Wys tans plasings met die etiket Geestelike Leeuin. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geestelike Leeuin. Wys alle plasings

Woensdag 11 Maart 2015

Is jy as vrou ‘n Geestelike Leeuin?


Image result for lioness

As die vyand soos ‘n brullende leeu iemand soek om te verskeur, dan is jy ‘n geestelike leeuin.
            Die leeuin beskerm haar welpies. Baie welpies word skaars een jaar oud weens hongersnood of ‘n koalisie van indringers.
            Sy beskerm nie net die welpies nie, sy moet ook gaan jag om vir hulle kos te bring. Heelwat later is dit juis sy wat die welpies leer om ook te jag.
            Die mannetjie leeus is die indringers, koningskap, baasskap en wellus dryf hulle. Hulle wil die welpies doodmaak sodat die leeuin gouer weer kan paar.
            Die leeuinne veg tot die dood toe om hul welpies te beskerm, soms wen hulle die stryd wanneer ‘n groep leeuinne georganiseerd saamstaan teen die maanhare.
            Die profeet Jeremia sê: “Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.” Jer 31-22
            Dit is tyd dat die leeuin in elke vrou opstaan en alles vir die Koninkryk terugwen wat vernietig is. Soos die ware leeuinne, in groepe en georganiseerd.
            Gelowige vroue moet hulle mans omsingel met gebed. Hy is die hoë priester van die huis en die vyand sal enigiets doen om hom te vernietig. Veg vir julle mans! Veg vir julle kinders! Veg vir alles wat julle liefhet en voor omgee!
            Maar let op hoe julle veg: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” Sag 4:6
            Die vraag wat elke vrou haar in hierdie dag moet afvra is: As jy ‘n gelowige is, is jy ‘n Geestelike Leeuin!
            In Lisa Bevere van “Messenger International” se jongste boek “Lioness Arising,”  kom sy met Bybelse voorbeelde en vergelyk sy die leeuin met ‘n vrou se vernuftige, kragtige beeld, sterk en bevoeg en is dit haar roeping om vroue te help om, te ontwaak en hul innerlike instinktiewe krag en uitdagings te besef.
            Lisa sê daar is al hoe groter konsensus dat vroue die antwoord is vir die toekoms teen dinge soos armoede en terrorisme en wys daarop dat die Bybel sê die antwoord vir die wêreld se probleme is die vrou.
            Sy sê Eva was die oplossing vir die man se alleenheid en voeg by dat Eva nie ‘n  nagedagte was nie, maar ‘n antwoord. Deur ‘n parallel te trek tussen die vrou en ‘n leeuin bemoedig sy vroue om te besef dat hulle tot veel meer en groter dinge geroep is.
            Lioness Arising daag vroue uit om met oplossings vorendag te kom vir hul land en die wêreld se probleme, om ‘n stem te wees vir diegene wat onreg ly, om gesinne soos leeuinne te verdedig, om in die bres te tree vir kinders en mishandelde vroue.
            Sy voeg by: “God soek nie na mense om soos Christene te leef nie, maar mense wat Christene is.”
            “Vroue moet wakker word, hulle moet onthou wie hulle is en hulle moet die euwels in die wêreld, met die Lig konfronteer!”
“Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het. Kom terug, o jonkvrou van Israel, kom terug na hierdie stede van jou!
“Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.” Jer 31:21-22  – Sjibbolet

Ter bemoediging, die volgende:

Die ontstaan van die Moeder Gebedsbond
Deur die Oorlog saam met Hom!

