Wys tans plasings met die etiket Amazing grace. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Amazing grace. Wys alle plasings

Saterdag 27 Mei 2017

Kom ons beweeg na oorwinningsgrond

Doen die noodsaaklike Paradigma Skuif

Ons moet ‘n paradigm sprong in ons geestelike lewens maak. Ons moet wegkom van die “geredde sondaar” sindroom en ophou om liedjies en liedere in daardie verband te sing, soos bv: Amazing Grace.
            Dis ‘n pragtige lied, maar ons kan dit aanhou sing nie want ons steek vas by die “geredde sondaar” sindroom.
            “Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie (hoekom nie?), want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” 1 Kor 3:2
Sien ook Hebr 5:12-14
            Ons Christelike lewe bly ‘n stryd en ons kom nie tot oorwinning nie. Kyk wat sing ons: Daars ‘n stryd wat ek moet stry. Daars oorwinning te verkry. Gee my krag, elke dag, hou my trou.
            Daar is geen stryd om te stry nie. Ons het die oorwinning of ons het dit nie. Die krag wat ons na smeek het ons ‘n hele Bybel vol van.
            Ons moet die Glorie van God bekom sodat ons, ons Gelowige lewens in daardie Glorie kan beleef.
            In die Heerlikheid, die Glorie van God, sal ons die bonatuurlike beleef. Jesus bid: “Ek het hulle (vir my en jou) die heerlikheid (die Glorie) gegee wat U aan my gegee het (waarom?), sodat hulle een kan wees… net soos Ons een is.” Joh 17:22
            Wat ‘n verstommende, byna revolusionêre, verklaring! Die, HERE, God Jaweh van die Hemel, die grote en gedugte God, gee sy glorie aan sy seun Jesus Christus en Christus gee dit op Sy beurt –  daardie Goddelike Glorie van die Almagtige God –  aan my en jou.
            Ons is geskep om in God se Glorie te leef, sodat ons God in Glorie kan aanbid en ander in Glorie rondom ons kan bedien.
            “Ek in hulle (in my en jou) en U in my (hoekom?) sodat hulle volkome een kan wees (hoekom?) sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het, en… hulle liefgehad het soos wat U my lief het.” Joh 17:23
            Lees asseblief Jesus se gebed, die hele gebed, in Johannes 17. Lees hoe tree Jesus vir ons in. Moenie bid vir dit wat Jesus voor bid nie… sê net dankie.
            God het ons geskep om in Sy teenwoordigheid te wandel (hoekom?) sodat ons Sy hart kan verstaan en sy Goddelike wonderwerkende krag kan beleef (hoekom?) om ons lewens te transformeer.
            “Immers, Sy goddelike krag het ons (hoeveel?) alles, geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, (hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het (hoe?) deur Sy heerlikheid (Glorie) en deug,
            “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?) sodat  julle  daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?) wanneer julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.
            “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.
            “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.
            “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.
            “Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige Koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet 1:3-11
            Ons en ons lewens is dus baie nou verweef met die  van Jesus. Dit is so nou verweef dat ons een is, dat ons nooit geskei kan word nie. Ons as Gelowiges verkeer in die mees belangrikste plek in hierdie ganse wêreld. Ons lewens is so dig verweef met Jesus dat selfs die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7
            Ons is op die vooraand van die einde van alles. Die grootste geestelike Herlewing – die laat reëns – is naby. Strome van seën van bowe, dit het Sy Liefde belowe. Die eerste druppels val reeds in Suid-Afrika en elders.
            Die heerlike druppels gaan stroompies word, dan riviere en dan ‘n magtige oseaan.
            God sê: “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.
            “Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.
            “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle (let op) sal My lof verkondig.” Jes 43:21
            Die Glorie van God, gaan die aarde oorspoel sodra ons besef dat ons en Jesus Een is en ons as Eenheid Sy lof en Glorie besing en verkondig. Hierdie werklikheidsbesef het nog nie tot die meeste van ons deurgedring nie.
            Skrywer meen dat ons so naby aan die einde is dat ons moet besef Jesus is reeds op pad om sy Bruid op te haal... ‘n Bruid sonder vlek of rimpel. Efes 5:27
            Soos wat mens in die Glorie van God inbeweeg verdwyn die aardse nietighede.
            Ons ontvang nie die Ewige Lewe wanneer ons hierdie aardse tentwoning verlaat nie, ons het reeds die Ewige Lewe. Hierdie is ‘n nuwe lewe vir ons as nuwe skepsels. 2 Kor 5:17.
            Hierdie nuwe lewe moet ons in die heerlikheid (Glorie) van God en Jesus beleef. Om in die Glorie van God te lewe is om van Sy teenwoordigheid bewus te wees, bewus te wees van Jesus Christus en die Heilige Engele se teenwoordigheid.... ‘n lewe van teerheid, broosheid, liefde en oorwinning!
            “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid (Glorie) van die Here aanskou, (let op wat gebeur nou) word ons van gedaante verander (waarna?) na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid (van Glorie tot Glorie!), as deur die Here wat die Gees is.
            “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie.” 2 Kor 3:18;4:1
            “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef (waar?) in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Gal 2:20
            Daar was ‘n afsnypunt van die oue na die nuwe: “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” Heb 8:12
            “Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons sy Gees gegee het.
            “En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.
            “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
            “Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want (let op!) soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.” 1 Joh 4:13-17
            “Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.
            “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is (hoekom?), sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.” 1 Kor 2:11-12
            Glorie beteken onder meer blydskap. En as ons blydskap nie volkome is nie....“Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Joh 16:24
            “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke (baie meer werke) doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. (Wie van ons het al die werke gedoen wat Jesus gedoen het en boonop baie meer werke?)
            “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen (hoekom?), sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” Joh 14:12-14
            As ons die Glorie van God belewe, sal ons ook die bonatuurlike belewe... groter werke as wat Jesus gedoen het.