Wys tans plasings met die etiket getuienisse. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket getuienisse. Wys alle plasings

Sondag 04 November 2018

By die Kruispad...


As mens elke dag met die Evangelie en met siele werk, beleef jy gebeurlikhede wat jy nooit sal vergeet nie. Sommige daarvan bemoedig ‘n mens, maar ander is hartverskeurend.

            ‘n Paar dae gelede sê ‘n vroutjie: “My hart is so seer.”

            Ek besluit daar en dan ek is te besig om nou na die probleem van die seer te kyk en ek beweeg onmiddellik na die oplossing.

            “Ken jy vir Jesus? Hy genees juis die gebroke harte.”

            Sy: “Ek het aan Hom behoort, maar Hy het my diep teleurgestel. Nou behoort ek nie meer aan Hom nie.”

            Ek steier byna agteroor. In my byna 50 jaar a Gelowige het ek nog nooit so iets gehoor nie.

            In die hele Bybel het die HERE nog nooit iemand teleurgestel nie.

            Ek besluit weer, ek gaan nie nou daardie padjie aandurf nie. Ek bly positief en stuur haar ‘n pragtige getuienis van hoe positief Jesus in mense se lewens ingryp en gebroke harte genees.

            Ek het nie weer van haar gehoor nie. Haar naam is nou een van vele op die gebedslys.

            ‘n Bekende Jood in Jerusalem beskuldig my daarvan dat ek, net soos die Nazi’s, ook die Jode wil vernietig, maar met die Evangelie. As hy maar kon weet wat ek al vir die Jode gedoen het. Hy is ook op die gebedslys. Iemand se naam op ‘n Gebedslys beteken sy nommer is opgeskryf, hy/sy sal inkom, vir seker. Dis net ‘n kwessie van tyd.

            Ek bestel skoene by ‘n man wat skoene verkoop, maar al wat maand in en maand uit gebeur is, my bestelling word net nie uitgevoer nie. Ek gaan spreek die kêrel en sê: “ Ek is op pad na die Nuwe Jerusalem en weet jy wat, in die Hemel dra mens nie skoene nie.”

            Hy antwoord: “Nee meneer, maar jy kan nie gaan voordat ons nie besigheid gedoen het nie.”

            Hy lees nou die Bybel wat ek hom gegee het. (en ek het nog steeds nie my skoene nie, en skielik is dit ook nie meer belangrik nie).

            Dan is daar die misverstand. Ek sê aan ‘n vreemdeling wat ek pas ontmoet het: “Ek is op pad na die Nuwe Jerusalem, wil jy graag saamgaan?”

            Hy, baie apologeties: “Nee meneer, ek wil nie.”

            Ek: “En waarom nie?”

            Hy: “Wat van my vrou en kinders meneer?”

            Ek snap my fout en verduidelik en hy verstaan en noem dat hy in elk geval nie gereed is nie. Hy lees nou ook gereeld die Bybel wat ek hom geskenk het.

Ek word ‘n huisie binne genooi om vir ‘n ernstige siek kindjie te bid. Ek lê my hand  op die vuurwarm liggaampie en bid en die koors breek en die kind sit regop. Sy ma is stom van verbasing. Na ‘n kort gesels kniel sy op die misvloer by ‘n sukkelende kersie en maak haar saak met die HERE reg.

            Inderdaad: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” Jes 42:3

            Daar was die vroutjie skamerig, byna jammerlik, wat gesê het: “Ek wil so graag saamgaan meneer, maar ek sal nie kan nie.”

            Ek: “En waarom nie?

            Sy: “Ek het te veel sonde meneer.”

            Dan bid ons saam en sy neem Jesus blymoediglik aan.

            Ek bring die Evangelie aan ‘n vreemdeling deur middel van my getuienis. Hy bepeins twee weke lank oor wat hy gehoor het. Dan besoek hy my op kantoor.

            Ek: “Goeie middag, kan ek help?”

            Hy: “Ek wil my bekeer, ek wil ‘n Christen word.”

            Ons gesels eers en kniel toe. Hy moet nou bid en Jesus aanneem as sy Saligmaker.

            Dis doodstil. Ek wag....

            Na ‘n ruk fluister hy in my oor: “Hoe moet ek Hom aanspreek, ek weet nie want ek het nog noot in my lewe met Hom gepraat nie, ek was ook nog nooit in ‘n kerk nie?”

            Ek glimlag en fluister terug: “Ek sal eers met Hom praat en jou aan Hom voorstel, dan luister jy hoe ek Hom aanspreek, dan sal ek jou verder met Hom laat praat.”

            So gesê, so gemaak. Kostelik.

            Ek bring die Evangelie vir ‘n groep plaaswerkers. Sonder ‘n voorbereide boodskap begin ek praat: “Hier was ander manne voor my wat ook hier gestaan het en met julle gepraat het. Hulle het gesê die Tokkelos bestaan nie, maar julle weet hy bestaan, want julle het hom gesien. Julle weet van al die moeilikheid wat hy maak.

