Saterdag 10 Desember 2016

Suid-Afrika, soos Pandora se kis


 Image result for people praying together   

Nou is ‘n Revolusie van Gebed nodig!

Die enigste sekerheid is ons saligmaking en redding in en deur Jesus Christus en die enigste permanensie, is die Ewige Lewe.
            Rondom ons skilder koerantberigte ‘n skandvlek.
            Dis hartverskeurend om plant en dier sonder water te sien vrek. Hoeveel kansels en gemeentes lyk ook so… dor, droog, dood?
            Hierdie en vele ander aspekte wat nie eie aan ons eie Christelike kultuur en agtergrond is nie, het ons mense in absolute onsekerheid gedompel. Vrae op vrae word gevra. Sommige sê hulle gaan bly, ander emigreer.
            Maar diegene wat bly, kan net bly as hulle ‘n verskil aan die situasie gaan maak, anders moet hulle ook maar emigreer!
            Die verskil kan alleen deur vurige en kragtige gebed gemaak word.
            Wanneer ons bid, dan kom  GOD se vermenigvuldende krag in werking en dan aanskou ons dat gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak word.
            Dis nie die gebed as sodanig wat magtig is nie, maar GOD is. Dis Hy wat belowe om groot en deurgrondelike dinge te doen as Sy kinders maar net sal bid.
            Met respek, die vrome aandgebedjies bring nie die verskil nie. Dit is die vurige gebede waarmee besigheid met God bedoel word, wat in grootse erns en besliste verwagting word, wat die verskil  teweeg bring.
            Dat die HERE opsoek is na voorbidders maar hulle selde vind, word duidelik weerspieël uit die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
“Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenby tree nie,” asook Sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
“Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land… maar Ek het niemand gevind nie!”
Daar is drie dinge wat in ‘n voorbidder gesien sal word, wat nie noodwendig in gewone gebed  gevind sal word nie: vereenselwiging, sielesmart en gesag.
Die vereenselwiging van die voorbidder met diegene vir wie hy intree word op volmaakte wyse in Jesus self gesien.
Van Hom is gesê dat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
As die Goddelike Voorbidder wat vir ‘n verlore wêreld ingetree het, het Hy die beker van ons verlore toestand tot die laaste druppel geledig en “vir elkeen die dood gesmaak.”
Om in die volste sin van die woord dit te kon doen, moes Hy sit waar ons sit.
Vereenselwiging is dus die eerste vereiste van die voorbidder. Hy pleit met sukses omdat hy sy lewe gee vir diegene vir wie hy pleit. Hy is hulle verteenwoordiger. Hy het sy eie belang in hulle behoeftes en lyding laat wegsink en het sover moontlik letterlik hulle plek ingeneem.
Die tweede vereiste is sielesmart, want Hy, die Heilige Gees, “tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge.”
Mens lê dan alles op die altaar, want siele wat nie gered is nie, stort oor ‘n ewige afrgond, die helle dieptes in. Dan kruisig mens jouself met Christus. Jy lê alles af. Jy sterf. Nie ‘n teoretiese dood nie, maar ‘n egte kruisiging met Jesus. In die kruisigingsproses begin die voorbidding.
Let op hoe dat Moses, die jong voorbidder, uit vrye wil die paleis verlaat om hom met sy slawe-broers te vereenselwig.
Jesaja moes vir drie jaar lank “nakend en kaalvoet” loop as ‘n waarskuwing aan Israel teen die aakligheid en tragedie van gevangenisskap.
Esegiël is nie toegelaat om een traan te stort by sy vrou, die begeerte van sy oë, se dood nie.
En derdens moet ons met gesag bid. Ons is tot alles instaat deur Jesus Christus wat ons die krag daartoe gee. Ons neem dus gesag oor die magte van die duisternis, ons bind en vervloek dit, en dryf  dit uit elke sektor van ons samelewing in die naam van jesus Chrtistus.
Ons berei die pad voor vir die Heilige Gees om mense se lewens binne te vaar en hulle om te keer.
Maar daar is ook ‘n laaste vereiste: Dat ons een(dragtig) sal wees. Waar ons oral saambid moet ons wees soos een wat gesamentlik ‘n swangerskap, ‘n dragtigheid dra.
Ons praat nie hier van eenheid nie want selfs nie ‘n getroude paar kan ‘n eenheid vorm nie. Eenheid beteken eendersheid, en dit kan tog nie. Ons het tog elkeen ons eie karakter en persoonlikhied. Maar ons kan eendragtig wees!
Elke keer wanneer die dissipels eendragtig in gebed  en in gees was, dan het die HERE gewerk.
Wanneer moet ons bid? Begin vandag nog. Al is u net twee of drie… die HERE sal daar teenwoordig wees om te hoor wat jy te sê het.
Net so terloops: “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les –  nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
“Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind--nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
“Ek het die pes onder julle gestuur, op die manier van Egipte; Ek het julle jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; en Ek het die stank van julle laer laat opstyg, ja, tot in julle neus--nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
“Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos 'n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
“Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel – maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!” Amos 4:7-12
            Een ding is seker: God bedoel besigheid.
 “Want so sê die HERE aan die huis van Israel: SOEK MY, DAN SAL JULLE LEWE!” Amos 5:4