Donderdag 04 Junie 2015

Ly RSA Christene aan Skisofrenie?


Image result for trust in god



“Niemand kan twee here dien nie, want óf hy sal die een haat
en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag,”
waarsku Jesus in Matt. 6:24.

Is Suid-Afrikaanse Christene skisofrene, mense met ’n dubbele persoonlikheid? Dit wil so lyk, want Sondae is hulle een persoon en deur die week ’n ander persoon.
          Rudolf Bultmann, ‘n Duitse teoloog van die vroeë 20e eeu, het in sy leeftyd al gepraat van ‘n “geestelike skisofrenie” in die kerk.
In die na-oorlogse Europa het hy gesien dat mense se godsdiens en hulle daaglikse lewe al verder uit mekaar dryf. Sondae gaan hulle kerk toe en bely ‘n Jesus wat siekes gesond maak, wat op die see loop, wat brood en vissies vermeerder om mense kos te gee, wat storms stilmaak en wat selfs dooies opwek.
Vir die res van die week leef hulle egter in ‘n wêreld sonder geloof en sonder wonderwerke, verdien hulle maar hulle brood in die sweet van hulle aanskyn.
Volgende Sondag sit hulle weer in die kerk, gebruik hulle selfs nagmaal en drink hulle ’n oordeel oor hulleself want hulle kan nie hulle skuldenaars vergewe nie. Alles is egter vir hulle wel, solank niemand van hulle sondes weet nie.
Gerieflikheidshalwe vergeet hulle dat God nie vergeet nie!
Dit is presies hoe ons die lewe van Christene vandag aanskou – die van mense met ’n gesplete persoonlikheid!
Binne die kerk werk hulle met een stel waardes, en buite die kerk met ‘n ander stel waardes, en dié twee het niks met mekaar te doen nie.
Op hierdie wyse probeer hulle twee here tegelyk dien. Uiteindelik egter kan hulle nie volhou nie: een of ander tyd begin hulle die een aanhang en die ander een verag. En die een wat verag word, is telkens die HERE God.
          Dis duidelik sigbaar want hulle gaan al hoe minder kerk toe, woon nie langer die bidure en Bybelstudie by nie, wandel in owerspel, kuier by die casino’s en verkeer al hoe meer sosiaal.
          Wie gaan hulle help as Christus, soos Hyself tereg sê, skielik soos ’n dief in die nag verskyn?
          Bultmann het destyds soos ’n sot probeer om die probleem op te los deur die kerk aan die wêreld gelyk te maak.
          Hy het, soos sommige leraars vandag, die waardes van Christus en die Bybel as mitologiese voorstellings probeer afmaak. Hy het gesê die wonderwerke en ’n geestelike lewe in Gees en in Waarheid, is opgemaakte stories.
          Bultmann het jou werklikwaar die kerk beskuldig as sou dit die kerk se skuld wees dat sogenaamde Christene, kerklidmate, gesplete persoonlikhede openbaar.
          Daarom, sê Bultmann, moet die kerk die mitologiese Jesus vaarwel toeroep. Die kerk moet al die “mites” oor Jesus wat as “geskiedenis” aangebied word, vertaal na ‘n boodskap wat vir vandag se mense meer geloofwaardig is.
          Intussen is daar niks wat op hierdie aarde gebeur wat nie reeds opgeskrywe nie. 2 Pet. 1-3 lees: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring;
          “en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;
          “en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
          Bultmann se “nuwe teologie” het nie die probleem opgelos nie. Die probleem is vandag steeds daar, en steeds is dit omdat die Waarheid nie reguit gesny word nie.
          Die ander onomstootlike feit is dat mense nie waarlik wedergebore is nie en daarom nie die Gees van God se werkinge in hulle lewens ervaar nie.
          Hedendaagse leraars  kom met niks nuuts vorendag wanneer hulle praat van die Historiese Christus nie.  Hierdie denkrigting het al in die 17e eeu begin.
