Wys tans plasings met die etiket erfporsie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket erfporsie. Wys alle plasings

Woensdag 28 November 2018

Het jy al jou erfporsie opgeeis?



Die Nuwe Testament is die Testament wat Jesus aan my en jou as Gelowige nagelaat het. Net soos jou eie testament wat jy eendag nalaat, het Jesus talle dinge aan ons bemaak, maar met voorwaardes. Kom die voorwaardes na en eis jou erfporsie op.

   Net soos met enige testament, as mens nie dit  wat jy geëerf het opeis nie, word dit nooit joune nie. Dis hoekom jy die Testament moet bestudeer.

Luister wat sê Jesus in Mat 26:28 “Want dit is My bloed, die bloed van die Nuwe Testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.”

Ook in Mar 14:24 “En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die Nuwe Testament, wat vir baie uitgestort word.”

Luk 22:20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: “Hierdie beker is die Nuwe Testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.“  1 Kor 11:15

Die volgende klousule lees: Heb 9:15 “En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die Ewige erfenis kan ontvang.”

‘n Gelowige is ‘n erfgenaam, aldus klousule Rom 8:16 “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede- erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Rom 8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”

Daar is kere wat ons nie antwoord kry nie. Dit staan in die Testament, maar ons lees dit nie raak.

Vorwaarde 1: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Heb 11:6

Let op: “Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.

   “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg (probleem) sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart (Voorwaarde) twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.

   “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.

   “En wanneer julle staan en bid, (Voorwaarde) vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die Hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

   “Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die Hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.” Mark 11:22-26

   Dus, as ons nie vergewe nie, kan Hy nie vergewe nie en ons erf nie.

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld (Voorwaarde) gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

(Voorwaarde) “Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13

“Halleluja! Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees (eerbiedig, eer betoon), wat 'n groot welbehae in sy gebooie het.

   “Sy nageslag sal groot wees op die aarde; die geslag van die opregtes sal geseën word.

   Kyk wat erf jy: “Oorvloed en rykdom is in sy huis; en sy geregtigheid bestaan tot in Ewigheid.” Ps 112:1-3

   Veral plaaskinders getuig, hulle ouers se testament kan vol voorwaardes wees. Jy mag bv die plaas beboer, maar jy erf bv eers as jy 30 jaar oud is en as jy bewys gelewer het dat jy werklik ‘n boer in murg en been is. … so nie word die plaas verkoop en die geld gelykop onder al die kinders verdeel. Erf jy wel die plaas, moet jy sekere bedrae aan jou susters uitbetaal.

   Kom die voorwaardes na, en Jesus se hele testament is joune. Ondersoek ook wat jy met jou erfporsie moet maak. Dit sal ‘n wonderlike Bybelstudie (Testament-studie) oplewer. – Wekroep

Vrydag 11 Maart 2016

Eis jou erfporsie op.


Image result for pictures of last will and testament


"Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is… die beker geneem en gesê: 'Hierdie beker is die Nuwe Verbond (Testament) wat deur My bloed beseël is." 1 Kor 11:23 – 26
            Gelowiges is regmatige erfgename van Jesus se Testament. “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom 8:16-17
            Ek en jy laat ook eendag ‘n testament na en die erfgename sal beslis erf en dit erf wat aan hulle bemaak is. So ontvang ons ook dit wat Jesus aan ons bemaak het.
            Mens kan egter eendag ‘n plaas erf. Maar as jy nie die erfporsie gaan opeis nie, sal die plaas nooit joune word nie.
            So het ons ook talryke seëninge by Jesus geërf, maar ons kan dit nooit besit as ons dit nie gaan opeis nie, ons eie maak nie.
            Kyk, so lyk deel van ons erfporsie:
            Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.
            Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.
            Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.
In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.
            Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. So, moenie bid vir reën nie want nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.
            Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            As jy tot nog toe onnodig gebrek gelei het weens jou onkunde van die Woord, dink aan al die ongereddes wat geen jota of titel hiervan verstaan nie. Hulle erf niks. Kry hulle jammer en dra die Goeie Boodskap uit en bring die gerwe.
 Indien jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik –besoek www.thesower.org.za
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA  – Sjibbolet