Saterdag 17 Desember 2016

Kersboodskap


Image result for kersfees prente


Dis die Laaste Uur

Daar is haas nie meer tyd nie. Almal moet gereed maak vir Christus se Koms. Diegene wat gereed is, moet die ander waarsku.
            Daar is geen datum in die Bybel van wanneer Jesus Christus weer kom nie. Dit beteken egter nie dat daar nie wel ‘n datum is nie.
            Die HERE werk met datums, en tye en seisoene. Hy gee aan ons ‘n aanduiding van die tydvak wanneer Hy gaan kom:
“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
“Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
“Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
“Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
“Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
“En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
“En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
“Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Matt 24:3-13
            Net in kort: Daar tans oorlog in 67 lande van die wêreld met 736 militante groepe wat daaraan deelneem, en dit neem toe.
            Van al die ander dinge wat Jesus na verwys lees ons elke dag in die media, aardbewings, vloedrampe, vuurspuwende berge, tekens in die lug, droogtes, hongersnood. Die lys is lank en die huidige statistiek daaroor, skrikwekkend.
·       Maar daar is ‘n ander teken wat oornag baie belangrik geword het:
            “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, (let op) bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.” 1 Joh 2:18
            Jesus het ‘n tydvak aangedui, maar Johannes kom later en dui die Laaste Uur aan… die koms van die antichrist se gees, invloed en karaker.
            “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die Heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.” Dan 7:25
            Die antichris is nog nie hier in persoon nie, want hy kom eers na die Wegraping, maar sy gesindheid, sy invloed en karakter word reeds beleef.
            Die koms van die Islamitiese Staat (ook bekend as ISIS) is deels die voorloper van die antichris.
            Christene word in die strate onthoof. Van Christene word vereis om Jesus Christus te verloën en wanneer hulle weier word hulle summier op wrede wyses vermoor. Die rede? Die antichris wil oorneem en is besig om dit te doen.
            Selfs kinders word so afgedreig en daar is getuienis en fotomateriaal beskikbaar wat toon hoe die kinders ook weier om Jesus te verloën en dan doodgemaak word.
            Oral oor die wêreld is teenstand aan die opbou teen Jesus Christus. Sy naam mag nie genoem word nie, want dit gee aanstoot aan ander gelowe.
            Op plekke word selfs suksesvol druk uitgeoefen dat wette verander word. Dis Christen-lande wat die handdoek ingooi.
            Die Bybel self moet weg en mag nie in die openbaar gelees word nie. Predikante word gemonitor sodat hulle politiek korrek moet preek. Sommige het al in die tronke beland oor hul uitsprake oor onheile.
            Die Christendom is in die pad en word doodgesmoor. Van Bybel lees en gebed by openbare byeenkomste, is daar skaars sprake van, want dit gee aanstoot.
            Ons is nou midde in die bekende Feestyd waar die geboorte van Jesus herdenk word. Geen Skrif oor Sy koms en geboorte mag aangehaal word nie. Geen Kersliedere mag gesing of gespeel word nie, geen versierings mag aangebring word nie.
            Selfs in Suid-Afrika is daar ‘n demper op die feesvieringe, maar nog nie so erg soos in ander lande van die wêreld nie.
            Daar is niks mee verkeerd om Jesus se geboorte te gedenk nie (maar weg met die kersvaders en kersbome. Dit was nooit deel van Sy geboorte nie).
            In die Midde Ooste en in Sjina word kruise by aanbiddingsplekke afgebreek en in sommige gevalle word die aanbiddingsplekke, selfs kerke, vernietig. Bomme word in kerke ingegooi terwyl Christene daar aanbid en almal sterf. Of selfmoord bomme word geb ruik.
            Sommige druk op dat die Bybel herskryf moet word en daar is gevalle waar die Bybel al herskryf is en van sy gees en waarheid ontneem is, selfs in SA.
            Met die droogte in SA uiter sogenaamde Christene erge uitsprake soos bv: “Watse God is dit dat wanneer mens vir reën bid dan stuur hy verwoestende haelstorms?”
            “Wat baat dit om ‘n biddag vir reën te hou en God reageer nie?” Sommige bid nie meer nie, lees nie meer Bybel nie en gaan selfs nie meer kerk toe nie.
            As mens die droogte as ‘n toetstydperk beskou, ‘n tyd om eksamen te skryf oor jou geestelike groei en verhouding met God, dan dop baie die toets.
            “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
            “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
            “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Matt 24:32-34
            Watter geslag word hier na verwys? Dis die geslag wat in die lewe was met die land van Israel se herstel en die terugkoms van die Jode. Die Jode kom deesdae byna weekliks terug na die Joodse staat.
            Die verstommende aspek is dat die vyeboom nie net bot nie, dit dra geruime tyd al vrugte. Daar is reeds 271 Messiaanse Joodse gemeentes in Jerusalem en omstreke. Ook wêreldwyd is Messiaanse gemeentes aan die toeneem soos wat die Jode die Messias Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker aanneem.
            Luister hierna: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Pet 3:9
            Mens kan vra: Moes die einde al gekom het, want hoekom gebruik die HERE die woord “vertraag?” Sy Wederkoms word vertraag (hoekom?) Omdat Hy lankmoedig is oor ons (hoekom?) en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
            Almal gaan beslis nie tot bekering kom nie, maar dit is Sy hoop. Niemand sal agterna kan sê God was nie redelik en regverdig nie.
            Let op: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Joh 17:20-21
            Selfs hierdie gebed van Jesus, luister ons nie na nie. Hier is meer as 3 000 kerkgenootskappe in SA. Ons rig ons geestelike geweervuur op mekaar pleks van in eenheid op die ware vyand, die satan.
            En dit ten spyte van die volgende: “En Ek het hulle die heerlikheid (glorie) gegee wat U My gegee het (hoekom?), sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is .Joh 17:22. As jy nie die glorie (heerlikheid) van God in Christus Jesus in jou lewe beleef nie, dan moet jy self jou gebrek aan kennis bevraagteken.
            Die teken oor die antichris en die Laaste Uur, beteken daar is nie meer tyd nie. Ja, die betrokke strofe staan al eeue lank in die Bybel, maar dit het nou eers in vervulling begin gaan.
            Dis almal se laaste geleentheid om hulle saak met die HERE reg te maak. Doen dit, doen dit nou! Maak hierdie Feestyd joune, word Wedergebore... net daar waar jy is.