Dinsdag 23 Junie 2015

Elke Petrus kan ‘n Rots word!


Image result for paulus in die bybel

Geen volgeling van Jesus Christus moet ooit redeneer dat dit onmoontlik is om te struikel en te val nie.

            In hierdie opsig waarsku 1 Kor. 10:12 “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
            Asook Gal. 6:1 “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.”

            Hierdie boodskap handel oor Mat. 26:17-35 en Mat. 26:69-75.
            Petrus had ‘n geleentheid wat nie een van ons nog ooit gehad het nie – om fisies sy aan sy met Jesus Christus te wandel.
            As iemand soos Petrus vir Christus kon verraai, wat dan van ons?
            Dit gebeur gouer as wat jy mag dink. Ons kan onwaardig by die Heilige Nagmaal aansit, met die treurige gevolge dat ons ‘n oordeel oor onsself drink! Ja, inderdaad, so maklik is dit! 1 Kor. 11:20:34.
            Onder meer staan daar: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet, of die beker van die Here Jesus drink, sal skuldig wees aan die liggaam en die bloed van die Here Jesus.”
            Dan gebeur presies dieselfde as toe die Jode aan Pontius Pilatus gesê het; “Laat Sy bloed oor ons en ons kinders kom.”
            Daardie dag het die Jode ‘n oordeel oor hulself uitgespreek.
            Ons lees verder: “Want die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.
            “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van Christus nie onderskei nie.”
            Watse oordeel drink ons oor onsself?
            “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes en ‘n aantal het (selfs) ontslaap.”
         
Deur die jare het menige Christen gestruikel en geval. Oor hulle is gesê dat hulle “teruggeval” het.    Sommige is steeds in die eredienste, maar hulle kort bevryding want hulle het ‘n binding in hulle gees. Hulle is nie vry nie. Hulle kort ‘n herlewingsvuur. Wanneer mens in diepte na die lewe van Petrus kyk, dan lê die antwoord vir die teruggevallenes in verootmoediging – belydenis en terugkeer na God.
            Petrus het gevloek, gesweer en ontken dat hy Jesus ken. Dit het hy gedoen nadat:

•          Hy kragdadig deur die Here Jesus gebruik was,
•          Hy wonderwerke, tekens en wonders gesien het,
•          Sy naam in die Boek van Lewe geskrywe was,
•          Hy die siekes gesond gemaak en demone uitgedryf het, en
•          Die Evangelie verkondig het en siele vir die Koninkryk gewen het.

Petrus was vasgevang in die strik van twee vroue en ‘n groep wat nie wedergebore was nie:

•          meeste mans se swakheid en val is deur ‘n vrou veroorsaak,
•          baie mans, wat veronderstel is om die hoë priester in hul huis te wees, het die Here Jesus verraai toe hulle nie huislike situasies kon hanteer nie,
•          koning Dawid het deur ‘n vrou tot ‘n val gekom en hartseer oor miljoene mense gebring, en
•          heelwat jong Christene kom tot ‘n val wanneer hulle toegee onder die druk van onwedergeborenes.

Baie meen dat Petrus gesink het toe hy na Jesus op die water geloop het, maar hy het:

•          net begin sink, toe hy na Jesus geroep het, en daarna het hy wel op die water teruggeloop na die skip,
•          nogtans het hy meer gedoen as Johannes, Thomas en Jakobus, wat nie eers wou probeer om op die see te loop nie.
•          Hy het ‘n nuwe begin gemaak, opgestaan en weer probeer, en
•          ‘n nuwe dag, die eerste dag van die res van sy lewe, het na ‘n lang donker nag deurgebreek.

Petrus het ‘n spesiale uitnodiging ontvang alhoewel hy:

•          gevloek, gesweer en ontken het dat hy die Here Jesus ken,
•          hy die Here Jesus drie keer verraai het en drie keer bely het,
•          die Here Jesus in die openbaar verraai het en in die openbaar bely het,
•          sy les moes leer deur, deur ‘n lang eensame donker nag te gaan, en
•          hy die taak opgelê was om die Here Jesus se skape te laat wei.

