Wys tans plasings met die etiket betaal jou tiendes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket betaal jou tiendes. Wys alle plasings

Dinsdag 29 September 2020

Jou tiendes seën selfs jou nageslag wat nog in jou lende is…

Gelowiges leef onder die Genade en nie onder die Wet nie, maar tiendes was nooit deel van die Wet nie, nie in die Ou- of die Nuwe Testament nie. Ons vereer die HERE met lofsange, offerandes en tiendes. Tiendes het met liefde te doen.

Ons kan tel hoeveel sade daar in ‘n appel is, maar ons kan nooit weet hoeveel appels in die sade is nie, nie voordat ons die sade plant nie. Dieselfde geld vir ‘n mieliekop.

Dit beteken dat wanneer ons saai, moet ons ‘n oes te wagte wees. Alle boere saai, juis omdat hulle ‘n oes te wagte is… en hoe meer hulle saai, hoe groter die oes.

            Let op: “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon (geld), sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.

            “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grootste getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grootste onregverdig.

            “As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?” Luk 16:9-11

            Geld is onheilig, onrein, maar wanneer ons dit aan die HERE gee, dan word dit geregverdig. Wees getrou in die gee van jou tiende en offerande en jou totale inkomste word geheilig en geseën.

            As ons nie getrou is in die gee van ons tiendes nie, is die volgende van toepassing: “En as julle nie getrou was in 'n ander (die HERE) se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?” Luk 16:12

            Die profeet Maleagi sê: “Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?

“Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.

“Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!

“Bring die hele tiende na die skathuis (hoekom?), sodat daar spys in my huis kan wees; en (let op)beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die Hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.

“Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.

“En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.” Mal 3:7-12

Dis duidelik, bring ons, ons kant, bring God sy kant en Hy bring elke keer in oorvloed.

            Let verder op: “En Melgisédek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van Hemel en Aarde.

“En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.” Gen 14:18-20

Melgisédek was ‘n priester van God (soos wat ons veronderstel is om te wees). Hy seën Abraham.

In Hebr 7 gee Abraham aan Melgesédek ‘n tiende. Dan raak Levi betrokke by die tiendes… maat let op, Levi is ‘n agterkleinkind van Abraham (hy het uit die lende van Abraham voortgekom).

Levi was soos Abraham ook ‘n buitengewone geseënde man. Juis hier sien mense dat Levi geseënd was omdat hy aan Abraham tiende gegee het… dat Levi reeds geseënd was terwyl hy nog in Abraham se lende was.

So sal ons nageslag in ons lende ook geseënd wees as ons – nie wetties nie – maar onder die verbond van Genade ook tiendes en offerende gee.

Baie belangrik: As ons ‘n tiende en offerhande van ons inkomste gee, dan is die res van ons inkomste ook geseën: “En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.” Rom 11:16

Lees ook: Hebr 7:5-10 “7:5 Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel 'n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.

“Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.

“En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.

“En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.”

Ons is nou die besitter van die Beloftes, dis noodsaaklik dat ons tiendes en offerhande gee.

As jy nog nooit tiendes en offerende gegee het nie, maak die saak met die HERE uit, want Hy belowe in liefde en genade: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en (let op) ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9…  en begin dan jou tiendes en offerande gee en beproef die HERE hierin.

Dit is oor en oor bewys dat diegene wat hul tiendes en offerhande gee, in oorvloed ontvang en selfs dat, hoe meer hulle gee, hoe meer ontvang hulle.

Hier word nie net verwys na die tiende van jou geldelike inkomste nie, maar na alles wat jy ontvang. Ontvang ‘n slagding, gee die tiende daarvan, ens. Veronderstel jy ontvang ‘n motor as geskenk, bepaal die waarde van die motor en gee die tiende in kontant. So seën jy ook iou nageslag. – Wekroep


Woensdag 06 Maart 2019

Gehoorsaamheid Eerste

Doen dit onverwyld


“Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme." 1 Sam 15:33

            In sy boek "How to be a happy Christian", wat in die 70-tiger jare verskyn het, vertel J. Nieboer van 'n sakeman, wat altyd sy tiende aan die Here gegee het. Op 'n dag kry hy kennis om binne 'n jaar sy sakeperseel te ontruim.

Ses maande lank soek vergeefs na 'n ander perseel. Intussen bied die bank aan om die gebou op te rig, as hy die bouperseel voorsien. Binne 'n paar weke kry hy 'n geskikte stuk grond.

Die prys was $30 000. Hier het sy stryd begin. Hy het $30 000 in die bank, maar $10 000 hiervan was tiende geld wat hy laat oploop het, om aan 'n sendingorganisasies te stuur. Die verkoper wys sy aanbod van $20 000 van die hand.

Die versoeking was groot om die $10 000 te gebruik. Juis daardie dag, lees hy Maleagi 3:10: "Bring die hele tiende na die skathuis, en beproef My tog hierin of Ek vir julle nie vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloed sal uitstort nie." Dit het vir hom die saak beslis. Hy het dadelik die sendingkantoor gebel en hulle van die $10 000, wat hy vir hulle het, in kennis gestel. Hulle moet dit asseblief dadelik laat haal.

Pas het hy die telefoon neergesit of dit lui weer. Nou was dit die eiendomsagent wat bel. "Ek het vir jou goeie nuus," sê hy. "Jy kan die grond nou vir $20 000 kry." Vir die sakeman se geestelike lewe was dit 'n geseënde ondervinding.

            Die weg van die HERE lyk soms na 'n nadelige pad, maar dan ontdek ons, gehoorsaamheid aan die HERE, loop op die einde op 'n wensaak uit. "Onthou die trekpad waarlangs die HERE julle veertig jaar lank deur die woestyn gelei het. Hy het julle in die moeilikhede laat beland om julle te toets en te kyk hoe julle gesindheid sou wees…of julle sou gehoorsaam."
Deut 2-5

Hoe ons op teleurstelling en versoeking reageer, leer ook aan ons wat die inhoud van ons hart is. In so 'n toetsperiode kom die HERE se Woord ons met raad en leiding tegemoet.

Ons houding moet altyd wees soos dié van Dawid in Psalm 25:3-5: "Niemand wat sy verwagting in U stel sal beskaam word nie…Maak my U wil bekend, HERE, leer my u paaie. Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin…in U stel ek elke dag my verwagting." – Wekroep