AS GOD Almagtig is en enigiets kan doen volgens Sy
wil, het Hy dan nog enigiets nodig van enigeen van Sy skepsels?
Hy wat die heelal
geskep het deur enkele woorde te spreek, en steeds alles in stand hou sonder
dat Hy die mens benodig, waarom sou Hy ons nou nodig hê vir enigiets wat Hy
teweeg wil bring?
As Hy ons
nie nodig gehad het om die heelal te skep nie, waarom het Hy gebed ingestel?
Wanneer het Hy dan van ons “afhanklik” geword? Waarom kan Hy niks doen in die
sfeer van menslike verlossing, behalwe deur menslike samewerking en dit deur
gebed, geloof en dade nie?
Hoe het GOD
homself dan so in ‘n hoek toegeverf? As GOD in totaliteit selfgenoegsaam is –
wanneer Hy deur bloot ‘n woord te spreek enige moontlike en onmoontlike ding
tot stand kan laat kom – waarom gaan Hy dan nie voort, sonder die hulp van
enigiemand se intelligensie of wil, of gebed, en tree arbitrêr op en spreek net
die woord nie?
Is GOD dan
“hulpeloos” sonder die mens? Die misterie van gebed as instelling word
opgeklaar in Eseg. 22: 30-31.
In ‘n tyd
van nasionale geloofsversaking, het GOD gesê: “En Ek het onder hulle ‘n man
gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die
land, sodat Ek dit nie verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.”
“Daarom het
Ek my toorn oor hulle uitgegiet; deur die vuur van My grimmigheid het Ek hulle
verteer; hulle wandel het Ek op hulle hoof laat neerkom, spreek die HERE,
HERE.”
Hier sien
mens duidelik dat GOD na rede soek om ‘n verdiende loon uit te oefen. Hyself
verlang daarna om die volk te spaar, maar vreemd genoeg is Hy “magteloos”
sonder menslike ingryping, sonder ‘n bemiddelaar. As niemand in die bres wil
tree nie, kan Hy nie Sy oordele, Sy toorn, terughou nie.
Maar waarom
moet Hy van ons gebed “afhanklik” wees om die volk te verdedig teen Sy eie
toorn? GOD is tog Almagtig en verhewe, soewerein in die heelal?
Hy is tog
die uiteindelik Regter, die Jurie, die Uitvoerende Mag, die Een wat gesag
toepas. Of is Hy dalk nie?
As Hy
verlang om nie sy volk te oordeel nie, as Hy graag genade wil betoon, hoekom
gebruik Hy nie Sy Almag en soewereiniteit nie, ten spyte selfs van wat ons mag
bid of nie bid nie?
Anders
gestel: GOD se Wil is soewerein in alle dinge. As Hy wil dat siele gered word,
dat herlewing moet uitbreek, dat Sy afgedwaalde volk na Hom moet terugkeer,
hoekom gaan Hy nie net arbitrêr oor ons koppe en voer Sy Wil uit nie? Waarom
het Hy ‘n stelsel daar geplaas wat Hom “afhanklik” maak van ons? Is dit nie ‘n
verstommende misterie nie?
GOD pleit by
ons om te bid. Hy wil niks doen in die sfeer van menslike verlossing, sonder
ons gebed en intersessie nie. Hy pleit nie net dat ons tussenbeide moet tree
met gebed nie, Hy dring daarop aan, soebat ons eintlik.
In Matt. 7:7
dring Hy daarop aan dat ons moet klop en nogmaals klop, en voeg dan by: Vir
elkeen wat klop sal (beslis) oopgemaak word. Dan verduidelik hy self: Die man
en sy vrou en kinders slaap reeds, die deure is gegrendel, toe die vriend
opdaag en aanklop en vra vir drie brode.
Maar die man
wil nie opstaan en sy vriend help nie. Dan sê Jesus: Alhoewel hy nie sal
opstaan en help omdat dit sy vriend is wat aanklop nie, staan hy uiteindelik
tog op en help vanweë die vriend se aanhoudende irriterende geklop. Met ander
woorde, as mens ophou klop, word daar nie oopgemaak nie. Soms moet mens nogal
lank klop, maar die belofte staan vas: As jy aanhou klop dan sal daar vir jou
oopgemaak word!
En verder:
As jy aanhou soek, sal jy beslis vind. Dit is duidelik dat GOD niks doen, en
niks gebeur, as ons nie bid nie. GOD is die GOD van die oes, nogtans dring Hy
in Matt. 9:38 daarop aan dat ons moet bid dat Hy arbeiders in die veld moet
stuur. Die oes is syne en die arbeiders is tog syne. Hoekom sou Hy “hulpeloos”
toekyk terwyl Hy wag dat ons bid dat Hy arbeiders in die oes moet instuur?
Hoekom stuur hy arbeiders slegs uit in antwoord op ons gebed?
Die
fundamentele belangrikheid van hierdie instelling van gebed in GOD se
Raadsplan, word verder beklemtoon daardeur dat GOD homself onomwonde verbind om
te antwoord!
GOD se
belofte om te antwoord is byna soos ‘n blanko tjek wat reeds Sy handtekening
dra. Dis ‘n verbysterende gedagte, maar ‘n werklikheid. Dis of GOD Sy septer
aan ons oorhandig het en by ons pleit om dit te gebruik.
Uittreksel
uit Sjibbolet Bediening