Vrydag 22 Februarie 2019

Werk want die nag is op ons!

Maak bedags jou eie bed op


Straks, as Christene Suid-Afrika weer ‘n voorste wêreldland wil maak, moet hulle begin deur hul eie beddens op te maak.

“As jy die wêreld wil verander, moet jy begin deur eerste ding soggens jou bed op te maak.” Dít was admiraal William H. McRaven se raad aan studente by die Universiteit van Texas in Amerika.

Dié nederige klein takie sal jou ’n gevoel van trots gee, het McRaven die studente verseker. Jy sal genoeg trots kry om jou aan te moedig om nog ’n taak aan te pak, en dan nog een en nog een . . .

“Teen die einde van die dag het daardie een taak wat jy aan die begin van die dag afgehandel het, opgebou tot ’n reeks voltooide take.

“Om jou bed op te maak, versterk ook die idee dat die klein dinge in die lewe saak maak. Want hoe suksesvol gaan jy met die groot dinge wees as jy nie die klein dingetjies kan regkry nie?”

            Suid-Afrika is in ‘n krisis. Altesame 34-miljoen Suid-Afrikaners het op hul sensusvorm ingevul dat hulle Christene is. Waar is hierdie Christene, hoekom hoor en sien mens hulle nie?

            As mens ‘n Christen is het jy verantwoordelikhede. Jy moet bv jou Christenskap uitleef en die Evangelie met medelye uitdra aan ander. Jy is nie hier om te protesteer nie, jy is hier om te lei want die geloof en werke gaan saam. Jak 2:14

            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;

“en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

“en... pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15

Let op: “Die Here vertraag nie die belofte (van sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Pet 3:9

Maar uiteindelik word die streep getrek:

“En die Engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die Hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle Ewigheid lewe, wat die Hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, (Let op) dat daar geen tyd meer sal wees nie.” Openb 10:5-6

            Die Admiraal se raad is straks net wat ons nodig het. Ons wil, ons kan en ons moet Suid-Afrika verander. Kom ons hanteer alles met ‘n hernude aanslag, beginnende by die opmaak van ons beddens. Werk want die nag is op ons. – Wekroep