Oorsese vistermanne (predikers en evangeliste) word ten duurste na Suid-Afrika gebring in die hoop op Herlewing. Dis die verkeerde vistermanne. Die ware vistermanne is ek en jy.
Ons (ek en jy), is verder onder verpligting want, die Vader sê in Eseg 3:18: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die godlose nie, en spreek nie om die godlose vir sy godlose weg te waarsku nie, dan sal die godlose deur sy ongeregtigheid sterwe, maar…… sy bloed sal van jou hand geëis word.” Hoe verskriklik tog!
Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.”
Dis hoe regverdig die Vader is!
Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.
In Luk 9:10-17, lees ons dat Jesus Christus na ‘n verlate plek sou gaan sodat daar ‘n keer gerus kon word. ‘n Skare mense vind egter daarvan uit en sorg dat hulle Jesus en die dissipels inwag.
Ai, en met deernis kry Hy die skare jammer en Hy ontvang hulle, Hy verkondig die Koninkryk van die Vader aan hulle en Hy maak die siekes gesond.
Skielik gebeur die totaal onverwagte. Jesus kom agter dat die skare honger is en hy gee opdrag aan die dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet!”
Die verskoning was byderhand: “Maar ons het nie meer as twee brode en vyf vissies nie.”
Hulle regverdig hul saak verder deur by te voeg: “Tensy ons vir hulle iets gaan koop.”
Dit sê hulle, welwetende dit sou ‘n nog groter onmoontlikheid gewees het om kos vir sowat tien duisend mense te gaan koop het.
Maar, terwyl die dissipels op die menslike vlak beweeg, beweeg Jesus op die geestelike vlak: Opdrag word gegee dat die mense almal ordelik in groepe sal sit, dat daar administrasie en dissipline sal wees, dat ‘n werksprogram saamgestel word en dat daar eendragtigheid en spanwerk sal wees.
Die seën word uitgespreek en 12-man voed vyf duisend mans, hul vroue en kinders. Na raming is minstens tien duisend mense is gevoed.
Maar, as die12 dissipels net daar in ongeloof bly staan het en gesê het: “Maar dis tog onmoontlik, ons voel soos arme drommels, hoe op aarde kan ons hierdie massa mense met hierdie paar broodjies en vissies voed?”
Waarom het hulle dan positief gereageer en wel die kos begin uitdeel? Eenvoudig. Hulle het hulle fout besef en van die menslike vlak na die geestelike vlak beweeg.
Dit is ook ons probleem. Ons verstand is in die pad. Ons probeer die geestelike dinge met ons verstand beredeneer, en dis onmoontlik. Die verhaal leer ons juis dat met die min waaroor ons dalk beskik, ons ook menigtes kan voed. Is dit nie wonderlik nie!
Die dissipels het die eerste treë gestap na die eerste ry mense. Dit was ‘n stap in die geloof.
Toe hulle afbuig om die eerstes te begin bedien, het die Almagtige Vader se Almag en wonderbare vermenigvuldende krag in werking getree. En almal is gevoed. En boonop het 12 mandjies brokstukke oorgebly.
Nou is die opdrag ook aan ons: “Gee julle vir hulle iets om te eet!”
Dis nie ‘n versoek nie. Dis ‘n opdrag.
En ons moet dit noodwendig uitvoer!
In die verlede het ons telkens die net aan die verkeerde kant van die skuit uitgegooi. Ons het besef die massas is honger, en dan het ons iets vir hulle gaan koop. Ons het spesiale dienste gereël en evangeliste ingevoer. Ons was bereid om geld te gee solank ons net nie self betrokke hoef te raak nie.
Die Vader veroordeel ons nie hieroor nie. Al wat Hy sê is, hy hou by Sy oorspronklike opdrag: “Gee JULLE vir hulle iets om te eet!”
In Matt. 6:25 - 34, sê die Vader: “Daarom sê ek vir julle: Moenie julle kwel; oor julle lewe – wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Is die lewe nie meer as voedsel en die liggaam meer as klere nie?
“Kyk na die voëls van die Hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed hul Hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
“En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei. Hulle arbeid nie en hulle spin nie. Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.
“As die Vader die gras van die veld, wat vandag daar is en more in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle kleingelowiges?
“Daarom moet julle jul nie kwel nie en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink of wat sal ons aantrek nie?
“Want …na al hierdie dinge soek die heidene, want … julle Hemelse Vader wéét, dat julle hierdie dinge nodig het.
“Maar, soek eers die Koninkryk van God die Vader en Sy geregtigheid, en, al hierdie dinge sal vir julle gegee word.
“Kwel julle dus nie oor more nie, want more sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”
Hierdie paar Skrifte is tog nie ydele woorde nie!
Ons is oneerlik. Ons sê ons is Christene, kinders van die Vader, maar ons vertrou Hom nie. Ons glo Hom nie. Ons neem Hom nie op Sy Woord nie. Maar ons verwag dat Hy gedurigdeur vir ons moet instaan, mens wil byna sê: regstaan.
En net daar mis ons weer die doel want Jesus sê self: “As julle My voor die mense bely, (eers) dan sal Ek julle by My Vader bely.” Skitterend!
Die Bybel leer verder dat ons alleen kan ontvang wanneer ons gee. Dit is ook die ongeskrewe wet van ons dag, ons kan niks bekom sonder dat ons gee nie.
Daarom, kom ons, ek en jy, gee vir hulle iets om te eet, en die Vader sê, Hy sal in alles vir ons voorsien. En, Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, hy gee
inderdaad aan ons in oorvloed!
Die Vader gee altyd in oorvloed. Die bloed wat aan die Kruis gestort was, is meer as genoeg om die hele mensdom te red.
Wanneer ons na bv. voortplantingsaad by mens, dier, vis, planteryk en voël kyk, dan vind ons daar is miljoene meer saad as wat nodig is vir voortplanting.
In ons eie liggaam het ons ook ‘n oorvloed aan bloed. Dit is waarom ons so maklik bloed kan skenk.
Ons kan onsself nooit dood werk nie, daarvoor het ons meer as genoeg reserwekrag.
Die Vader gee aan ons alles en baie, baie meer, solank ons die opdrag uitvoer: “Gee julle vir hulle iets om te eet!”
Ons hoef nie belydenis te doen en te sê Vader ek is jammer ek staan hier met ‘n leë mandjie nie. Die Vader veroordeel ons ook nie. Al wat Hy by herhaling sê, is: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Maak so: “Gee vir hulle iets om te eet!” Jou bietjie wat jy gee sal deur God se Almag vermenigvuldig word.