Woensdag 14 Desember 2016

Die verbryselde kan herlewe

Jesus heel die gebroke harte


In mev. (Lettie) Charles Cowman se dagboek, Springs in the Valley, vertel sy hoe die beroemde Noorweegse violis van die middel van die 19e eeu, Ole Bull, op sy toer deur Europa, laat een aand by die klein, houthutjie van 'n kluisenaar aanland.


 


Die ou man nooi hom in en gee hom kos. Na die ete gaan hulle voor die kaggel sit en die kluisenaar probeer op sy gehawende ou viool vir sy gas musiek maak. Dit was krassende musiek.
“Mag ék op jou viool speel?” vra Ole Bull.
“Jy kan probeer,” antwoord die ou kluisenaar, “maar dit het my jare geneem om soos nou te kon speel.”
Ole Bull het die strykstok sag oor die snare gestreel. Skielik was die ou kluisenaar se hut met lieflike musiek gevul. Verstom staar die ou man Ole Bull aan en begin huil soos 'n kind.
“Ek het nie geweet dit kan so wees nie... Ek het nie geweet dit kan so wees nie,” snik die ou kluisenaar oor en oor.
Mev. Cowman maak die opmerking: “Ons is soos mishandelde instrumente, selfs met gebreekte snare en gebuigde brug. Tog, as ons net die hand van Jesus in ons lewens wil inneem, dan sal hy ons heelmaak om die mooiste musiek selfs vir Engele voort te bring.”
Let op: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar nog?) en by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15