“So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na ‘n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vet spyse.” Job 36:16
As Job geluister het en gehoorsaam was aan die stem van God en Sy roede, en homself onderwerp het aan God se kastyding en geduldig sy ellende gedra het, en na God gekeer het, dan sou God lank reeds vir Job uit sy moeilikheid uitgebring het na ‘n groter ruimte waar daar geen engte sou wees nie – uit die eng vasgekeerde omstandighede waarin Job was, na vryheid, na ‘n groot oop plek soos wat Dawid in Ps. 4:2 ondervind het:
“As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!” Ps 4:2
Dit het betrekking op die fisiese sowel as die geestelike. In die fisiese was Job in groot moeilikheid, armoede en ellende vasgekeer. Soos wat Job dit self stel in Job 19:8 “Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.”
As Job hierdeur nederig sou word en verootmoedig het dan sou God hom uit sy teenspoed verlos het en die HERE sou hom in ‘n groot ruimte van voorspoed geplaas het. So sê die HERE self.
Job sou soos Dawid kon sê: “Ek wil juig en bly wees in U goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan.” Ps 31:8-9
Dawid is self deur diep donker waters van groot benoudheid. Hy kon onder daardie omstandighede voortgeleef het, homself bejammer en verknies het, of hy kon homself oprig, verneder en sy saak met God regmaak.
In ‘n geestelike sin beland mense ook op ‘n plek waar hulle vasgekeer sit. Hulle kan nie vry uitkom in die oopte van genade en diensbaarheid nie.
Hulle het geen vryheid in die HERE nie, hulle geloof faal, hulle het haas enige hoop. Hulle is vasgevang in hul eie medelye, klaagliedere, so asof hulle in ‘n tronk is.
Sommige gaan kerk toe, maar sit daar byna leweloos.
Moeilikhede en omstandighede het beheer oor hul lewens oorgeneem. Hulle weet nie eers wanneer laas hulle iemand met blydskap uit die Woord bemoedig het nie. Hulle kan net oor hul probleme gesels.
Hoe langer hulle in hierdie toestand verkeer, hoe erger word dit, so erg dat hulle later aanvaar dis maar hulle lot.
Die antwoord lê daarin om jouself te verneder en te verootmoedig. Maak jou sake reg met God sodat Hy jou uit daardie verknorsing kan haal en jou in die vry oop ruimtes kan inbring.
Dan dek die HERE vir jou ‘n tafel vol vet spyse, die beste proviand, snoeperye, die beste koring, goeie vleis, en beste van alles is, dat jou tafel oor en oor gedek sal word.
Ps. 63:5-9 sal vir jou waar word: “Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.
“Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins.
“Want U was ‘n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel.
“My siel is aan U verkleef; U regterhand ondersteun my.”
Komaan, gaan met ‘n gebroke hart na Jesus en maak reg want jy durf nie langer so voortgaan nie. Jesus heel die gebroke harte.
“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar ook?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Heb 12:12-13 – Sjibbolet