Sondag 01 Mei 2016

Sondig jy toe ook opsetlik…

Image result for kruis


Baie Gelowiges het hulself al van baie vrugbare jare in Christus beroof en in depressie geleef omdat hulle hierdie Skrif nie begryp het nie.
Wanneer ons Wedergebore is, staan ons voor God as geestelike mens en volmaak. Ons is nuwe skepsels. Dit beteken daar is geen sonde in ons nie.
            Alle vorme van offers voor Golgota kon geen sonde wegneem nie, maar Jesus het dit kom wegneem met een offer wat vir altyd volkome is… hy het ons volmaak voor God gestel.
            Strofe 17 van Hebr 10 sê God dink nie meer aan sonde nie want hy het met sonde gedeel.  Hy het ons sonde in die diepstes van die see gewerp, so ver soos die ooste verwyder is van die weste.
            Suid en Noord is net-net meer as 21 000km van mekaar verwyder, maar Oos en Wes se afstand kan nie bepaal word nie. As twee lugvaartuie vanuit Suid-Afrika sou vertrek, die een Oos en die ander na die Weste, sal hulle nooit by mekaar uitkom nie.
            As God dus met alles gedeel het, dit afgehandel het en Hy dink nie meer aan sonde nie… hoe verklaar ons die vraag in strofe 26… as ons dan opsetlik bly sondig..  as ons (let op) opsetlik bly sondig nadat ons die KENNIS van die Waarheid ontvang het, bly daar “geen offer vir die sonde meer oor nie maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.”
Dis wat godsdiens jou geleer het, maar as jy nou opsetlik sondig dan beteken dit jy gaan hel toe. Daai “ons” wat daar staan is nie ek en jy nie. Die skrywer van Hebreërs skryf daar aan twee groepe mense: Hy skryf aan ons wat kinders van die HERE is en hy skryf aan die ongeredde Jode.
            Weinig van die Jode het die Jesus offer aanvaar. En hierdie Jode wou nog altyd selfgeregverdig staan deur hul eie werke en eie prestasies. Die ons wat hy hier van praat is sy broers na die vlees… Joodse broers… Hebreeuse broers. Dis die brief aan die Hebreërs.
            Daai “ons” is nie ek en jy nie. Hoe kan hy in strofe 17 sê God dink nie meer aan die sonde nie, maar sê dan in strofe 26… behalwe as jy opsetlik sondig.
            Dan beteken dit dat jou aanvanklikie sondige lewe wat Hy jou vergewe het, het jy met opsetlike sonde daarna gekanselleer. Dan is sonde nog steeds sterker as die Offer.
            Die Offer het met die sonde gedeel. Hy het die sonde weggeneem. So weggeneem dat God dink nie meer aan die sondes nie. Strofe 26 is nie vir my en jou geskryf wat die Waarheid ontvang het nie.
            “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die KENNIS van die Waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” Hebr 10:26-27
            Hulle het Kennis ontvang, maar nie die Waarheid nie. Hulle het dus kennis geneem van die Waarheid. Dis al.
            Hulle het nie die Waarheid aangeneem nie en voortgegaan om opsetlik te bly sondig. Die opsetlike sonde word weerspieël in Joh 16. Jesus is daar in gesprek met die dissipels en Hy noem dat Hy weggaan, maar Hy stuur die Heilige Gees en die Heilige Gees sal die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.
            Dan noem Jesus dit… van sonde (hoekom?), omdat hulle in My nie glo nie. Die kennis van die Waarheid het na sommige van ons ook gekom, maar ons nie oortuig nie (of ons wou nie oortuig wees nie). Dan is daar nie ‘n ander offer nie en dan is jy steeds sondaar.
            Dit help veel dat Golgota gekom het, maar ek het dit nie in die geloof aanvaar nie. Dan is ek steeds sondaar. Dan het die Offer aan die kruis vir jou nog niks beteken nie. Jy het kennis geneem, maar jy het dit verwerp.
            In die gelese gedeelte word dus nie na ons verwys wat Jesus (die Waarheid) wel as Verlosser aangeneem het nie. Ons is nie meer sondaars nie.
            Hierdie Jode egter het die Offer verwerp, is nog steeds sondaars. Hulle het opsetlik, nadat hulle die Waarheid gehoor het, dit verwerp. Nou sê die Skrif, hulle het die Waarheid verwerp en nou bly daar geen ander offer meer oor  nie. Daar is hoegenaamd geen ander offer nie.
            Hulle het die Lam van God verwerp en nou is daar geen ander offer meer nie. Let op hoe beklemtoon Jesus hierdie punt in Joh 10:1-3 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower.
“Maar hy wat by die deur ingaan, is 'n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.”
As jy nie die Offer van Golgota aanvaar nie, bly jy ‘n sondaar, en as jy wel iets anders sou probeer om uiteindelik  in te gaan, word jy as ‘n dief en ‘n rower beskou.
Hierdie mense is teenstanders van God. Ek en jy is kinders van God.
Bid asseblief deurentyd vir die verwagte Herlewing in SA. – Sjibbollet