Woensdag 20 Februarie 2019

Die “Barmhartige” Samaritaan

Jesus heel die gebroke harte



Hy was nie net ‘n Samaritaan nie, hy was ’n barmhartige Samaritaan. Hy was vol medelye of mededoë, dus barmhartig. Hy het die beseerde se wonde ontsmet en toegebind.

            Meeste ander sou die man daarna net daar gelos en hom welstand toegewens het. Maar die medelye noop hom om die man op sy rydier te help en hom na die naaste herberg te neem.

            Hy betaal vir drie weke vooruit en versoek dat die eienaars van die Herberg die man moet versorg. Hy sal met sy terugkeer weer daarlangs kom en as daar uitstaande gelde is sal hy dit betaal.

            Samaritane en Jode het mekaar vermy, eintlik vyandelik teenoor mekaar gewees.

In Lukas 10 vertel Jesus van die Jood wat aangeval en langs die pad gelos is om te sterf.

            Twee Jode, eers ‘n priester en toe ‘n Leviet reis daarlangs. Hulle sien die beseerde en besluit om verby te beweeg, Toe kom die (barmhartige) Samaritaan.

            Ons sien ook in SA die kinders en ander wat in seerkry en swaarkry aan ploeter, en ons stap verby want ons het nie medelye  nie. Ons is nie barmhartig nie.

Gaan kyk dan weer hoeveel medelye die Messias gehad het sodat ek en jy gered kon word... en ons is veronderstel om in Jesus se voetspore te volg.

            Kyk wat die Skrif leer:

            “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” Ps 34:19

            “Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” Ps 51:19

            “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” Ps 147:3

            “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die HERE en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte (Terpentynbome) van geregtigheid, 'n planting van die HERE, tot sy verheerliking.” Jes 61:1-3

            “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die Evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” Luk 4:18-19

            Terpentyn kom vanaf die Terpentynboom en word veral medisinaal as geneesmiddel gebruik. Daar is ook talle ander gebruike voor. Is jy ‘n Terpentynboom?

            Hoe is die HERE naby? Deur my en jou. Ons is geroep om Jesus se aardse taak te voltooi. Daarin kan ons net slaag deur medelye met die verlorenes en ellendiges te hê.

            Ons het verlede Maandag na die jongste statistiek gekry oor hoe verflenterd ons samelewing is. Gebroke huisgesinne is volop.

            Reik uit na die ellendiges, gee kos en klere en deel traktate uit. Vorm ‘n gebedsgroep wat getrou vir die uitreiking bid. Doen dit nie dan en wan nie, maar gereeld.  Doen wat jou hand vind om te doen. – Wekroep