Woensdag 13 Februarie 2019

Die Drie-filter toets



In antieke Grieland (469 - 399 BC), was Socrates  wyd bekend vir sy wysheid. Een dag het ‘n kennis na die filosoof gegaan en vir hom gesê: “Weet jy wat ek  nou net van een van jou studente gehoor het?”

            “Net ‘n oomblik,” het Socrates geantwoord. “Voordat jy my vertel. Kom ons doen eers die “Drie. -filter ‘Toets’”.       

            "Drie-filter Toets?"

            “Dis korrek... voordat jy met my oor my student praat. Ten eerste: Het jy doodseker gemaak dat dit wat jy my wil vertel die waarheid is?”

            “Nee”, sê die man, ek het dit maar net gehoor.”

            “Goed, sê Socrates, “jy weet nie of dit die waarheid is nie. Nou vir die tweede toets: Is dit wat jy my van my student wil vertel, iets goeds?”

            “Nee, inteendeel...”

            "So," sê Socrates, "jy wil my iets sleg van my student vertel en jy is nie seker of dit die waarheid is nie...”

            Die man het verleë sy kop geskud.

Socrates het voortgegaan: “Dit wat jy my wil vertel, kan dit vir my van enige nut wees?”

“Nee, nie werklik nie.”

            “Socrates het die gesprek afgesluit met: “Wel,"as dit wat jy my wil vertel nie die waarheid is nie, dit niks goed is nie en vir my tot geen nut sal wees nie, waarom dit hoegenaamd aan my vertel?”

            “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Spr. 18:21.

            Spreek jy Lewe, of spreek jy dood?

            Lewe jy “onder” die omstandighede, of “bo”, die omstandighede?

            “Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.

            “‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?

“‘n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ‘n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie.” Jak. 3:10-12.

As ons verklaar dat ons Gelowiges is, dan lewe ons bo die omstandighede, dan spreek ons seën, selfs in die mees benarde situasie, en nie verdoemenis nie.

“Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.” Matt. 12:35

Soms trap ons in die slagyster en ons vergeet dat as Gelowiges, het ons ‘n “goeie skat in ons hart” en dan praat ons negatiewe, ydele dinge.

“Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.

“Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” Matt. 12:36-37.

Ydele woorde, is woorde van hopeloosheid, wanhoop,  skyn, bog, nietighede, waardeloos, vrugteloos, nutteloos. Dis ook wanneer mense grootpraat, wanneer hulle bluf, verwaand is, roemsugtig, ook wanneer mens die naam van die HERE verkeerdelik gebruik.

Dood en Lewe, is in die mag van die tong.

As mens elke dag van jou lewe aanhou verdoemend praat van ander, elke dag praat oor die euwel van misdaad en die negatiewe beklemtoon, spreek jy ydele woorde, spreek jy wanhoop, spreek jy dood.

Om gedurig die duisternis aan te val, is om dood te spreek, alles verder te vernietig. Moenie die duisternis aanval nie, steek eerder ‘n lamp op, spreek Lewe!

Gelowiges besef dit nie almal nie, maar inderdaad is hulle in beheer van die situasie, en hulle kan die situasie omkeer deur Lewe te spreek.

Kyk hoe pragtig is die volgende: “Die mond van die regverdige is ‘n fontein van lewe, maar die mond van die goddelose verberg geweld.” Spr. 10:11. — Wekroep

Kontak gerus die skrywer by sjibbolet.buro@gmail.com