Wys tans plasings met die etiket ongelowige Thomas. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ongelowige Thomas. Wys alle plasings

Maandag 14 Oktober 2019

Spreek jou Twyfel en Ongeloof aan


“Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is diegene wat nie gesien het nie en tog geglo het.” Joh 20:29

Dis hier waar sommige Christine nog nie die geestelike Rubicon oorgesteek het nie. Te midde van hierdie stukkie intieme geskiedenis uit Thomas se godsdienstige lewe. klink hierdie woorde van die Meester duidelik in ons ore: “Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is diegene wat nie gesien het nie, en tog geglo het."

Diegene wat nie wil glo nie, selfs al sien hulle... Aan hierdie groep het die mense behoort wat Jesus in die tuin van Getsémané gevange geneem het. Geeneen van hulle het nog ooit op die grond geval deur 'n woord wat iemand spreek nie. Toe Jesus sê: “Dit is Ek wat julle soek",  lees ons, ... slaan hulle nogtans die hande aan Jesus, asof daar niks gebeur het nie.

Nadat hulle bewus geword het van Sy bonatuurlike krag en Goddelike persoonlikheid, handel hulle asof Hy ‘n gewone mens is. Hulle wou nie glo nie; selfs al het hulle gesien.

So 'n man was die Farao. Nadat hy al die tekens en wonders van God gesien het, wou hy nog nie glo nie, ja, selfs na die dood van sy eersgebore seun, het hy hom weer verhard in sy ongeloof.

Aan hierdie groep het ook behoort die regters van Stefanus, wat hom met klippe doodgegooi het, terwyl hulle sy aangesig sien blink soos die van ‘n Engel terwyl hy bid: “HERE, reken hulle hierdie sonde nie toe nie.

"Is dit nie vreeslik om te dink dat daar sulke mense is nie? Siende blind en horende doof!”

Diegene wat alleen glo wanneer hulle sien. Tot hierdie groep het Thomas 'n tyd lank behoort. Tot hierdie groep behoort die wêreldlinge, die mense wat hierdie wêreld liewer het as vir Christus. Hierdeur word 'n duidelike skeidslyn getrek tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige.

‘n Ongelowige vertrou op en glo in wat hy sien: homself, sy vriende, sy besittings, hierdie wêreld.

Die gelowige glo wat hy nie sien nie, hy vertrou op God. “Hy wandel asof hy die onsienlike sien." “Ons wandel deur geloof en nie deur aanskoue nie," sê die apostel.

Diegene wat nie gesien het nie en tog geglo het. Sonder hierdie geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Trouens in die brief aan die Hebreërs word ‘n beskrywing van geloof gegee: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie."

‘n Pragtige voorbeeld van hierdie geloof is Noag. Hoe wonderlik skyn sy geloof nie deur die lange jare nie! Hy het niks gesien nie, net geglo wat God gesê het. Hebr I1 :7

Ja, in die hele hoofstuk van Hebr 11 word van die helde van die geloof gepraat, almal manne wat nie gesien het nie en tog geglo het.

Ons fokus bv net op Abraham. Hy het die teenstrydigheid en gedoente o m die enigste kind wat die HERE in sy ouderdom aan hom gegee het, die kind waardeur  sy nageslag moes opgebou word, te gaan offer. Alles was vir hom pikdonker en onverstaanbaar en tog het hy net geglo dat die HERE sal voorsien. Abraham het geglo ondanks alles, en hoe heerlik is sy geloofsvertroue nie beloon nie!

Aan watter groep behoort jy? Onthou dat jy vir tyd en Ewigheid gelukkig sal wees as jy glo al het jy nie gesien nie.

Ons kyk weer na Thomas... As mens hierdie geskiedenis noukeurig lees, sal ons sien dat daar twee redes was vir hierdie ongeloof en twyfel van Thomas:

a)              Hy wou nie die Woord van die HERE glo dat Jesus sou stewe en op die derde dag sou opstaan uit die dode nie;

b)              Hy het die gemeenskap met die ander dissipels verwaarloos. Hy het nie erns gemaak met die gemeente van die HERE nie.

Is dit nie vandag nog die hoof oorsaak van menige vertwyfeling nie?

Ons het ‘n opname by 32 wonings gedoen oor geloofsekerheid... niemand had sekerheid nie, maar die meeste het verlang om sekerheid oor die Ewige Lewe te hê.  Meeste was kerkgangers, maar sonder enige sekerheid. “Mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het...” 2 Tim 3:5

As jy twyfel, neem ons jou nou terug die Bybel toe.  Word weer soos ‘n kind wat die geloof beleef, anders sal mens die Koninkryk nooit sien nie.

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

“Let op) “Want dié mens moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie.” Jak 1:6-7

Dit is wat jy met jou twyfel doen:

1. AL MY TWYFEL BRING EK JESUS,

   HY SAL SY BELOFTE HOU;

   NIMMER SAL HY MY BESKAAM NIE,

   OP SY WOORD KAN EK VERTROU.

KOOR:

   SLEGS VERTROUE, VOL VERTROUE

   SLEGS VERTROUE OP SY WOORD.

   SLEGS VERTROUE, VOL VERTROUE

   SLEGS VERTROUE OP SY WOORD.


2. AL MY SONDE BRING EK JESUS

   WAT MY REINIG DEUR SY BLOED;

   HY BEWAAR MY REIN EN HEILIG

   DEUR SY GEES IN MY GEMOED.


3. AL MY KWELLING BRING EK JESUS,

   HY SKENK MY VOLKOME RUS;

   HOE DIE DONKER WOLKE SAAMPAK,

   NIKS KAN OOIT SY LIEFDE BLUS.


4. AL MY VREUGDE BRING EK JESUS,

   HY IS AL WAT EK BEGEER;

   IN MY HEILAND VIND EK ALLES,

   EN MY SIEL VERLANG NIKS MEER.


5. WAT EK HET, GEE EK AAN JESUS,

   GANS MY LIGGAAM, SIEL EN GEES; 

   HIER OP AARD' EN DAAR OOK EENMAAL,

   WAAR ONS SAAM MET HOM SAL WEES. – Wekroep