Wys tans plasings met die etiket spreek ons dood?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket spreek ons dood?. Wys alle plasings

Dinsdag 29 September 2020

Ons sal lewe ons sal sterwe...

So het ons van skooltyd af gesing, ook as grootmense by talle openbare geleenthede. Ons was trots daarop.

            Maar die lied, had niks van die Almagtige God Jahweh in nie. En ons mense sterf in die grensoorlog en opm die plase en elders, maar ons hou aan met sing: “Ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika.”

            Dit is soos ’n afgesaagde belydenis. ..en die moord en doodslag duur voort...want ons bely dit steeds.

           Amanda Buys van Kanaan Bedieninge, beskryf dit soos volg: Volgens ‘n koerantberig word Suid-Afrika beskryf as die “moordstad van die wêreld”. Ongeveer 60 000 mense sterf jaarliks in doodslag, selfmoord of verkeers- en ander ongelukke.

            Die opskrif van die volgende artikel lui: “Leef en sterf in SA, ‘’n baie bloeddorstige gemeenskap’” – Pta News 9.8.2001.

Die Stem van Suid-Afrika bevat jare reeds die woorde: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika”. Hierdie woorde is ookgegraveer op die sarkofaag (graf) in die Voortrekker-monument: “Ons vir jou Suid-Afrika”. Hierdie woorde, asook die manier waarop dit gespreek of gesing is, is ‘n verbond met die dood, wat gemaak is deur ‘n hele nasie om hulle toevertroue aan hulle land te bevestig (nie aan God nie).

            Ons het ‘n verbond met Suid-Afrika gesluit – om hier te leef of te sterf. En dit is wat gebeur. Die woorde wat ons oor ons land gespreek het, kom tot vervulling. Mense sterf. Ongeveer 27 600 (46%) mense is vermoor, waarvan meer as die helfde aan vuurwapens toegeskryf kan word. In een jaar het byna 4 800 (8%) mense selfmoord gepleeg en 20 400 (34%) mense in ongelukke gesterf.

            Die dood bekruip ons gemeenskappe genadeloos, terwyl dit lewens van slagoffers gryp wat geen voorneme gehad het om hul lewens vir Suid-Afrika te gee nie. Die tyd het aangebreek om hierdie verbond van die dood oor Suid-Afrika en die vloek wat soveel verwarring bring, te verbreek.

            Ek weet dat dit moeilik sal wees vir sommige mense, maar ons moet die verbond verloën wat deur hierdie woorde gemaak is. Nasionalistiese emosies sal styg en selfs argumente dat dít nie bedoel is deur die woorde nie.

            Maar die feit is dat ons die dood ons land binnegenooi het deur te sing – ons sal lewe, ons sal sterwe! Ook “O Boereplaas geboortegrond, jou het ek lief bo alles.”

            Wat het geword van “Jy moet die HERE jou God liefhê bo alles?”

            As jy gewillig is om dit te verloën, bid asseblief die volgende gebed saam met ons: Hemelse Vader, ons kom na U toe in die Naam van Jesus Christus, U Seun, wat aan die kruis gesterf het vir ons sonde. U het al ons ongeregtighede op Hom geplaas en Hy is gekasty vir ons welstand. Hy het ‘n vloek vir ons geword sodat die vloeke van sonde gebreek kan word. Ons erken dat ons en ons voorvaders, deur die dood, ‘n verbond met Suid-Afrika gesluit het.

            Ons verloën daardie verbond, bely as sonde dat ons, ons land aanbid het en vra U nou om die verbond en die vloek wat daaraan gekoppel is, te verbreek, in die Naam van Jesus Christus van Nasaret.

            Ons vra U om die siklus van bloedvergieting in ons land te verbreek. Soveel mense sterf deur geweld; vergewe ons asseblief vir hierdie geweld. Laat die Bloed van Jesus Christus Suid-Afrika en al sy inwoners reinig van die sonde van bloedvergieting en geweld. Herstel ons gemeenskappe en bring weer vrede en stabiliteit. Ons pleit by U, in die Naam van Jesus Christus, om die vloek van die “moordstad van die wêreld” te verwyder en versoening te bring. Haal asb. die hart van klip uit alle Suid-Afrikaners en gee ons ‘n hart van vlees. Stort asb. U genade uit en help ons om weg te draai van ons sondige weë. Help ons om te vergewe en die haat en bitterheid in ons harte waaraan ons vashou, te los. Gee asseblief vir ons ‘n nuwe lied – om U te aanbid en nie ons land nie. Amen.

            Laat ons ook bid aangaande bloedvergieting deur die hande van baieSuid-Afrikaners in ander lande deur oorloë en die uitstuur van huursoldate. Laat ons die bloedvergieting in Zimbabwe, Mosambiek. Zambië, Etiopië, Somalië, Libië, Rusland en Korea,  bely.

            Bely ook Suid-Afrika se betrokkenheid by die eerste en die tweede wêreldoorloë in Europa en Noord-Afrika. Vra die HERE om vergifnis en om genesing en herstel selfs in daardie lande te bring.

Gedurende so ‘n belydenis van bloedvergieting het een van die spanne ‘n visioen gehad dat die bloed wat op die land gestort is die wortels van bitterheid, woede, haat en wrok voed, wat die vrug van rasisme voorbring. Belydenis vir die bloedvergieting verwyder hierdie “bevrugter”.

            Ons moet die wortels van bitterheid, woede, haat en wrok afsny, dan sal die vrugte verdwyn. Die enigste manier waarop dit gedoen kan word, is deur vergifnis. – Wekroep