Petrus het gesien dat die Here Jesus steeds vertroue in hom het, daarom het hy:

•          homself opgerig en bewys gelewer dat hy ‘n rots kon word,
•          hy het homself vergewe nadat Jesus hom vergewe het,
•          hy het soos baie mense maak, steeds homself verwyt nie,
•          hy het die verlede vergeet en uitgestrek na wat voor hom was, en
•          was deur God gebruik om derduisende ander na redding te lei.

As dit vandag sou gebeur, dan sal mense:

•          nooit weer vertroue in Petrus gehad het nie,
•          hom beskinder het en nie gegroet het nie,
•          hy sou nie toegelaat word om weer te preek nie,
•          sy predikerslisensie sou nooit weer hernu word nie,
•          niemand sou sy daad vergeet nie en dit steeds ophaal, en
•          die koerante sou hulle verlustig het in die storie dat ‘n vrou hom tot ‘n val gebring het,
•          sommige sou selfs gebid het dat die Vader hom uit hul midde moes neem, en
•          ander sou hulleself beter as Petrus geag het.

Maar die Vader het steeds vertroue in Petrus gehad. Deur Petrus se prediking:

•          is drie duisend siele op een dag gered,
•          het verlamdes opgespring en geloop,
•          is die Heilige Gees op mense uitgestort, en
•          gewone mense kon sien dat God met Petrus is.

Petrus het teenstand van die leraars gehad:

•          hulle het hom nie verstaan nie omdat hy nie altyd ortodoks was nie,
•          het ‘n etiket om sy nek gehang dat hy onkundig en ongeleerd sou wees,
•          hom vele kere vir verhoor gedagvaar,
•          hom gewaarsku om nie teen hulle tradisie te gaan nie, en
•          hom selfs gesensor, geslaan en in tronke opgesluit.

Alhoewel Petrus  bespot, vervolg en verguis is, het:

•          God sy salwing op Petrus gehou sodat hy vir ander tot diens kon wees,
•          gewone mense kon waarneem dat hy ‘n instrument in God se hand was,
•          het siekes die strate vol gestaan en is hulle aangedra om bedien te word,
•          mense het geweet dat as Petrus se skaduwee net op hulle sou val, hulle genees sou word, en
•          die tekens en die wonders wat sy bediening gevolg het, was bewys daarvan dat God hom vergewe het.

Soos wat Petrus straataf gestap het, onder die krag van God:

•          was die krag van God teenwoordig om die siekes te genees,
•          was dit selfs onmoontlik om die mense ordelik in rye te laat staan om bedien te word,
•          was daar nie genoeg tyd vir mense om hul probleme aan hom te verduidelik nie, en
•          was dit onmoontlik vir Petrus om die hande op al die mense te lê.

Hier is heelwat lesse uit Petrus se lewe te leer. Iemand het een keer gesê dis makliker vir ‘n sondaar om tot bekering te kom as vir ‘n teruggevalle Christen om na God en die gemeente terug te keer.

Wel, die Here Jesus verlang dat jy sal terugkeer. Hy stel in besonder belang in verlore skape.
            Die een groot struikelblok waarom teruggevalle Christene egter sukkel om ‘n volkome terugkeer te maak, is dat hulle nie hulself kan vergewe nie.
Die Vader sê: As ons, ons sondes bely, dan is Hy getrou en regverdig om ons al ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh. 1:9).
Hy voeg by: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste (‘n onmeetbare afstand), so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12. Noord en suid is sowat 21 000km van mekaar af, maar oos en wes is ‘n onmeetbare afstand.

Bely dan (en vergewe ook jouself) en strek jou dan uit na dit wat voor is.
Diegene wat die Petrusse in vandag se lewe verwerp het, staan ook skuldig voor God. Ook hulle moet vergewe en bely.
Vergeet dan van dit wat verby is. Strek jou uit na dit wat voor jou is.  Onthou, daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie! – Sjibbolet