Wys tans plasings met die etiket als gebeur met 'n rede. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket als gebeur met 'n rede. Wys alle plasings

Dinsdag 16 Mei 2017

Niks gebeur sonder goeie rede nie


'n Amerikaanse multimiljoenêr, Jay Gould, het een keer per trein, deur die state, wat langs die Stille Oseaankus lê, gereis vertel die Railroad Evangelist.
Met sy terugkeer besluit hy om deur Texas te reis. Die trein word, in 'n klein westelike dorpie van Texas, 'n paar uur vir herstelwerk vertraag. Om die tyd te verwyl, stap Gould van die stasie af deur die dorpie.


Jay Gould

Op 'n straathoek is 'n groot groep mense bymekaar. Gould stap nuuskierig nader. 'n Vendusie is aan die gang. Die afslaer roep die hoogste bod, vir die artikel wat hy wil verkoop, 'n paar keer uit.
Gould vra vir een van die omstanders wat verkoop word. Die man sê 'n kerkgebou word opgeveil. Die gemeente kon die boukoste nie betaal nie en nou laat die bouer die kerk opveil om sy geld te kry. Die afslaer is op die punt om die koop te beklink, toe Gould hoër bie. Die bod word op Gould toegeslaan.
Dadelik kom drie ou grysaards op Gould afgestap. Dit is duidelik dat hulle nie weet wie hy is nie. Hulle wil weet wat hy met die kerkgebou beplan. Die miljoenêr kyk hulle vriendelik aan.
"Dit is nou myne," sê hy. "Ek kan dit hou as ek wil, of weggee soos ek goeddink."
"Ons is die trustees van die kerk en die kerkraad het ons gestuur om te kyk wat met die kerkgebou gebeur. Op hierdie oomblik is die hele gemeente in die kerk op hulle knieë, om die HERE vir uitkoms te smeek, dat ons nie ons kerk verloor nie."
'n Paar oomblikke kyk Gould stilswyend na hulle. Dan sê hy: "Dit lyk my julle het die kerk nodiger as ek, en julle kan dit beter gebruik as ek, daarom gee ek dit vir julle."
Toe eers ontdek hulle, hulle is besig om met een van die land se rykste manne te praat.
            Hierdie ware verhaal  toon duidelik God se voorsienigheid. Gould moess  sy terugreis deur Texas aanpak. Die probleem met die trein se aandrywing moes op die regte oomblik op die regte plek gebeur. Gould moes na die toneel toe stap, alles presies en net betyds.
            Binne die kerk bid die gemeente vir uitkoms. God stuur Gould via Texas en ‘n probleem na die toneel. Dit maak nie saak wat gebeur nie. Pleks van kwaad word en selfs vloek en skel, raak rustig en vra: HERE hoekom.
            Skrywer neem sy motor vandeesweek om die lugreëlaar te laat herstel. Die werktuigkundige verstaan verkeerd en maak ‘n groot en duur probleem in die enjin reg. Hy vra agterna groot verskoning vir die fout.
            Feit is, skrywer het ‘n  week gelede ernstig oorweeg om ‘n langs reis aan te pak. As die reis sou plaasgevind het, sou die motor tussen êrens en nêrens gaan staan het. Dit sou baie ongerief en baie geld gekos het want die onderdeel moes van Johannesburg af kom.
            Die Gelowige beweeg in die geloof en weet deur jare se ondervinding, niks gebeur sonder goeie rede nie. – Sjibbolet