            “Ek weet ook hy bestaan (uitroepe van verbasing) want ek het hom ook gesien. Julle kan egter soos ek, vanaand ook finaal breek met die Tokkelos sodat hy julle nooit sal kan lastig val nie.”

            Dis grafstil. Almal, manne en vroue, het beslis nog nooit so iets gehoor soos wat ek nou kwytgeraak het nie. Ek trek twee  groot sirkels op die grond, so bietjie meer as ‘n meter uitmekaar.

            Ek praat verder en beduie met die stok: “Julle is in hierdie sirkel. Die Tokkelos is ook hier by julle. Hy maak baie moeilikheid. Julle kan almal vanaand finaal breek met die Tokkelos en oorstap na daardie tweede sirkel en julle pad saam met Jesus stap. Om by die tweede sirkel te kom, sal julle een vir een by Golgota verby kom (en ek teken die kruis tussen die sirkels).

            In die tweede sirkel sal julle veilig wees vir die res van julle lewe want die Tokkelos sal,nooit by Golgota verby kan kom nie. Die bloed van Jesus sal hom nie toelaat nie. Geen bose gees kan daar verby kom nie.

            Ek brei nog effe uit oor die Weg van Saligheid  en maak toe ‘n uitnodiging.

            Dis daai slag wat my asem wegslaan. Sommige het op hulle knieë op die grond neergeval, ander het oor die trekker gehang of oor die sleepwa, met sommige oor die heiningdrade en oor die plaashek. Dit was ‘n tranedal soos ek nog nooit beleef het nie. Dit was of hulle hul lewelank op hierdie oomblik gewag het. Toe die uitnodiging kom was almal aan die roep.

            Ernstige smeekgebede het oral opgevlam. Ek het van die een na die ander gestap en hulle bemoedig.

            En dit eindig met sang en aanbidding en blydskap dat hulle uiteindelik ontslae is van die verlede en nou by Jesus is. Dit het alles by ‘n oop skuur en in die veld langsaan plaasgevind.

            En dan hierdie gesprek: My telefoon lui.  Die oumens-stemmetjie vra: “Is dit die munisipaliteit meneer?”

            Ek:  Nee, hierdie is ‘n sendingaksie.

            Sy lag vir haarself wanneer sy afgemeet sê: “Ai meneer, ek is tagtig jaar oud, ek probeer net my kragrekening se deposito by die munisipaliteit terugkry. Ek sal maar weer in die telefoongids kyk. Ek is jammer ek het meneer gepla.”

            Ek: “Glad nie, dis vir my aangenaam om so ‘n rukkie in die skaduwee van so ‘n ou boom te sit.”

            Sy: “Ek moes my huis verkoop, ek kon nie langer vir myself sorg nie. Ek woon nou in die ouetehuis. Die kragrekening van my huis is deurmekaar, maar dit sal die nuwe eienares wel regkry. Maar ek het gehoor ek kan my deposito terugkry. Dit was maar min daardie jare, maar ek sal bly wees as ek dit kan terugkry.”

            Ek: “Jy is tagtig jaar oud, maar jou kop het jou nog nie gelos nie.”

            Sy: “O meneer, dank die Heiland daarvoor. Ek ly al jare aan diabetes en osteoporose. Ek kan nie meer sonder hulp loop nie, maar mens klou tog so aan die lewe…”

            Ek: “Nee glad nie, ons moenie aan hierdie lewe klou nie, ons is op pad na die Nuwe Jerusalem.”

            Sy: “Ek was daar meneer!”

            Toe los my eie kop my amper. Wat sou sy nou bedoel het? Het sy dalk bedoel sy was iewers in haar leeftyd in Israel? Het sy my dalk verkeerd verstaan?

            Terwyl ek wonder, gaan sy voort: “Dit is pragtig daar meneer. Ek het nie die woorde om vir jou te kan verduidelik hoe pragtig dit is nie.

            “Daar is ‘n wonderlike lig, onbeskryflik mooi. ‘n Engel het my nader gewink. Daar is baie kindertjies wat sing. Hulle sing tog te mooi.

            “Die musiek is soos die van Beethoven, so sag en strelend. Daar is ‘n groot vrede en liefde, ag, verskoon tog meneer, ek het tog nie die woorde om te vertel hoe pragtig en wonderlik dit alles is nie.”

            Ek: “Wanneer was jy daar?”

            Sy: “Ek het in ‘n koma ingegaan en toe het ek oorgegaan. Die dokters het met masjiene om my lewe geveg en my teruggebring. Ek wou nie terugkom nie.  Ek was teleurgesteld toe ek besef ek is weer in ‘n bed. Ek sou liewer daar wou gebly het...”

            Inderdaad Here Jesus, dit was aangenaam om so ‘n rukkie in die skaduwee van hierdie ou boom te kon sit… Wat ‘n besielende lafenis na ‘n moeilike dag.

            Hou aan, tydig en ontydig, bring die siele in. Die grootste wonderwerk is en bly die Wedergeboorte. – Sjibbolet

·    Stuur vir ons ‘n paar van jou Kruispad  belewenisse ook, asseblief.