Saterdag 29 Februarie 2020

Is jy bereid?


As mens vir die HERE sê: “Gebruik my, dan moet jy bereid wees om te gaan waar Hy lei.

            Die aand onder die groot afdak op die Karooplaas met sy reuse gastehuis, het talle die HERE as hul Saligmaker aangeneem. Hulle het oor trekkers en waens en die heiningdrade en plaashek gehang. Te midde van ‘n stortvloed van trane kon mens die Engele se blydskap deel.

            Ek het van die een na die ander beweeg, my arm om hulle skouers gesit en bemoedig. Toe almal vol blydskap dankie sê, kom een van die manne na my toe: “Prediker, wil u nie saam met my na my huis toe stap om vir my siek kind te gaan bid nie,  asseblieftog.”

            Ek sou nooit vir die smekende pas bekeerde man kon nee sê nie. En daar stap ons. Hy voor, in die smal voetpaadjie in die maanlig. Dit was ver, maar ek weet die HERE was nie klaar nie.

            Uiteindelik kom ons by die klein huisie met die misvoer. Die verstikkende reuk van die koors het gehang in die vertrekkie. Die siek kindjie lê op ‘n dun matrassie agter die deur.

            Ek plaas my hand op hom. Ek het skaars begin bid of die koors wyk en die kindjie sit regop en vra vir water.

            Toe praat ek met die ma oor haar sieleheil. Sy sê: “Ek was by die HERE, maar ek is lankal weg op my eie pad.” Sy wil graag haar saak met die HERE regmaak.

            Sy kniel op die misvloer by ‘n klein banke waarop ‘n kort kersie die enigste lig verskaf.

            En sy bid: “Djere, U ken voor my want U het my siel gered. Maar die satan het nie van my vergeet nie. Ek is so jammer ek het afgedwaal en U teleurgestel. Dankie dat ek kan terugkom in Jesus hoede,” en sy bid nog so ‘n rukkie in trane en sê sy Amen.

            Na ‘n paar bemoedigende woorde en gebed het ek afskeid geneem.

            Die nag was doodstil, gevul met vrede, blydskap en glorie. Dankie Jesus.