Die hedendaagse geleerdes gee hoog op dat hulle hulself besig hou met wat genoem word  “Nuwe Hervorming.”  Dis ‘n loutere versinsel.
Hierdie keer egter gee die (liberale) geleerdes nie om of hulle die Kerk gaan skeur en selfs vernietig nie.  Die propaganda van hervorming word wêreldwyd versprei.
Met Leben Jesu-Forschung  word ‘n rigting in veral die Duitse teologie aangedui, waarvan die oorsprong in die Aufklärung lê, om agter die Jesus wat die Evangelies beskryf, na die historiese Jesus te soek soos Hy in Palestina gelewe en gewerk het.
Daar word aangeneem dat die Jesus van die Evangelies ‘n produk van die teologie van die gemeente, d.w.s. van die apostels was.
Reimarus (1778) word as die vader van dié rigting beskou.  Die Bybelse Ensiklopedie, bl. 416,  onder redaksie van proff. WH Gispen, BJ Oosterhoff, HN Ridderbos, WC van Unnik en ds P. Visser (Verenigde Protestantse Uitgewers), sê sedert Strauss het liberale teologie probeer om die raam van die historiese Jesus te vind d.m.v. bronnestudie van die (klein) Evangelie volgens Markus, wat die minste deur die gemeente-teologie beinvloed is.
Die strewe van die Leben Jesu-Forschung , wat deur A. Schweitzer in Geschichte der Leben Jesu-Forschung  (1951) beskryf is, het verdwyn in net soveel subjektiewe gestaltes van Jesus as wat daar Lebens Jesu was.
M. Kähler (1956), het ‘n verandering gebring deur te sê dat slegs die Christus wat deur die geloof uit die kèrugma bekend is, belangrik is.
Alhoewel Kähler self gemeen het dat die Christus van die kèrugma dieselfde as die historiese Jesus was, het veral Bultmann en sy volgelinge hulle op hom beroep vir ‘n skeiding tussen die Christus van die kèrugma en die historiese Jesus, soos Hy in Palestina gelewe en gewerk het.
Volgens Bultmann-hulle het die Evangelies weinig historiese waarde, maar is dit ‘n getuienis van die geloof in Jesus as die Christus van die vroeë Christelike kerk.
Deur die gemeente se geloof het hulle die historiese Jesus gemitologiseer, dit is, gaan skuil agter die teologies en kèrugmatiese vervorming van die oorspronklike oorlewering.
Leerlinge van Bultmann het die historiese waarde van die Evangelies tog weer hoër geag en het na die regte ewewig tussen die kèrugma en die historiese Jesus gesoek.
Hierteenoor moet gestel word dat daar in die Evangelie weliswaar geen historiese Jesus is sonder die kèrugmatiese Christus nie, maar ook omgekeerd, dat daar geen kèrugmatiese Christus is sonder Jesus wie se historiese beeld in die Evangelies geskets word nie, aldus die Bybel Ensiklopedie.
Ons herhaal, die kerke loop leeg juis omdat die waarheid nie langer verkondig word nie.  Wat die jongste geleerdes en ander wil doen, is om die waarheid te verwater om ‘n nuwe sosiale kerkgemeenskap te skep.
Soos hulle nou aangaan, bv. dat mens jouself ‘n Christen kan noem al glo jy nie meer in die maagdelike geboorte van Jesus nie, sy liggaamlike opstandig uit die dood of Hemelvaart nie, sal ons binnekort hoor dat die wedergeboorte, die doop en nagmaal ook nie langer van betekenis is nie.
Die vraag wat gevra moet word is of hierdie geleerdes die Gees van God het, want wie die Gees nie het, kan die dinge van God nie verstaan nie.
Die goeie raad om vandag aan die Christene te gee, is:  Bly in dit wat jy geleer was, want dit was en is steeds die enigste weg.
Sou God in al Sy Liefde en Almag eeue lank toegelaat het dat ons voorouers ‘n verkeerde roete volg?  Sekerlik nie. Dis tyd vir die wedergeborenes om saam te staan en Christus te bely.
Predikante moet Jesus Christus, die verlosser van die mens verkondig, dat sonder die wedergeboorte geen mens die Hemel sal sien nie, nie die Ewige Lewe kan beërwe nie!

