Wys tans plasings met die etiket geveinsdheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geveinsdheid. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Huigelary en Geveinsdheid


“Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n (let op)huigelagtige mond, haat Ek.” Spr 8:13

“Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery.” 1 Pet 2:1

Die beste  veelsydige atleet van die skool sê vir sy afrigter hy wil nie meer aan atletiek deelneem nie. Hy wil eintlik nooit weer wil deelneem nie. Hy het reeds begin gholf speel.

Die afrigter praat met die skoolhoof en hulle roep die seun in. Die seun is vasbeslote. Die hoof sê: “Jy kan ons nie nou los nie. Jy is ons nommer atleet en rekordhouer in drie sportsoorte. Jou deelname is seker die grootste motivering vir al ons ander atlete. Ons oorwinning hang van jou af. Ons het die hele seisoen onoorwonne deurgekom en jy het die meeste punte aangeteken.

Die seun wil nie bes gee nie. Die skoolhoof probeer weer: “Jou eerste wedloop is die 1600m. Hardloop vir die vale en halfpad sak jy uit met ‘n kamstige dyspier besering. Dan kan jy gaan stort en huis toe gaan. Jou besering sal al ons ander atlete aanspoor om beter te doen as normaal en wie weet, so wen ons dalk die byeenkoms.”

Die seun dink ‘n paar oomblikke na, en stem toe in. Hy neem deel, val kamstig by die halfpad merk en word gesukkel-dra van die baan na die kleedkamer. Hy stort en loop aspris hinkepink na waar sy pa hom met die motor kom haal het.

            Dit is huigelary en geveinsdheid.

Die Maandag by die skool stap die skool se reuse boelie na hom toe en vra: “Waar het jy toe seergekry?” Hy wys en verduidelik. Die boelie skop hom so hard hy kon op die sogenaamde beseerde kuit. Die seun sak inmekaar.

            Die boelie sê so met die wegstap: “So ja, nou is jou gewete ook sommer skoon.”

            Ons staan elke Saterdag in die kleedkamer waar ons kaptein bid voordat ons opdraf vir ’n volgende rugbywedstryd. Hy bid hoe die HERE ons sal behoed en bewaar in die wedstryd en dat HERE ons tog moet help om te wen.

            Terwyl hy bid staan hy met ‘n groot teddiebeer onder sy arm. Die teddiebeer het ons rugbytrui en wit broekie aan en ‘n paar skoolkouse en tuisgemaakte steweltjies. Dis ons gelukbringer.

            Die kaptein draf eerste op en plaas die gelukbringer op die halflyn langs die veld. Van die skool se onderwysers (Christene) is daar en twee dominee pa’s en een pastoor pa.  Almal het vrede met die gelukbringer. Dis tradisie. Dit hoort so.

            Dan praat die HERE: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” Gal 6:7

            En...”Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;

(let op) en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die Woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die HERE goedertieren is.

            Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 1 Pet 2:1-5 – Wekroep

Sondag 01 April 2018

Vermy die dodelike magspel


Image result for hoogmoedigheid


Ek en jy is in ‘n stormsee in ‘n dodelike spel van mag teen mag vasgevang. Het jy al hulpeloos alleen op die oop see rond gedobber, magteloos deur ‘n stroom meegesleur. Dis ‘n magspel... ‘n dodelike magspel.

Die lewenssee kan net so verraderlik soos die natuurlike see wees. Vrede, eerlikheid, opregtheid, ware liefde, is skaars. Leuens, hoogmoed, huigelary en geveinsdheid is van die lewe se seestrome wat die Gelowige wil lamlê.

            ‘n Huigelaar, doen hom voor as iemand anders, meesal beter as wat hy is, hy is ‘n veinsaard, skynheilig, huigelaar.

            Geveinsdheid: Iemand wat voorgee dat vroom is. Skynheilig.

            Leuens: Iemand het ‘n gees van leuenagtigheid. Opsetlike onwaarheid; valsheid. van leuens aanmekaargesit wees, uit gewoonte baie leuens vertel; 'n leuen het maar 'n kort been, 'n onwaarheid word gou ontdek; 'n leuen om beswil, 'n leuen met 'n goeie doel; 'n leuen in nood is so goed soos 'n stukkie brood, 'n leuen om jouself of ander uit die moeilikheid te help, is nie verkeerd nie; al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel, die waarheid kom altyd uit. leuenpropaganda.

