‘n Vuil, verslonste vrou strompel een aand deur die strate van Parys. Sy was ‘n dranksugtige. Haar kindertjies het onbemind en verwaarloos in die strate rondgehardloop. Haar man was raadop en wou nie langer met haar saamleef nie.
Sy loop by die kerksaal van die Heilsleër verby. Iemand nooi haar in. In haar besope toestand verstaan sy nie veel wat gepraat word nie.
Die diens eindig en sy begin saam met die ander na buite strompel. Een van die Heilsleërmanne kry ‘n skielike ingewing. Uit die blompot op die tafel trek hy ‘n wit roos en sit dit in die vrou se hand.
Skaars bewus van wat sy doen neem sy dit na haar krot van ‘n huis toe. Waarin kan sy die roos sit? Die enigste ding wat sy kry is ‘n leë wynbottel. Sy steek die roos in die bottel, sit dit op ‘n tafel neer en gaan sit om na die roos te staar.
Die groot, spierwit roos steek af by die omgewing. Reinheid, skoonheid straal uit die roos oor die liederlikheid van die krot. Dit vra vir ‘n ander omgewing.
Die vrou kom orent en skrop die tafel rondom die roos skoon. Sy gaan weer sit. Nou sien sy die smerige toestand van die vloer. Sy vee die vloer na die beste van haar vermoë, maak skoon waar sy kan. Sy gaan weer sit.
Toe sien sy die vuil skottelgoed toringhoog staan. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd word die skottelgoed gewas en sy pak dit weg.
Toe die man later die aand tuiskom, dink hy, hy het by die verkeerde huis ingestap. Dit was ‘n keerpunt in daardie gesin se lewe. Die huis het skoon geraak. Liefde het ingekom.
Hulle het saam die Heilsleërdienste bygewoon en tot Wedergeboorte gekom.
Met so min as ‘n roos kan jy ‘n verskil aan iemand se lewe maak.
Nog ‘n interessante verhaal speel af in ‘n Suid-Afrikaanse gemeente.
‘n Jongman van so 28 jaar het gereeld kerk toe gegaan omdat dit vir hom die regte ding was om as jong Afrikaner te doen. Hy het gewoonlik agterlangs gesit want hy het nooit gevoel of hy regtig by die ander gemeentelede inpas nie.
Een Sondagaand met die sing van die laaste lied, merk hy so tussen die gemeentelede deur ‘n ander jongman in die Diakenbanke op... die man het met ‘n uitbundige vrede en blydskap die lied uit volle bors gesing, terwyl die ander mense haas ‘n glimlag had.
Hy het verstom na die jong diaken gestaar. Na die afsluiting stap hy al die pad deur die kerk na die betrokke diaken toe, stel homself voor en vra beleef of hy die diaken ‘n vraag mag vra: “Hoekom het jy met soveel uitbundige blydskap en vrede die laaste lied gesing... niemand anders het dit met sulke oorgawe gesing nie?”
Die diaken het met ‘n glimlag geantwoord: “Ek is Wedergebore en ek het Jesus lief. Wanneer ek sing, sing ek vir Hom.”
Die jongman het daardie aand sy hart vir Jesus gegee en die hele volgende dag oral sy getuienis in blydskap en trane aan almal vertel.
Net nog ‘n voorbeeld hoe om siele vir Jesus te bereik.
“So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer. “ Luk 15:10 – Wekroep
• Luister: https://video.search.yahoo.com/search/video?fr=yhs-invalid&p=There%27s+a+new+name+written+down+in+Glory+-+Gaithers#id=1&vid=aac53365da21c09cc475871d423e9a11&action=click