Wys tans plasings met die etiket geloof;. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloof;. Wys alle plasings

Dinsdag 17 Februarie 2015

Volharding, ook in die Gebed, bring die Oorwinning!


Image result for running in a race


IN die tyd waarin ons leef, is dit noodsaaklik vir Christene om gefokus te bly.  Iemand wat sy oë van die pad afhaal, kan verdwaal of die pad byster raak.
          Aan die einde van hierdie pad moet ook jy kan sê:  “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou (11 Tim. 4:7).
          Iemand wat aan ‘n wedloop deelneem is in meer as een opsig gefokus:


·        Hy weier om te twyfel
·        Hy weier dat enigiets sy aandag aftrek
·        Hy is en bly gedetermineerd
·        Hy weier om enige kompromieë aan te gaan
·        Hy is en bly gedissiplineerd
·        Hy wil ten alle koste wen

          Onthou, mens wen nie die silwer-medalje nie, die waarheid is dat jy die goue-medalje verloor het!
          Laat jy dan ook elke las aflê en die sonde wat jy so maklik omring, en met volharding loop, die wedloop wat voor jy lê (Heb. 12:1).
          Die wedloop is nie meer so lank nie.  Jy is reeds in die pylvak.  Trek die volle wapenrusting aan en staan vas (Efes. 6:13-14).
          Vergeet die dinge wat agter is.  Strek jou uit na wat voor is en jaag na die doel om die prys te kry. Onthou, dit is ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14).
          Jy het ook ander pryse in die lewe nagejaag, soos jou suksesvolle loopbaan, jou vrou, man, kinders, huis, motor.  Jy het daarna gejaag totdat jy dit verkry het, of, jy is in sommige opsigte nog besig om dit na te jaag.
          Maar in die wedloop om die groot prys van die Ewige Lewe het jy by tye straks nie gefokus gebly nie. Daar is vergifnis, genade, bely en vergeet wat agter is.  Byt die stang (die Woord) met mening vas en bly gefokus.
          Dalk is daar nog ander pryse wat jy nastreef.  Gaan voort daarmee. Al weet jy die Wederkoms van Christus gaan more plaasvind, plant vandag nog ‘n boom.  As dit geldelike uitkoms is wat jy nastreef, volhard, bly gefokus.
          Hou aan om te klop en daar sal vir jou oopgemaak word. As jy ophou klop maak niemand oop nie. Bly gefokus, gedetermineerd, weier om te twyfel, bly gedissiplineerd, hardloop om te wen.
         En wanneer jy bid, alleen of saam met ander, dink aan Han 1:14  Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met 'n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.” Hand 1:14
        Wandel volgens dieselfde reël as in dit wat jy reeds bereik het, maar sorg ook, dat jy eensgesind met ander wandel, want jy hardloop beslis nie alleen nie (Fil. 3:16).

          Elke dag is jy nader aan die manifestering van die einddoel.  Die probleme en moeilikhede wat jy ondervind is maar deel van die hindernis-wedloop.

          In Christus leef ons BO die omstandighede, jy gaan bo-oor die hekkies.  Jy leef nie ONDER die omstandighede nie.

          Al jou antwoorde is dalk nader as wat jy besef.  Volharding bring oorwinning mee.

          Waak, staan (vas) in die geloof, wees manlik, wees sterk (1 Kor. 16:13).  Ja, staan jou man, want jy staan nie alleen nie.  Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag daartoe gee.  Jy het mag ontvang oor al die krag van die vyand (Luk. 10:19).

          Jy word uitgedaag om anders te wees, om ‘n Goddelike spesie te wees wat nie opgee nie, om aan te hou totdat die deurbraak daar is.  Maar onthou, dit is net gefokusde mense wat sien hoe hul drome werklikhede word.

          God is magtig om jou op te bou en jou ‘n erfdeel te gee onder al die heiliges.  Onthou, as God se kind is jy heilig en Hy bou jou op, maak jou sterk.  Die voeding daarvoor is in Sy Woord en in jou gemeenskap met Hom.

          Hou die oë gevestig op Jesus Christus want Hy, en niemand anders nie, is jou Leidsman en die voleinder van jou geloof.  Hierdie is vir Hom ‘n vreugde en omdat dit al lank gelede vir Hom voorgehou was, het Hy die kruis verdra (Heb. 12:2).

          Behou die geloof.  Almal het ‘n mate van geloof ontvang, maar dit baat jou niks as jy daardie geloof nie vrystel nie, nie in aksie stel nie, nie beofen nie, want dit is hoe dit toeneem in gestalte.

          Bly in gemeenskap met die Heilige Gees.   Op daardie wyse kan jy die hart van God leer ken, wat Sy wil in jou lewe is.  Behou ook die geestelike gemeenskap met die heiliges.  Bewaar die eensgesindheid, bemoedig bemaar, dra mekaar, bid vir mekaar.

          “Welgeluksalig is die volk wie se God die Here is (Ps. 144:15) en welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God (Ps. 146:5)!