Woensdag 14 Desember 2016

‘n Brandende lig bemoedig ander



Rudyard Kipling, was ‘n Skrywer, Joernalis en Digter en is in Desember 1865 in Indië gebore. In 1907 het hy die Nobelprys vir Literatuur ontvang.


Rudyard Kipling – Skrywer, Joernalis en
Digter (1865–1936)

Sy ouers was destyds na Indië gestuur as lede van die Britse Ryk. Hulle het hom egter in Engeland laat skoolgaan. Hy is in 1882 terug na Indië. ‘n Dekade later trou hy met Caroline Balestier en hulle koop in Brattleboro, Vermont vir hulle ‘n huis teen ‘n berghang waar alles nog onbewoon was.
           Na hulle goed in hul plaaswoning ingeburger was, besluit hulle om die omgewing te verken. Hulle het teen die verlate berghang afgestap, deur die vallei en teen die berghang aan die oorkant opgeklim.
            Tot hul verbasing en verrassing kom hulle af op 'n klein huisie waar 'n vrou stoksielalleen woon. "Is dit julle huis daar ver oorkant die vallei teen daardie berg? Is dit julle vensters waaruit die lig saans skyn?” vra sy hulle uit. Hulle antwoord bevestigend.
            Sy vertel vir hulle wat daardie verligte vensters vir haar, in die donker aande beteken, hoe dit haar troos en bemoedig en die gevoel van eensaamheid wegneem. Skielik raak sy gespanne en begin bang lyk. “Gaan julle nog lank daar bly? Sal julle, julle ligte nog vir 'n ruk saans laat brand?”
            Hulle stel haar gerus. Daarna het die Kiplings hul ligte gereeld saans tot laatnag laat brand. Hulle het selfs sommige vensters se gordyne en blindings verwyder, sodat die lig nog helderder en duideliker kon uitstraal.
Die skrywer van die storie sluit af: “As dit jou geleentheid was in jou gemeenskap, sou jy ook die ligte laat brand het?”
            Gelowiges is soos brandende ligte. Die lewe maak mens afgestomp en ons lig flou, die Woord en gemeenskap met Jesus hou jou skerp. So moet Gelowiges ook gereeld skyn om ander te bemoedig. “Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.” Efes 5:8-9
            “Herinner die mense nadruklik daaraan... hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees ...bedagsaam teenoor almal. (en luister nou) vriendelik wees en aan alle mense alle sagmoedigheid bewys.” Tit 3:1-2