Wys tans plasings met die etiket traktaatjies. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket traktaatjies. Wys alle plasings

Saterdag 11 Mei 2019

Ons soek na traktaatjies


Die Clyderivier is ‘n groot en belangrike handels- en skeepsbou roete  in Brittanje en is sowat 180km lank.

Op een van die Clyderivier se vakansiebote staan ‘n man traktaatjies en uitdeel, vertel “A Message of God.” `n Man van Glasgow neem `n traktaatjie en merk op: “Ek is nie gekant teen hierdie soort ding wat jy nou doen nie, maar ek is bevrees dit rig nie veel goeds uit nie. In my jonger dae het ek dit ook gedoen, maar ek het nooit enige vrug op my pogings gesien nie.”

Die jongman word effens moedeloos, want die man wat met hom praat, lyk na ‘n ordentlike man wat moontlik self ‘n Gelowige is.

Hy trek sy skouers op, glimlag verleë, en sê: “Ek het deur die lees van ‘n traktaatjie tot bekering gekom.”

Die man van Glasgow stel dadelik belang. Hy bly staan en vra die jongman verder uit.

            Die jongman vertel hom hy was 12 jaar oud, toe hy een wintersaand by ‘n sendingsaal verbystap. Buite staan ‘n man om mense in te nooi om die diens by te woon en vir elkeen gee hy ‘n traktaatjie. Hy neem die traktaatjie en gaan in om na die preek te luister. Die preek ontstel hom en maak hom bekommerd oor sy siel.

Tuisgekom, lees hy die traktaatjie. Dit was ‘n duidelike stap vir stap beskrywing van hoe ‘n mens met jou sondebesef by Christus as Verlosser kan uitkom.

Hy het daar in sy kamer by sy bed gekniel en Jesus as sy Verlosser aangeneem. Daardie aand, vertel die jongman vir die Glasgowman  het hy die Messias gevind en leef nou vir Hom en daarom, in sy vrye tyd deel hy traktaatjies uit sodat ander ook, soos hy, gered kan word.

“Waar het dit alles gebeur?” vra die Glasgowman. Die jongman noem die straat en sendingsaal se naam en ook wanneer dit alles gebeur het.

Die man raak bewoë, vee oor sy oë en gryp die jongman se hand. “Toe ek ‘n jong Christen was, was dit my werk om by daardie saal se deur te staan, mense in te nooi en traktaatjies uit te deel.

“Weet jy, ek dink ek onthou jou. Ek het met jou gepraat en jy het die traktaatjie geneem, bietjie geweifel en toe in die saal binnegegaan.

“Maar ek het intussen moed opgegee. En nou, na byna 20 jaar, wys die HERE vir my dit was nie tevergeefs nie! As God my lewe spaar, gaan ek my ontrouheid bely en weer vir Hom begin werk.”

Vraag is: Hoeveel meer mense kon nie gered gewees het as die man aangehou het om traktaatjies uit te deel nie? Ons durf nooit opgee nie want sy Woord is lewendig en Hy belowe Sy woord sal nooit leeg terugkeer nie.

Traktaatjies het feitlik uitgesterf, maar daar  is deesdae opnuut navraag daarna. Kyk tog asseblief in julle boekrakke, laaie, kaste, of julle nie nog van vervloë dae se Afrikaanse traktaatjies daar vind nie en stuur dit asseblief aan ons. – Wekroep