Woensdag 01 April 2015

Jou Tong het mag oor Lewe en Dood...


Image result for people speaking to each other

Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Spr. 18:21.
            Spreek jy lewe, of spreek jy dood?
            Lewe jy onder die omstandighede, of bo, die omstandighede?
            “Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.
“‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?
“‘n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ‘n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie.” Jak. 3:10-12.
As ons verklaar dat ons Gelowiges is, dan lewe ons bo die omstandighede, dan spreek ons seën, selfs in die mees benarde situasie, en nie verdoemenis nie.
“Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.” Matt. 15:11.
“Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.” Matt. 12:35
Soms trap ons in die slagyster en ons vergeet dat as Gelowiges, het ons ‘n “goeie skat in ons hart” en dan praat ons negatiewe, ydele dinge.
“Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
“Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” Matt. 12:36-37.
Ydele woorde, is woorde van hopeloosheid, wanhopig, van skyn, bog, nietigheid, waardeloos, vrugteloos, nutteloos. Dis ook wanneer mense grootpraat, wanneer hulle bluf, verwaand is, roemsugtig, ook wanneer mens die naam van die HERE verkeerdelik gebruik.
Dood en Lewe, is in die mag van die tong.
As mens elke dag van jou lewe aanhou verdoemend praat van ander, elke dag praat oor die euwel van misdaad en die negatiewe beklemtoon, spreek jy ydele woorde, spreek jy wanhoop, spreek jy dood.
Om gedurig die duisternis aan te val, is om dood te spreek, alles verder te vernietig. Moenie die duisternis aanval nie, steek eerder ‘n lamp op, spreek Lewe!
Gelowiges besef dit nie almal nie, maar inderdaad is hulle in beheer van die situasie, en hulle kan die situasie omkeer deur Lewe te spreek.
Kyk hoe pragtig is die volgende: “Die mond van die regverdige is ‘n fontein van lewe, maar die mond van die goddelose verberg geweld.” Spr. 10:11.
“Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is ‘n ondergang wat naby is.” Spr. 10:14.
Let op wat gebeur wanneer mens inderdaad die Bybel bestudeer, wanneer mens navorsing oor ‘n onderwerp soos bv. die tong doen: Jy was jouself skoon, jy reinig jouself. Strofe na strofe is soos helende waters wat oor jou gees en siel spoel.
Sonder kennis van die Skrif, gaan selfs ‘n hele volk ten gronde.
“Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.” Spr. 13:3.
Lees weer: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.” Spr. 18:21.
Spreek mens dus dood, gaan jy beslis die vrugte daarvan eet. Spreek mens Lewe sal jy vir seker die vrug daarvan eet.
Ons het dit reeds genoem, maar ons herhaal: Ja, dit gebeur dat ons soms in slagysters trap.
“Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.
“Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee.
“Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voort gedryf word, word gestuur deur ‘n baie klein roer net waarheen die stuurman wil.
“Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand.
“Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.
“Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur.
“Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif.
“Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.
“Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.” Jak. 3:2-10
Dit is so dat ons stange in die perde se bekke sit sodat ons beheer oor hulle kan hê om hulle te stuur waar ons wil.
Gebruik dan die Woord as die stang in ons monde sodat die Heilige Gees ons kan stuur waar Hy wil.
Gebruik die Woord as die roer in ons lewens sodat ons nie rigtingloos, doelloos, op die see van die lewe ronddobber nie.
Die woorde wat ons spreek: Bied dit aan ons en ander rondom ons Lewe, of dood? Bied ons woorde hoop, of wanhoop?
Dis baie duidelik dat ons verantwoordelik is vir dit wat ons spreek!
Spreek ons dan verantwoordelike of onverantwoordelike dinge?
Wanneer ons ander gereeld aanval en beledig, selfs al is dit met rede, dan spreek ons dood. Dan gee ons krediet aan die euwels.
Wanneer ons dood spreek, word ons gebede ook nie beantwoord nie.
“En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
“Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.” Markus 11:25-26
Dit is hoe dit is: Sonder vergifnis word ons gebede nie beantwoord nie.
Met vergifnis en wanneer ons Lewe spreek, kan ons die ganse situasie in bv. Suid-Afrika, maar ook in ons eie lewens en huise, skole en werkplekke, omkeer.
In Rigters 6:1 sê God aan Gideon: Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, het die HERE die kinders van Israel oorgegee in die hand van die Midianiete – sewe jaar lank!
            Sewe jaar lank! Dis mos nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer duidelik wees as ooit te vore.
            Dit lei geen twyfel nie dat die Skrif verwag dat die Christen hom moet onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
            So, loof die HERE, bid vir die owerheid, dien die HERE. Spreek Lewe! Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk maar net so.
            Die prentjie word verder ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy ‘n jaloerse God is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
            Met ander woorde, terwyl ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons probeer doen wat God sê Sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
            Wanneer die HERE sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit ‘n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al lyk dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit waarskynlik omdat die Gelowiges nie vir die regering bid nie.
            Die HERE is in beheer van die koning. In Spreuke 21:1 lees ons: “Die koning (staatspresident) se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.”

·       Die nuwe vertaling lees: “Die HERE kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!

So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer. Die waarheid is dat die Christendom in beheer van die wêreld is, en dit onder Leierskap van die Almagtige GOD.
            Luister wat sê Psalm 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
         
Halleluja! Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker;
Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans,
Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
Hy versier die ootmoediges met heil.
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
Hoekom?
Om (sodoende) wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!

Dat die HERE opsoek is na voorbidders maar hulle selde vind, word weerspieël in die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
            Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussen by tree nie,”
            En sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
            “Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land…  maar Ek het niemand gevind nie.” —  Sjibbolet