelik diegene gaan baat wat wil vergewe en glo dat dit noodsaaklik is om te vergewe om met ‘n mens se lewe te kan aangaan.
            “Navorsing het getoon dat alhoewel vroue meen dat hulle makliker as mans kan vergewe, dit beslis nie die geval is nie.  Hulle gedragspatrone nadat hulle kwansuis vergewe het, toon die teenoorgestelde,” sê Ann Macaskill van Sheffield Hallam Universiteit in Engeland.
            Haar studie het 214 vroue ingesluit wat elk moes skryf oor iemand wat hulle te na gekom het, die seerkry en in hoevele hulle daardie persoon werklik vergewe het.
            Fisioloog Fred Luskin van die “Stanford Vergifnisprojek” by Standford Universiteit, is leier van ‘n reeks studies oor mense met onopgeloste probleme rakende leed wat hulle aangedoen is deur hulle ouers, huweliksmaats of werkgewers. Sommige van hierdie mense ly aan erge skade.  
            In een program is 17 volwassenes vanaf Noord Ierland na Stanford gebring vir ‘n week se opleiding oor vergifnis. ‘n Familielid van hulle is vermoor. Die opleiding het in ‘n groepsessie geskied en raad is gegee oor nuwe maniere om oor trauma te redeneer.
            Na afloop van die sessie het 37% gesê dat hulle nou veel minder seer het terwyl 35% minder fisiese simptome van stres, soos byvoorbeeld swak eetgewoontes,  getoon het.
            Baie huweliksberaders glo dat vergifnis tussen huweliksmaats van kardinale belang is. Navorsing toon dat as huweliksmaats mekaar nie vergewe nie oor dinge van die verlede nie, dan kan hulle ook nie huidige konflikte hanteer nie.
            Luskin sê dat volwassenes wat nie hulle ouers kan vergewe nie, onbewustelik hulle toorn op hulle huweliksmaats uithaal.
            Navorsing het ook getoon dat vergifnis die volgende positiewe reaksies tot gevolg het:
·        Verlaging in bloeddruk en stres hormoonvlakke
·        Minder pyn, depressie en toorn in pasiënte met kroniese rugpyn
·        Minder ineenstorting van vroue wat misbruik is
·        Minder simptome van depressie en stres en ‘n hoër lewenskwaliteit onder Vigs pasiënte.
         
Suzanne Freedman, ‘n sielkundige aan die Universiteit van Noord Iowa in Ceder Falls sê dat mense soms nie ‘n begrip van vergifnis het nie.
“Hulle reageer negatief wanneer hulle die woord hoor. Hulle meen dat mens daarmee te kenne gee dat dit wat die oortreder aan jou gedoen he, in orde was.
“Vergifnis beteken nie die aanvaarding van die leed nie, of om te vergeet wat gebeur het nie, of om vrede te maak met die oortreder wat jou steeds skade berokken nie,” sê sy.
‘n Andersdenkendes, soos sielkundige Jeanne Safer, skrywer van “Forgiving & Not Forgiving”,  sê die voordele van vergifnis word oordryf. Volgens haar is dit soms beter om nie te vergewe nie.
Safer sê: “Dis ‘n idee wat maar deel van ons kultuur is. Wat as iemand nie kan vergewe nie? Hulle dink hulle is ‘n monster as hulle nie kan vergewe nie en dat dit sal lei tot hoë bloeddruk en selfs kanker.”
Vreemd dat die mediese wetenskap dit nou eers ontdek en kongresse daaroor hou terwyl dit al van die vroegste tye af in die Bybel staan.
Ons  was eendag deur ‘n vrou en haar man gevra om vir die vrou te bid wat sterwend was aan bloedkanker.  Die vrou had ‘n verterende haat teenoor iemand in dieselfde straat.
Die vrou het vertel dat sy wel die oortreders vergewe het, maar op ‘n vraag, bygevoeg dat sy hulle “darem nie so vergewe het dat hulle welkom sal wees om daardie selfde aand by haar te kom tee drink nie.”
Ons het aan haar gesê: ‘Ons sal vir jou bid en die HERE vra om jou te genees, op voorwaarde dat jy daardie mense vergewe.’
Drie jaar later het ons die vrou en haar man in ‘n supermark raakgeloop.  Hulle was vrolik en bly, want die vrou was blakend gesond. Dit beteken natuurlik nie dat almal wat siek is, aan onvergewensgesindheid ly nie, maar in sommige gevalle kan dit wel die oorsaak van die siekte wees.
Maar as jy nie vergewe nie, sê Mar 11:25-26 die volgende: “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die Hemel is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
            “Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die Hemel is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”
            Dis eenvoudig:  As ons nie kan vergewe nie, vergewe God ons nie.  Totdat jy vergewe het, kan jy maar ophou bid want God hoor jou nie.
            Hoe kan enigeen van ons dit waag om in so ‘n toestand te verkeer wanneer die HERE ons kom haal?  Dis soos om met vuur te speel.
            Iemand soos dr. Jeanne Safer kan maar redeneer soos sy wil, die Woord van God staan vas.
Die HERE leer ons hoe om te bid in die bekende “Onse Vader” in Matt 6.  Ondermeer moet ons bid: Vergewe ons, ons skulde, soos wat ons, ons skuldenaars vergewe.
Net na die Onse Vader, waarsku die HERE in 6:14 “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle Hemelse Vader julle ook vergewe.
“Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
In 1 Kor. 11 lees ons oor die Nagmaal, en daarmee saam die HERE se waarskuwing dat as jy onwaardig by die tafel aansit, jy ‘n oordeel oor jouself drink en dat dit die rede is waarom daar “baie swakkes en sieklike onder julle is, en ‘n aantal het al ontslaap.”
As jy iets teen iemand het, of iemand iets teen jou het, dan moet jy daardie saak eers gaan regstel, voordat jy by die Nagmaaltafel aansit, anders drink jy ‘n oordeel oor jouself!
En dan Matt. 5:23 “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het,  laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”
Dit beteken dat solank jou broer iets teen jou het, het jou gawe geen waarde nie, al gee jy ook duisend maal meer as gewoonlik.
Waarom ‘n slagoffer van omstandighede wees, waarom so ly – vergewe, sodat jy kan aangaan met jou lewe, sodat God jou ryklik kan seën, sodat dit met jou goed mag gaan!
Bid asseblief en maak gereed in afwagting van ‘n magtige Herlewing in Suid-Afrika. – Sjibbolet