Vrydag 05 Junie 2015

Gebed is die wyse waarop God sake op die aarde hanteer


Image result for praying hands bible

“Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” Jak 5:19

Jak 5:17-18 “Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie;
en hy het weer gebid, en die Hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.”
            Dit was nie Elia wat die reën laat ophou het en later weer laat reën het nie, dit was God wat Elia se gebed beantwoord het en omdat dit God se wil was.   God kan ook veel meer doen as wat ons voor bid omdat ons onder ‘n verbond van Genade lewe. Hy kan en doen wonderwerke vir sy genante. Ons kan nie God beperk of Hom bevele gee of Hom beheer nie. “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, (let op) almal wat Hom aanroep in waarheid.” Ps 145:18
            En verder: “Maar Hy gee GROTER genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.“ Jak 4:6
            En weer: “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees (eerbiedig), en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.” Ps 145:19-20
            “Geliefdes (let op), as ons hart ons nie veroordeel nie (rein van hart is), dan het ons vrymoedigheid teenoor God (om wat te doen?);  wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom (hoekom?), omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.” Joh 3:21-22
            God weet ons het ‘n magtige nasieskuddende, wêreldverskuiwende, geskiedenismakende Herlewing nodig, maar Hy wag op ons om in die bres te tree.   “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.” Jes 65:24
            Watter groter versekering wil ons vra! Hy is so lief vir ons dat Hy graag ons gebede WIL beantwoord. Komaan, kom met daai rein harte en laat ons bid sonder ophou.
            Ons het almal ook van tyd tot tyd praktiese en persoonlike nood. Ons het almal finansies nodig, goeie gesondheid, geseënde huwelike, die krag van ‘n jong arend, kinders se opvoeding, voertuie... alles soos wat dit benodig word. Ons bid egter nie vir ‘n R450 000 motor as ‘n R200 000 motor is wat ons werklik nodig het nie.
            God deursoek ons harte , Hy ken ons geheime motiewe (wat soms nie eers aan ons bekend is nie). Ons moet ons harte ondersoek, ons moet eerlik en in waarheid aanbid.
            “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart (kwaad), en lei my op die ewige weg!” Ps 139:23-24
            ‘n Ware gebedslewe berus nie op skietgebedjies nie. Gebed gaan oor ware inhoud.
            By baie van ons ontbreek die vertroue om God se troon te nader. “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” 1 Joh 5:14
            Moenie jou versoek op papier neerpen en   tesame met ‘n allemintige donasie aan ‘n TV prediker stuur en dink jy kan jou antwoorde van God af koop of jou vertroue in die Evangelis plaas nie.
            Moenie dink dat as jy (soos sommige) in Jerusalem gaan bid, jou gebed groter sal trefkrag hê nie. Nog minder sal jou gebede op Tafelberg groter trefkrag hê. Los maar die palmtakke en die kerse. Bid net daar waar jy is of waar julle ook al ontmoet, maar bid in gees en in waarheid.
            Ons bid tot God en God alleen, maar, in die naam van Jesus Christus. “En in daardie dag(na die Hemelvaart) sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.” Joh 16:23
            Ons bid nie tot enigiets of enigiemand anders nie. Ons bid ook nie tot Engele nie, al is hulle dienende geeste. God alleen gee opdragte aan hulle. Ons bid in gees en in waarheid, nie uit gebedeboekies nie.
            Bid sonder om te twyfel, want dan sal jy  niks van die HERE ontvang nie, nie eers iets nie. “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
            “Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.” Jak 1:6-8
            Ons bid in die geloof en vaste vertroue.
            Kyk weer: “5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.
            “En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” 1 Jon 5:14-15
            Die krag is nie in ons gebed nie, maak nie saak hoe ernstig of driftig ons bid nie. Dit baat ook nie om indrukwekkende gemoduleerde woorde te gebruik nie. Die krag is in God wat die gebede beantwoord en altyd soos wat Hy dit uitgevoer wil sien. Dalk gebruik hy ons, dalk iemand anders, dalk ‘n wonderwerk.
            “As julle (voorwaarde 1) in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
            “Hierin is my Vader verheerlik, dat (voorwaarde 2) julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.
            “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. (voorwaarde 3) Bly in hierdie liefde van My.
            “(voorwaarde 4) As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.
            Hoekom dit alles: “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap (let op) volkome kan word.
            “Dit is My gebod, (voorwaarde 5) dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.
            “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
(kyk wat noem Hy ons) Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.” Joh 15:7-14
            “Terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges...” Efes 6:18
            Let op: Bid in die Gees (soos die Heilige Gees jou lei en/of as jy in ‘n Hemelse taal bid).
            “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid (hoekom?) om te vra dat julle vervul mag word met die kennis van Sy wil in alle wysheid en geestelike insig (hoekom?), sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei (en waarom nog?), en met alle krag bekragtig word volgens die mag van Sy heerlikheid (glorie) tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap...” Kol 1:9-11
            So wandel ons saam met ons Vriend... al hoe nader aan Sy sy...
            “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
            “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word (hoekom?). Die Here is naby.
            “Wees oor niks besorg nie (maskas, hoekom nie?), maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
            “(waarom?) En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
            “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Fil 4: 4-8. Nou word die Gelowige se lewe soos ‘n pragtige blomtuin.
            Lees Hebreërs 11-1-34 en sien alles wat deur geloof bereik is. Die God van hierdie oomblik terwyl jy hier lees, is presies dieselfde God nog van die begin tot aan die einde. Waarom sal ons dan nie weer GLO nie?
            Daar is nie tyd vir praatjies nie. Ons moet ten alle koste Jesus se onvoltooide werk op aarde voltooi. Dis ons roeping, ons opdrag.
            Glo God vir ‘n magtige geestelike Herlewing en sien Eseg 37 in vervulling gaan.
            Skrywer ken die pad, soms van hartseer, deur dale en woestyne, soms so magteloos, alleen, maar sonder selfbejammering, net ‘n vaste geloof vir 44 jaar vir die uiteindelike wonderbare antwoord.
            Die HERE het ons nie geleer om van beproewinge vrygestel te word nie, maar dat ons juis daardeur versterk sal word. Dit is tot ons eie voordeel. As ons eensklaps uit elke beproewing verlos sou word, sou ons swak in die gees gewees het.
            Wat sou ons doen as ons geloof in Suid-Afrika skielik met die dood bedreig sou word... omdat jy ‘n Gelowige is moet jy wreed sterf... sal jy dan die geesteskrag hê om te kan vasstaan?
            Ons oorwinning lê in vergifnis en om vir ander te bid en ander se laste te dra. Dis wanneer ons deur beproewinge gaan dat ons leer om soos ‘n brandende vuur te bid.
            Met apologie aan Jn FE Cilliers, sou mens seker ook kan sê:

Ek hou van 'n man wat sy man kan staan,
ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan,
'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk
en 'n wil (geloof) wat so vas soos 'n klipsteen staan!

            Die volwasse gelowige bid dwarsdeur sy beproewinge. Teenspoed versterk sy geloof en trou. Kyk maar hoe al die dissipels daardeur moes gaan. Meeste van ons sou nie eers Paulus se seereise in die stormsee kon meemaak nie.
            Ek en jy is gered om ‘n verlore wêreld te red. Sekerlik wil ons nie met leë hande my die Meester aankom nie.
            Kom ons bou met trots en liefde aan die Koninkryk.
            Ons sê soos Dawid: “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir Ewig en altyd.” Ps 145:21 – Sjibbolet