Gelowiges sal soos barmhartige Samaritane moet ingryp
“Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.
“Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” Openb 3:17-22
Die welstand van die Suid-Afrikaanse familie
Deur Danie Mouton: ‘n Predikant in Port Elizabeth wat fokus op predikant- en gemeentebegeleiding.
Gestel Suid-Afrika word voorgestel as ’n dorpie waarin 100 kinders (ouderdom 0-17) woon. Dan sal:
48 kinders ’n pa hê wat leef, maar afwesig in hulle lewe is;
36 kinders grootword in teenwoordigheid van hulle pa;
35 kinders by beide biologiese ouers woon;
40 slegs by hulle ma grootword;
3 slegs by hulle pa grootword;
23 kinders glad nie by ’n biologiese ouer woon nie;
8 van hulle by hulle grootouers woon;
1 sal in ’n huishouding woon sonder ’n volwassene aan die hoof;
34 kinders word groot in ’n huis met ’n volwassene in ’n vaste betrekking.[1]
Hoe gesond is die SA-familie?
Die SA-familie is duidelik in ’n krisis. Dit is ’n groeiende krisis. ’n Dekade gelede het 49 kinders (nou 36) grootgeword by hulle pa’s, en 42 (nou 48) het ’n afwesige pa gehad.
Met die term familie word bedoel die kleiner eenheid van gesin, maar ook die meer uitgebreide familie wat bestaan uit grootouers, voogde en ander familiestrukture. Ons weet dat die geïdealiseerde gesin (met ’n pa en ’n ma, boeties en sussies) baie min gesinne se werklikheid weerspieël.
In Suid-Afrika word die gemiddelde kind deur sy of haar moeder in ’n enkelouer-huishouding opgevoed. Die meeste kinders leef in huishoudings waar die volwassenes werkloos is.
Oorsake
Daar is verskeie en komplekse oorsake:
Die impak van meganisasie, industrialisasie, moderniteit, verstedeliking en globalisasie op die SA-familie.
Trekarbeid is steeds ’n enorme oorsaak van familieverbrokkeling.
Die apartheidsverlede van die land het sosiaal-ekonomiese ontwrigting en remedies ongelyk verdeel.
Geweld verklaar deels waarom soveel meer kinders aan vaderskant wees is. In 2007 was meer as ’n derde van nie-natuurlike sterftes aan geweld te wyte. Van hierdie geweldslagoffers was 87% manlik. Baie kinders is ook aan vaderskant wees, omdat hulle vaders nooit bekend was of is nie.
Die effek van die MIV- en vigspandemie op families word gereflekteer in die toenemende hoeveelheid weeskinders en huishoudings met kinders aan die hoof.
Effek van MIV en vigs
In Suid-Afrika is daar sowat 860 000 dubbele weeskinders (albei ouers oorlede), 2,5 miljoen kinders met ’n pa wat oorlede is, en 624 000 kinders wie se ma oorlede is. In die periode 2002 – 2008 het die getal weeskinders (enkel of dubbel) met sowat 33% toegeneem. Die hoeveelheid dubbele weeskinders het met 144% gestyg.
Hoewel die MIV- en vigs-pandemie in SA gestabiliseer het en die infeksiekoers nou besig is om af te neem, sal die hoeveelheid weeskinders steeds toeneem, of baie hoog bly. Dit het te doen met die tydsverloop tussen infeksie en sterfte.
Verskillende bevolkingsgroepe
Wat gesins- en familieverbrokkeling betref, moet ’n mens ook deur die bril van ras na ons samelewing kyk.
Terwyl 52% swart kinders ’n afwesige vader het en 41% bruin kinders, word slegs 12% Indiërkinders en 15% blanke kinders met ’n afwesige vader groot. 54% swart, 30% bruin, 7% Indiër en 24% blanke kinders word in ’n stedelike enkelouerhuis groot.
As praktiese gevolg hiervan is die leefwêreld van Afrikaanssprekende lidmate van die hoofsaaklik wit gementes waarskynlik ver verwyder van die realiteite waarmee die meeste SA-families gekonfronteer word. As ons Sondae oor ons gemeentes se kerkbanke kyk, lyk die familieprentjie radikaal anders as in die res van Suid-Afrika.
Opvoeding en onderwys
Weeskinders woon minder gereeld skool by, leef met laer voedingsekerheid, ly meer aan angs en depressie en ervaar groter blootstelling aan MIV-infeksie. Die risiko is nóg groter as die ma, eerder as die pa, dood of afwesig is. Enkelmoeders neem gemiddeld groter verantwoordelikheid vir die versorging van hulle kinders as enkelvaders.
Die oorlewing van jonger kinders tussen nul en drie jaar, kom in gedrang wanneer die moeder sterwend is, of onlangs gesterf het. Hierdie kinders se kans om self te sterf – in die jaar vóór óf ná hulle moeder se dood – is vier keer méér as kinders wie se moeder lewend en gesond is.
’n Weeskind wat ’n moeder verloor het, se kans om wel skool te gaan, is statisties ingekort. Hierdie kinders voltooi gemiddeld minder skooljare, en daar word minder geld aan hul opvoeding spandeer in vergelyking met kinders wie se moeders leef.
Hoe sterker die band met die biologiese familie, hoe beter die versorgingsgehalte van weeskinders, en hoe groter die kans dat hulle skool sal besoek.
Armoede
Armoede het ’n wesenlike impak op die familie. Ongeveer ’n derde van SA se kinders (5,6 miljoen) woon in oorvol huise. Slegs 34% kinders woon in ’n huishouding met ’n volwassene met ’n vaste werk. Twee-derdes word dus groot in huise waar niemand werk nie.
