Wys tans plasings met die etiket huigelary. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket huigelary. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Huigelary en Geveinsdheid


“Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n (let op)huigelagtige mond, haat Ek.” Spr 8:13

“Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery.” 1 Pet 2:1

Die beste  veelsydige atleet van die skool sê vir sy afrigter hy wil nie meer aan atletiek deelneem nie. Hy wil eintlik nooit weer wil deelneem nie. Hy het reeds begin gholf speel.

Die afrigter praat met die skoolhoof en hulle roep die seun in. Die seun is vasbeslote. Die hoof sê: “Jy kan ons nie nou los nie. Jy is ons nommer atleet en rekordhouer in drie sportsoorte. Jou deelname is seker die grootste motivering vir al ons ander atlete. Ons oorwinning hang van jou af. Ons het die hele seisoen onoorwonne deurgekom en jy het die meeste punte aangeteken.

Die seun wil nie bes gee nie. Die skoolhoof probeer weer: “Jou eerste wedloop is die 1600m. Hardloop vir die vale en halfpad sak jy uit met ‘n kamstige dyspier besering. Dan kan jy gaan stort en huis toe gaan. Jou besering sal al ons ander atlete aanspoor om beter te doen as normaal en wie weet, so wen ons dalk die byeenkoms.”

Die seun dink ‘n paar oomblikke na, en stem toe in. Hy neem deel, val kamstig by die halfpad merk en word gesukkel-dra van die baan na die kleedkamer. Hy stort en loop aspris hinkepink na waar sy pa hom met die motor kom haal het.

            Dit is huigelary en geveinsdheid.

Die Maandag by die skool stap die skool se reuse boelie na hom toe en vra: “Waar het jy toe seergekry?” Hy wys en verduidelik. Die boelie skop hom so hard hy kon op die sogenaamde beseerde kuit. Die seun sak inmekaar.

            Die boelie sê so met die wegstap: “So ja, nou is jou gewete ook sommer skoon.”

            Ons staan elke Saterdag in die kleedkamer waar ons kaptein bid voordat ons opdraf vir ’n volgende rugbywedstryd. Hy bid hoe die HERE ons sal behoed en bewaar in die wedstryd en dat HERE ons tog moet help om te wen.

            Terwyl hy bid staan hy met ‘n groot teddiebeer onder sy arm. Die teddiebeer het ons rugbytrui en wit broekie aan en ‘n paar skoolkouse en tuisgemaakte steweltjies. Dis ons gelukbringer.

            Die kaptein draf eerste op en plaas die gelukbringer op die halflyn langs die veld. Van die skool se onderwysers (Christene) is daar en twee dominee pa’s en een pastoor pa.  Almal het vrede met die gelukbringer. Dis tradisie. Dit hoort so.

            Dan praat die HERE: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” Gal 6:7

            En...”Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;

(let op) en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die Woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die HERE goedertieren is.

            Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 1 Pet 2:1-5 – Wekroep