Anna Elizabeth Retief (Ouma Hamman), die derde van agt kinders, is op 4 Julie 1874 op Graaff-Reinet  gebore.
          Sy het onderwyseres geword en haar studies voltooi deur by  maanlig en kerslig te studeer. Soms het sy selfs vuurhoutjies getrek om by dié lig te studeer.
          Sy was vooruitstrewend en het baie goed op skool sowel as die kollege presteer. Mej. Helen Murray, ‘n suster van dr. Andrew Murray, was destyds hoof van die seminarie.
          Dit was in hierdie tyd dat sy die wedergeboorte deelagtig geword het. Die HERE het die Heilsleër en die South African General Mission, waarvan Dr. Murray ‘n stigterslid was, gebruik om haar tot die Lig te bring.
          Beaufort-Wes was haar eerste standplaas as onderwyseres. Hier het sy by die Pienaar-gesin loseer waar sy geestelik verryk geraak het. Sy was toe 20 jaar oud.
          Sy is daarna na Standerton. Nog later het sy ‘n pos op Biesiesvlei naby Lichtenburg aanvaar. Daar is sy met kol. J.L. Hamman getroud.
          Kort na die geboorte van hul eerste kind, het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek.
          Op pad na die klein konsentrasiekamp op Barberton was Anna, haar suster Margaret en Anna se klein Esther verplig om op Nelspruit by vreemde mense oor te bly. Daar is die tweede baba op die vlug gebore.
          Anna en die twee babas, asook Margaret was verplig om na tien dae in aller haas vanaf Nelspruit met die laaste trein te vertrek daar die vyand op hulle spoor was.
          Die trein was so stampvol van passasiers, dat daar geen plek vir bagasie was nie. Sonder ‘n pennie geld en met net die klere wat hulle aangehad het, tesame met ‘n klein handsakkie, het hulle op Barberton aangekom.
          Anna se man, wat toe as posmeester diens gedoen het, het lank reeds nie meer salaris ontvang nie en is toe ook gevang.
          Anna vertel later dat haar enigste uitkoms was om haar op die Engelse kommandant, ‘n ouerige man, te beroep. Nadat hy na haar verhaal geluister het, het hy haar 2 pond van sy eie geld gegee. Hy het hulle ook na ‘n netjiese klein huisie geneem want die vroue het daar  in huisies en nie in tente tuisgegaan nie.
          Tot haar vreugde was daar dikwels vroegoggend ‘n mandjie met vars melk, eiers, groente, ens. voor die deur. Dit was bo en behalwe die karige voorsiening van die kommissariaat.
          Die mandjie in die oggende was deur vriendelike Engelse kommandant gestuur, alhoewel hy nooit self die huis besoek het nie.
          Anna vertel dat die HERE in daardie dae baie naby aan hulle was en op wonderbaarlike wyse in antwoord op gebed, in al hul behoeftes voorsien het.
          Na drie maande het sy weens die verskriklike hitte op Barberton, baie na haar ouerhuis op Graaff-Reinet verlang.
          Sy het met die kommandant gaan praat en hy het verlof gegee dat sy en die babas kosteloos deur die twee republieke Transvaal en Vrystaat, mag reis, maar op eie risiko.
          Die land was in ‘n toestand van gorrilla-oorlog, treinspore is gedurig opgebreek en hulle sou langs die pad verskeie kere lank moes wag op die herstel van die spoorlyn.
          Met so ‘n toestand het sy besluit om eerder op die HERE te gaan wag vir duidelike leiding. Alhoewel sy kosteloos kon reis, sou sy tog geld ook moes hê, en sy besluit toe dat as die HERE op wonderbaarlike wyse die geld voorsien, dan sou dit as teken aanvaar dat sy die reis kon onderneem.
          En weer ‘n keer, in antwoord op gebed, verkry sy op bonatuurlike wyse 13 pond. Sy het volkome vrede in haar gemoed gehad om die lang reis aan te pak.
          Die grootste prioriteit was padkos. ‘n Groot baksel boerbeskuit sou die probleem oplos. Weer vertrou sy die HERE op uitkoms. Toe kry sy meel, maar die vet het ontbreek.
