Sondag 23 Februarie 2020

Jou lewe lê oop en bloot...

Sogename geheime sonde


Daar is die fabel van die twee bedrieërs wat vir die koning ‘n stel klere van goue garing gemaak het. Intussen het hulle die tolle garing gesteel en vir die koning vertel die garing is so fantasties dat mens nie eers die klere kan sien nie.

            So kom die koning die dag in sy oop koets deur die strate. Almal wou sy nuwe goue klere sien...totdat ‘n seuntjie hardop skreeu: “Kyk, die koning is kaal!”

            Die sogenaamde kleremakers het die koning bedrieg. Die koning het hulle geglo. Die volk het die storie geglo... totdat...

            En ek en jy? Bedrieg ons ook onsself... dat ons sogenaamde geheime sondes in orde is? Niemand weet daarvan nie.

            God sê nee: “Want God ken die geheime van die hart.”

Dan 2:28  Daar is 'n God in die Hemel wat geheime openbaar.

Sommige meen hulle sal met hul geheim na die graf gaan, en hulle oorskot is skaars begrawe of die waarheid seëvier.

Die spreekwoord sê: “Al gaan die leuen twee keer om die aarde, die waarheid agterhaal hom elke keer.

“Die waarheid hou altyd, die leuen kom gou aan die lig.” Spr 12:19

“Want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.” Matt 10:26

“Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13

Moet nooit die fout maak om te dink niemand weet nie "...  want U alleen ken die hart van AL die mensekinders"  1 Kon 8:39

"Die HERE kyk van die Hemel af; Hy sien AL die mensekinders.

Uit sy woonplek aanskou Hy AL die bewoners van die aarde, Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op AL hul werke.

Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees (eer), op die wat op sy goedertierenheid wag." Ps 33:13-15,18

"... HY KEN die geheime van die hart." Ps 44:22

"Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van U aangesig? Klim ek op na die Hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!" Ps 139:7-8

"Op ELKE plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies." Spr 15:3

"Want Hý sien tot by die eindes van die aarde; ALLES wat onder die Hemel is, aanskou Hy." Job 28:24

"Want MY oë is op AL hulle weë, dit is nie voor my aangesig bedek nie, en hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie." Jer 16:17

"Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die Hemel en die aarde nie? spreek die HERE." Jer 23:24

"En daar is GEEN skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar ALLES is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het." Hebr 4:13

"Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al." Ps 139:4

Jou probleem is veel groter as wat jy dink: “Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig.” Job 12:22

“Die dwaas het geen behae in verstandigheid nie, maar net daarin dat sy hart openbaar word.” Spr 18:2

“Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar.” Spr 26:26

“Maar daar is 'n God in die Hemel wat geheime openbaar...” Dan 2:28

“Waarlik, julle God is die God van die gode en die HERE van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om Nebukadnesar se geheim te openbaar.” Dan 2:47

“Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.” Mark 4:22

“Want die toorn van God word van die Hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk... Rom 1:18

Ons herhaal, jou probleem is veel groter as wat jy dink: “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die Koninkryk van God nie sal beërwe nie.” Gal 5:19-21

Al vind van hierdie goed net in jou gedagtes plaas, is jy skuldig. As jy negatiewe gedagtes,  vuil gedagtes of twyfel vertroetel, het jy ‘n probleem.

Tydens berading kom alles na vore want niks kan versteek word nie, maar ook dan besef mense hoe lank hulle al hulself bedrieg dat hulle wel geklee is, terwyl hulle naak is.

Gelowiges kla hulle gebede word nie beantwoord nie en dit kan nie beantwoord nie want hulle sogenaamde geheime staan in die pad.

Jare lank loop biologiese ouers bv. met  geheime in hul binneste. Hulle glo net hulle weet van die buite-egtelike kind wat hulle versaak het.  Geen mens kan ‘n normale lewe lei met so ‘n geheim nie. Jou geheim veroorsaak ‘n binding in jou gees en jare se onnodige swaarkry. Elke verjaardag, Kersfees, ens., dink jy aan jou baba. Die gedagtes los jou nooit.

Boonop is diesulkes skuldig aan ‘n veel groter misdryf… hulle staan in die pad van die vervulling van God se profesieë. 

            Maleagi profiteer: "Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die HERE kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen, (hoekom?) sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie." Mal 4:5-6

            “En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17 … (en wat nog?)…en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, (hoekom?) om vir die HERE 'n toegeruste volk te berei.

            Lees dit weer want dit is God se Raadsplan.

            Die hoofrede hoekom daar ‘n drang onder aanneemkinders en biologiese ouers is om mekaar te vind, is omdat dit juis deel van God se Raadsplan hier aan die einde van die tye is.

            Enigiemand wat God se Raadsplan in die wiele ry, speel met vuur. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Hebr 10:31

            Aanneemkinders ly aan verwerping. Op laerskool al verduur hulle spot en hoon as “optelkinders” en dit terwyl hulle heeltemal onskuldig is.

            Dis hartverskeurend om met aanneemkinders te werk wanneer hul ouers weier om met hulle kontak te maak.

            Ons sit met verhale van stukkende aanneemkinders. Die een oomblik is daar weiering tot versoening en nie lank daarna nie moet een van die partye na berou troos vind in die foto van ‘n grafsteen. Dis alles so onregverdig, so onnodig.

Ons sit met verhale van biologiese ouers wat hul lewe lank die geheim van ‘n ongehude baba met hulle saamgedra het. Hulle vertel van hul lyding deur die jare, hul vrese dat die waarheid straks iewers op die lappe kan kom… en wat gaan hul huweliksmaats en biologiese kinders se reaksies wees!

Hierdie probleem is ook op baie gemeentes van toepassing. Die gemeentes is vol geheime sondes en die predikante speel ‘n groot rol hierin: “Daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die Waarheid en hulle sal wend tot fabels.” 2 Tim 4:3-4

Aan jou wat die pad suiwer bewandel: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van 'n evangelis; vervul jou bediening.” 2 Tim 4:2; 4:5

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die HERE sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15

            Kom, laat die Waarheid almal dadelik vrymaak. Mens kan nie die Koms van die Messias so tegemoet gaan nie. – Wekroep