Dit is noodsaaklik dat mens moet onderskei tussen die LETTER en die GEES. 1 Kor. 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan nie verstaan nie (hoekom nie?)

omdat dit  geestelik beoordeel word!
          En strofes 12 en 13: Ons (die geestelike mens) het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie maar die Gees wat uit God is (hoekom?) sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.
          “13: Daarvan spreek ons ook, nie met  woorde  wat  die  menslike  wysheid  leer  nie maar dié  wat  die  Heilige  Gees  leer (hoekom?) sodat ons geestelike  dinge  met  geestelike  vergelyk!
          1 Kor. 3 se subtitel, lees: Die vleeslike gesindheid ‘n oorsaak van verdeelheid.
          In strofe een sê Paulus aan sekere Christene dan ook: …ek kon nie met julle spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie (hoekom nie?) want julle was nog nie daartoe in staat nie (en wat meer is…)
julle is nou nog nie daartoe in staat nie (hoekom nie?) omdat julle nog vleeslik is….. !
          Hier is ons dus ‘n geval van Christene wat nog nie geleer het om in die Gees te wandel nie.
          2 Kor. 10:12: Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk (met wie?) met sommige van die wat hulself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulleself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig.
          Vergelyk ook 1Kor. 15: 44 - 46.
          En 1 Kor. 14: 37 …”As iemand meen dat hy ‘n profeet is of ‘n geestelike mens, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, ‘n bevel van die Here is.  (Dit is dus duidelik dat alleen iemand wat ‘n profeet is, of dan geestelik is, sal die brief kan verstaan).
          1 Pet. 2:5 …. En laat julle ook soos lewende stene  opbou, tot (‘n wat?) ‘n geestelike huis (volk), ‘n heilige priesterdom (hoekom?) om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.
          Spreuke 18:21 “Dood en Lewe  is in die mag van die tong ; en elkeen wat die graag gebruik sal die vrug daarvan eet.”
          Met ander woorde:  Of ons spreek Dood, of ons spreek Lewe.
          Die gees is Lewe! Die Letter is Dood.
          Die hedendaagse Bultmans sal die vleeslike Christen kan mislei, maar nooit die geestelike Christen nie. In 2 Kron 35:19 en verder word vertel van die Christen wat homself vermom.  Josia het gedink God gaan hom nie herken in sy vermomming nie.  Sal ‘n mens so ver gaan om te dink jy kan jouself vermom.  Vir 'n mens? Vir God? Wie probeer ons flous... tot ons eie ondergang... en dood.  Dis tragies!
          God is positief, ons durf nie negatief wees nie. Ons Lewe  Bo omstandighede en nie onder omstandighede nie.
          En verder  –  Die Here sê hy is geen aannemer van die persoon nie. Dus, ons is almal gelyk voor Hom.  Daarom, dit wat die Here vir ander gedoen het of doen, doen Hy ook vir ons. Dis tog ongetwyfeld so. Daarom, as Hy vir Kores dit gedoen het, dan doen hy dit my en jou ook!
          Lees nou Jes. 44 : 2 tot 8 en eis dit in die naam van Jesus Christus op vir jouself !  Glo dit. Neem dit aan. Sê vir Hom baie dankie daarvoor. Hy is ‘n “jaloerse God”. Hy wil altyd al die eer hê.
          Die hedendaagse Bultmanns moet kennis neem van Rom. 10:9-11 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
          “want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
          “Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.”
          Hulle moet ook oplet na Openb. 3:15-16 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!
          “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” – Sjibbolet