          Drie dae voordat die trein sou vertrek, staan sy met die skottel meel voor, haar deur die venster en tuur.
          Beswaard bid sy toe: “HERE, het U my dan vergeet; ek kan dit nie verstaan nie.”
          Die volgende oomblik het die militêre muilwaens vol proviand en met groot geraas verbygesnel.
          Daar was ineens ‘n harde geklop aan die voordeur. “En daar staan ‘n Engelse soldaat met die grootste blik vet wat ek nog gesien het,” vertel sy later.
          Die blik was so groot en swaar dat die soldaat dit op die grond moes neersit. Hygende na sy asem sê hy toe: “Mevrou, hierdie blik vet het van die militêre muilwaens afgeval. Wil u dit nie hê nie?”
          Sonder om nog op ‘n antwoord te wag, het hy die blik vet die gang afgerol, omgedraai en laat spaander om die waens weer van agteraf in te haal.
          Anna het verbysterd bly staan. Die teenwoordigheid van die HERE was tasbaar.
          Wat die wonder nog groter gemaak het, was die feit dat die deur van die huis nie direk op die straat uitgegaan het nie, maar in ‘n tuin met ‘n hekkie laer af, terwyl die huise oorkant die straat se hekke by hul voordeure was.
          Wat sou die Engelse soldaat beweeg het om die ompad te neem as dit nie die Gees van God was wat hom gedring het nie?
          Op die laaste oomblik is Anna se verlof om die reis te onderneem gekanselleer. Toe die kommandant dit hoor, stel hy ‘n seereis voor vanaf Lourenco Marques na Port Elizabeth.
          ‘n Seereis! Waar sou die passaat vandaan kom?  “Maar my Vader het Sy Wil aan my bekendgemaak,” se Anna later.
          Sy het  soos Abraham van destyds uitgetrek … sonder om te weet waarheen, maar soos Abraham het sy goed geweet saam met Wie!  Sy het dus volkome rus en vrede in haar gemoed gehad.
Sy het ook geweet van ‘n paar van haar eie mense wat oor die grens gegaan het en in tente in Lourenco Marques tuisgegaan het.
Met haar en die babas se aankoms daar waar die ou bekendes haar gasvry ontvang het.
Dieselfde middag het die kampkommandant op sy gewone rondte ook by haar tent besoek gebring. Nadat hy na haar verhaal geluister het, het hy vertrek.
‘n Ruk later was hy terug met die boodskap dat mnr Trotsenburg, die hoof van Poswese in Transvaal., in ‘n hotel onder in die dorp was en dat hy haar graag wou spreek.
Na ‘n paar vrae was Trotsenburg bereid om ‘n deel van haar man se agterstallige salaris aan haar uit te betaal. Hy het haar ‘n tjek vir 37 pond oorhandig. Dit was genoeg om die kostes tot in Graaff-Reinet te dek.
Weer was sy verbysterd, want dit was die laaste oord vanwaar sy enige hulp verwag het. “Dit het gevoel of ek in lug loop terug na die kamp.”
Veertien dae later het hulle aan boord gegaan en na ‘n voorspoedige reis uiteindelik by haar eie mense op Graaff-Reinet aangeland. Hieroor sê sy: “Al die eer aan God!”
En voeg dan by: Can you wonder, can you wonder, can you wonder why it is I love Him so? When I think of all His done for me unworthy one! Can you wonder why it is I love Him so?
Dit was die einste Anna – later bekend as die biddende Ouma Hamman – wat geruime tyd na die oorlog aan dr. Andrew Murray geskryf het:
“Watter raad het u vir my om my en my vyf  klein kindertjies, waarvan die oudste maar 9 jaar is, so vroeg moontlik vir die HERE te wen?”
Murray het geantwoord: “Ek sien dat u ‘n bekommerde moeder is. Soek vir u nog ‘n bekommerde moeder en bid saam.”
Sy het dit gedoen en dit het aanleiding gegee tot die Moeder Gebedsbond wat landwyd gegroei het.
Vandag is ons land weer ‘n keer vol bekommerde moeders en daarom word ‘n beroep op alle moeders gedoen om weereens by ‘n Moeder Gebedsbond  in te skakel, of begin een as daar nie een in jou omgewing is nie. – Sjibbolet