Sondag 04 Desember 2016

Bewerk ‘n Goddelike Ingryping

Image result for person praying
“As Ek die Hemel toesluit,
dat daar geen reën is nie,
of as Ek die sprinkaan beveel
om die land af te eet,
of as Ek pes
onder my volk stuur,
en my volk,
oor wie my Naam uitgeroep is,
hulle verootmoedig en bid
en my aangesig soek
en hulle bekeer
van hul verkeerde weë,
dan sal Ék uit die Hemel hoor
en hulle sonde vergewe
en hulle land genees.
Die HERE wag op ons...
“Nou sal my oë oop wees
en my ore luister
na die gebed van hierdie plek.”
2 Kron 7:13-15

“En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.” 1 Kor 10:10
            Die HERE sê sy oë is oop en Sy ore luister... na wat ons hier in Suid-Afrika bid.
            Bid ons? En wat bid ons?
God gee ons ‘n opdrag: “Verootmoedig en bid... soek Sy aangesig... bekeer ons van ons verkeerde weë.”
            Dis waarvoor sy oë oop is en sy ore luister.
            God praat met Sy Volk. As jy Wedergebore is, is jy deel van sy Volk.
            Die HERE sê dat as ons Sy opdrag uitvoer, dan sal Hy van die Hemel af hoor dan sal hy ons sondes wat ons bely vergewe en die land genees.
            Die land is omtrent in ‘n toestand.
            Die Koms van die HERE is baie naby. Ons moet dus in elk geval gereed maak vir die groot totsiens aan die Planeet Aarde.
            Paulus had dit nooit maklik nie. Die Here stuur hom na Macedonië. Met sy aankoms daar ondervind hulle vriendelikheid, gasvryheid en siele word gered en gedoop.
            Al die tekens is daar om te bevestig ja, die HERE het Paulus gestuur.
            Die volgende dag open die poorte van die hel, of so het dit gelyk.
            Hulle klere word van hul lywe afgeskeur en hulle word met stokke geslaan, omdat hulle dit gewaag het om Jesus Christus te verkondig.
Hulle word in die binneste gevangenis gewerp, ‘n bykomende gevangenis in die middel van die gewone gevangenis met hoër mure. Hulle voete is in ‘n blok vasgemaak. Niemand kom daaruit los nie.
Daar sit hulle in duisternis, bebloed, naak, in pyn en hulle kon begin murmureer het met smartvraat vrae soos: “Hoekom het die HERE dit toegelaat, ens.?”    
            Dink maar of jy ooit in so ‘n benarde posisie was en dit boonop onskuldig!            Middernag, bebloed en in pyn, begin hulle lofliedere tot eer van God sing. So hard dat al die gevangenes daarna luister. Paulus en Silas het besef God is groter as die probleem en pleks van te kla en te murmureer oor die bloed en die koue en die pyn, kyk hulle by dit alles verby, reguit na God.
            “En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
“En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
“Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier!
“En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.
“En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
“Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
“En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
“En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
“Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.” Hand 16:26-32
Het ons in Suid-Afrika ook so ‘n reuse aardskudding nodig om ons terug by die HERE te kry?
Jesus sê: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang (hoekom?), sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh 16:24
            Ons is veronderstel om in geestelike wasdom te groei. Paulus kon reeds die geestelike voordeel begryp om dankbaar te wees wanneer mens seer het.
            Lofliedere en gebede neem die fokus van jouself af en plaas dit waar dit hoort, op Jesus Christus.
            Die HERE praat nie van reën nie. Sy ingryping as ons sy Opdrag uitvoer, strek veel wyer as dit. Hy sê hy gaan ons land “genees.”
            Goeie deurdringende reëns is maar deel van die genesing wat gaan plaasvind. Die land gaan in sy totaliteit genees.
            Internasionale rekords wys dat daar 36.4 miljoen Christene in SA is. Ons vra weer: As dit waar is, hoekom het ons nie ‘n Christen regering nie?    
            God se genesende hand moet deur die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing beweeg.
            Ons, ek en jy, moet dit aktiveer. “... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.” Efes 5:27