Wys tans plasings met die etiket versoeking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket versoeking. Wys alle plasings

Woensdag 06 Maart 2019

Gehoorsaamheid Eerste

Doen dit onverwyld


“Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme." 1 Sam 15:33

            In sy boek "How to be a happy Christian", wat in die 70-tiger jare verskyn het, vertel J. Nieboer van 'n sakeman, wat altyd sy tiende aan die Here gegee het. Op 'n dag kry hy kennis om binne 'n jaar sy sakeperseel te ontruim.

Ses maande lank soek vergeefs na 'n ander perseel. Intussen bied die bank aan om die gebou op te rig, as hy die bouperseel voorsien. Binne 'n paar weke kry hy 'n geskikte stuk grond.

Die prys was $30 000. Hier het sy stryd begin. Hy het $30 000 in die bank, maar $10 000 hiervan was tiende geld wat hy laat oploop het, om aan 'n sendingorganisasies te stuur. Die verkoper wys sy aanbod van $20 000 van die hand.

Die versoeking was groot om die $10 000 te gebruik. Juis daardie dag, lees hy Maleagi 3:10: "Bring die hele tiende na die skathuis, en beproef My tog hierin of Ek vir julle nie vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloed sal uitstort nie." Dit het vir hom die saak beslis. Hy het dadelik die sendingkantoor gebel en hulle van die $10 000, wat hy vir hulle het, in kennis gestel. Hulle moet dit asseblief dadelik laat haal.

Pas het hy die telefoon neergesit of dit lui weer. Nou was dit die eiendomsagent wat bel. "Ek het vir jou goeie nuus," sê hy. "Jy kan die grond nou vir $20 000 kry." Vir die sakeman se geestelike lewe was dit 'n geseënde ondervinding.

            Die weg van die HERE lyk soms na 'n nadelige pad, maar dan ontdek ons, gehoorsaamheid aan die HERE, loop op die einde op 'n wensaak uit. "Onthou die trekpad waarlangs die HERE julle veertig jaar lank deur die woestyn gelei het. Hy het julle in die moeilikhede laat beland om julle te toets en te kyk hoe julle gesindheid sou wees…of julle sou gehoorsaam."
Deut 2-5

Hoe ons op teleurstelling en versoeking reageer, leer ook aan ons wat die inhoud van ons hart is. In so 'n toetsperiode kom die HERE se Woord ons met raad en leiding tegemoet.

Ons houding moet altyd wees soos dié van Dawid in Psalm 25:3-5: "Niemand wat sy verwagting in U stel sal beskaam word nie…Maak my U wil bekend, HERE, leer my u paaie. Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin…in U stel ek elke dag my verwagting." – Wekroep