Dit beteken dat die kindertoelaag wat die staat betaal waarskynlik noodsaaklik is om oorlewing te verseker.
Gebroke families breek jongmense
Om in ’n stabiele gesin en liefdevolle familie groot te word, is vir baie ’n onbereikbare droom. Die voorreg om deur beide ouers opgevoed te word, is vir die minderheid beskore.
Die verbrokkeling van die gesin en familie het ’n geweldig impak op:
Opvoeding: Verskeie navorsingsprojekte dui op beter skolastiese uitkomste waar die pa teenwoordig is. Waar ouers emosionele en praktiese ondersteuning bied, vaar die kinders beter gedurende opleiding en later ook in die arbeidsmark.
Werkloosheid onder die jeug: Weens swak opleiding, is daar geweldige werkloosheid onder die SA-jeug. Gedurende 2009 was werkloosheid onder Sub-Sahara Afrika se jongmense gemiddeld 12%. Werkloosheid onder 15- tot 24-jariges in SA was 48%. Dit het in 2010 tot 51% gestyg.
Seks: Kinders uit disfunksionele families tree dikwels seksueel meer riskant op. Heelwat jongmense word ook ouers voordat hulle hul opvoeding en opleiding voltooi het.
Tienerfertiliteit het oor die laaste dekades skerp in SA gedaal – ook ná die instelling van die kindertoelaag in 1996. Die oorsake van tienerswangerskappe is kompleks, en benodig meer navorsingstoeligting.
Geweld en misdaad: Families speel ’n onontbeerlike rol in die sosialisering van jongmense. Kinders uit disfunksionele families mag geneig wees om geweld (verbaal en fisies) as normale vorm van interaksie te sien. Baie geweld kom binne nabye verhoudinge en in die familie self voor.
Waarheen met die SA-familie?
Die verskillende sektore in die samelewing het elk ’n krities-belangrike verantwoordelikheid:
Werkskepping en die bestryding van armoede. Die staat en sakesektor is hier belangrike rolspelers, maar gemeentes en die ondersteuning van innoverende werkskeppingsprojekte op mikroskaal is elke gelowige se verantwoordelikheid.
Volwassenes moet as ouers, of as oupas en oumas, vir jongmense optree. Elke ouer volwassene in elke gemeente moet “kleinkinders” in die gemeenskap gaan soek en begelei.
Gemeentes moet as geestelike ouers vir die totale jeug van die totale gemeenskap optree. Dit is nie genoeg dat ouers hulle kinders die weë van die Here leer nie. Ons moet ook invloed in die wyer gemeenskap uitoefen, met missionale kategese wat al die kinders van die gemeenskap innooi.
Gemeentes moet daarteen waak om geloofsvorming-inisiatiewe te loods wat slegs op die gemeenskap van gelowiges gerig is en wat ’n geïdealiseerde tradisionele gesinsopset veronderstel. Daar is baie kinders wat nie ouers het nie. Daar is baie disfunksionele versorgingstrukture waar kinders nie geestelik reg opgevoed word nie. Gemeentes moet maniere vind om na hierdie ruimtes uit te reik, vertrouensverhoudings te vorm en kinders na en vir die Here te begelei.
Betrokkenheid by die formele onderwyssektor is wesenlik belangrik. Ook hiér behoort gemeentes nie slegs na skole in die onmiddellike omgewing uit te reik nie. Verhoudings moet oor grense gevorm word met skole wat die breër bevolking dien. Hier is baie, dikwels eenvoudige, inisiatiewe nodig wat ’n enorme verbetering in die onderwys kan bewerkstellig.
Gemotiveerde jeug
Ten spyte van die vele uitdagings wat jongmense moet hanteer, bly die meeste gemotiveer en hoopvol dat hulle hulle doelwitte sal bereik. Sowat 94% van 12- tot 22-jariges het ’n goeie idee van die rigting wat hulle wil inslaan, 99% het spesifieke doelwitte wat hulle wil bereik, en 97% glo hulle eie aksies en inspanning sal bepaal of hulle hul doelwitte sal bereik. Meer as 90% jongmense voel ook hulle sal moeilike situasies kan hanteer.[2]
Miskien toon hierdie feite dat die meeste jongmense nie bewus is van die struikelblokke wat hulle sal moet oorkom om ’n gesonde en suksesvolle lewe te hê nie. Dit toon óók dat SA se jonger generasie hoë hoogtes kan bereik indien hulle die kans kry om groot te word in stabiele families en gemeenskappe, sonder geweld en met die geleentheid van ’n behoorlike opvoeding.
1. Die syfers in hierdie artikel March 2011). Die verslag is aanlyn beskikbaar by www.ngkok.co.za/Artikels/fam.pdf. Voor 1994 het dié instituut bekendheid verwerf vir sy navorsing oor die impak van trekarbeid en paswette op die SA-familie. Dis ontleen aan ’n navorsingsverslag van die First
2. Hierdie merkwaardige bevinding kom ook uit genoemde navorsingsverslag van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge.
[1] Die syfers in hierdie artikel is ontleen aan ’n navorsingsverslag van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, getiteld First Steps to Healing the SA Family (March 2011). Die verslag is aanlyn beskikbaar by www.ngkok.co.za/Artikels/fam.pdf. Voor 1994 het dié instituut bekendheid verwerf vir sy navorsing oor die impak van trekarbeid en paswette op die SA-familie.
[2] Hierdie merkwaardige bevinding kom ook uit genoemde navorsingsverslag van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge.