Sedert sy jeug was Graaf Nikolaus von Zinzendorf ‘n ywerige Christen asook ‘n man van aksie. Hy het sy deure van sy reuse landgoed vir die vervolgde Protestante van Europa oopgestel, sodat hulle iewers skuilplek teen die genadelose storms kon vind.
Toe het Von Zinzendorf se barenswee begin. Hy het gehoop op liefde en begrip: wat hy gehoor het was die stem van geskille – en ons hoor dit vandag weer.
Die geskille was oor tientalle sake, alles van minder belang. Von Zinzendorf het verlang om God se kinders verenig te sien, maar eindelose teologiese twispunte het die uitdra van die Evangelie verteer.
Von Zinzendorf het dae en nagte in gebed deurgebring. Ander sluit later by hom aan. Op 14 Augustus 1714 het die antwoord gekom. Von Zinzendorf het ‘n Nagmaalsdiens gehou waarheen almal genooi was.
Die heerlikheid was meer as wat vlees en bloed kon hanteer. Gelowiges het in die HERE se teenwoordigheid neergeval. Die Kruis met sy diepste betekenis is onthul. ‘n Goddelike metamorfose vind onder die aanwesiges plaas. Christus word vir almal alles.
Die Morawiese beweging kom op dreef. Hulle het ‘n 24-uurse gebedsiklus gevorm en groepe het dag en nag tien jaar lank gebid. Ja, jy lees reg: Tien jaar lank dag en nag.
Die gevolg daarvan was dat oor ‘n tydperk van 25 jaar 100 sendelinge na alle dele van die aardbol uitgereik het. Die Morawiërs het ‘n wêreldwye beweging op tou gesit wat uiteindelik Protestantisme van polemiek tot sending laat swaai het.
John Wesley, ‘n spruit van die Morawiërs, het na sy grootse ondervinding in Aldersgate na Herrnhut gegaan om die wonderwerk self te aanskou.
Hy skryf aan die gelowiges tuis: “Ek het ‘n kerk gevind waar mens die atmosfeer van die Hemel self inasem.”
Dit is wat Suid-Afrika nodig het: ‘n Goddelike ingryping! Wat baat dit ons om te verklaar dat ons Christene is en niemand sien God in aksie in ons lewens en in ons land nie.
Reg oor SA skakel Christene by gebedsgroepe in. Ons glo daar is ‘n Goddelike ingryping in wording, ‘n kragtige geestelike herlewing is aan die kom, nie net in SA nie, maar reg oor die wêreld.
Ons moet bid want: “Die Here kan ‘n koning (en die volk) se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!”
Nie deur krag of geweld nie, maar deur Sy Gees. Glo dit!
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Henr 11:6. – Wekroep
– Nikolaus Ludwig, Reichsgraf von Zinzendorf und Pottendorf was ‘n a Duitse Gelowige en sosiale Hervormer, biskop van die Morawiese Kerk, stigter van die Herrnhuter Brüdergemeine, ook pionier van Evangeliese sendingwerk, en een van die hooffigure van die 18e Eeuse Protestantisme.
MORAWIESE KERK IN SUID-AFRIKA voer sy ontstaan in Suid-Afrika terug na die koms van Georg Schmidt* in 1737. Dit kan as die tweede oudste kerk in die land beskou word. Die aanvanklike werk word na ’n lang onderbreking in 1792 op Genadendal* voortgesit en brei spoedig uit na die Boland (Mamre) en die Oos-Kaap. Vandag bestaan die Morawiese Kerk uit sowat 100 000 lidmate in 84 gemeentes. Hulle predikante word in Heideveld, Kaap, opgelei. Werk onder gestremdes kry baie aandag en daar bestaan etlike inrigtings vir gestremdes. Hoewel relatief klein, speel dié kerk ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekumene*. (Kyk ook: Morawiese Broedergemeente, en: Tikkuie, Vehettge.). Vir verdere lees: B Krüger 1966. The Pear Tree Blossoms. Genadendal: Moravian Book Depot.