            Die leuen is aan die orde van die dag. Die waarheid het die leuen geword en die leuen die waarheid.

            Al gaan die leuen twee keer om die aarde, die waarheid agterhaal hom keer op keer.

Gelowiges word deurentyd voorgestel as ’n leërmag, nogtans is ons Leidsman die Prins van Vrede. 

Die doel van hierdie leërmag is om vrede te bewerk en die soldate is mans en vroue met ’n geaardheid en ‘n passie vir vrede, vir waardes, vir opregtheid, onvoorwaardelike liefde.
          In hierdie oorlog van Liefde lê mense hulle lewens af vir Christus en word hulle “nuwe skepsels”.
         Die gees van ’n werklike oorlog is presies die teenoorgestelde. Daar is geen liefde nie, net haat en die totale vernietiging van menselewens. Sulke leërmagte het ’n voorhoede en ’n agterhoede.
            God se leërmag het ook ’n agterhoede en ’n voorhoede: “Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.” Jes. 52:12.
            Gelowiges se leërmag moet geestelik militant en gedissiplineerd wees, gedurigdeur oorlog maak, welwetende dat die oorwinning is reeds in sy hand  want die HERE is sy voorhoede sowel as sy agterhoede. Dit is God se Wil dat siele gered word.
            Om oorlog te maak vir die Waarheid is Waarheid —  Waarheid sonder foute en sonder leemtes. Die foutlose reinheid van die Waarheid is altyd in oorlog gewikkel teen die duisternis se kettery en valsheid.

Wanneer mens die Waarheid praat, hoef jy nooit te onthou wat jy gesê het nie. Wanneer jy lieg het jy probleem om die verdraaide feite te onthou.

Wat is hoogmoed?

Dis ‘n abnormale gevoel van eiewaarde, trotsheid, verwaandheid, opgeblasenheid. hoogmoed kom voor die val, 'n hoogmoedige mens word verneder. hoogedwaan, hovaardig, verwaand.

Die Bybel is die enigste Waarheid op aarde en dit word van Gelowiges verwag om die Waarheid uit te leef en die leuen te beveg, en, as die Christendom dit nie so doen nie, dan bevraagteken hy sy eie Waarheid!

Niemand kan die natuurwet, swaartekrag, verbreek nie. Net so is dit ook die wet van die natuur dat heiligheid en sonde teenoor mekaar staan. Die Waarheid en die leuen, net soos die Lig en die duisternis, het geen gemeenskap met mekaar nie.

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

“En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?

“Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.” 2 Kor. 6:14-15.

Oor die wêreld heen het ’n nuwe wending ontstaan:  Christus moet weg want Hy gee aanstoot in die parlemente en byeenkomssale van die wêreld. Die duisternis maak beswaar teen die noem van sy Naam.

“Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.” 1 Joh. 2:22.

Die gees van die Antichris is reeds in ons midde. Die leuen word geglo en die Waarheid word verdraai.
Kyk wat sê die HERE vir Jeremia: “Ek het jou onder my volk as toetser gestel, as vesting, dat jy hulle weg kan ken en toets.

“Hulle is almal die oproerigste van die oproeriges wat omgaan met kwaadsprekery; koper en yster is hulle; hulle handel almal verderflik.

“Die blaasbalk blaas hard; wat uit die vuur gereed kom, is lood; tevergeefs hou hulle aan met smelt, maar die slegtes word nie afgeskei nie.

“Hulle word genoem: Verworpe silwer; want die HERE het hulle verwerp.

“Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.

“Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!

“Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; “vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie, dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.

“Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Jer. 6:27-30; 7:1-8.

As bedrieglike woorde, die leuen, hoogmoed, huigelary en geveisdheid binne die Christendom voorkom, is daar ‘n baie groot fout: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.

Hierdie verkeerde elemente laat huwelike en gemeentes skeur.

“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. 1 Joh. 2:18-19.