Wys tans plasings met die etiket eensaamheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket eensaamheid. Wys alle plasings

Dinsdag 29 September 2020

Help – ek soek liefde!

 

Beeld het berig: ‘Bybel is mees gesoekte boek op web’, dat die woord LIEFDE en JESUS van die gewildste ‘soekwoorde’ is, skryf Trienie Mahné van Woord in Aksie.

            Terwyl daar skrywers en kommentators is wat debatteer oor die Bybel se geloofwaardigheid en mekaar in die hare vlieg, is daar mense wat in die harde werklikheid buite, stukkend en koud rondlê... opsoek na ware opregte liefde.

Waarom sal hierdie mense so desperaat in hul wanhoop na ’n soekenjin gaan, hopende dat die woorde:  “Jesus” en “Liefde” dalk kan help? ’n Bybelvers op ’n koue komper kan mos nie warm liefde gee en my lewe verander nie. Of kan dit?

            Prof Jorrie Jordaan van die Dept Teologie aan die Universiteit van Noordwes het gesê dit dui op die krag en waarheid van die Bybel. ‘Ongeag tegnologiese vooruitgang word die Bybel steeds erken.’

Ek glo saam met  Du Rand dat die Internet handig te pas kom om die kennis wat nodig is vir ’n dieper geloof, te bekom. Ware gelowiges moet net seker maak van hul eie geloofsraamwerk as maatstaf, en nie deur enige wind of siening omgewaai word nie.

            Die opregte ware gelowige het egter ’n verpligting: Saai van liefde. Hulle verkondig nie ’n evangelie van hel en oordeel nie, want dit ontlont net ’n ander hel. Hul Evangelie is een van liefde. Want God is liefde.

Dit laat my terugdink... Blondie (nie regte naam) het in die sirkel reg oorkant my gesit. Tenger fyn vroutjie met prag-styl blonde hare. Eers later deur die naweek het ek ontdek dat haar oë ’n aantreklike hemelblou is!

Vrydagaand kon sy nie praat nie, trane te voorop, kon my ook nie in die oë kyk. Sy het ook nie geweet waar is die Ou testament of die Nuwe. Haar Bybel, nog ’n maagd. Dis nou as dit haar eie Bybel was. Haar oudste seun as baba aan haar eie ma tydelik gegee om groot te maak, want syself was nog te jonk. Vandag weier ma om haar kind terug te gee en smag sy na hierdie kind se liefde. Nou is die hele familie verwyderd van mekaar.

Toe kom die tweede kind (ook buite die huwelik) en toe loop dinge eers verkeerd, want sy was opsoek na ware liefde! Nou kan sy haarself nie vergewe vir al haar foute. Maar sy is hier, om reg te stel. Oor te begin.

            Die liedjieskrywer dig ’n koortjie: “Liefde red my, toe alles verlore was, red liefde my ...”  Blondie was verbaas toe ek haar in my arms toevou en my hart teen haar hart vasdruk. Styf, baie styf. Lank. Tot haar skrik daaroor bedaar. Iets wat sy nie ken nie.

Ek hou haar vas soos haar aardse moeder moes, maar as kind haar eerder verwerp het. Dan sal ek vra: “Kan jy voel hoe Jesusliefde uit my hart vloei tot binne in joune?”  Gewoonlik is ek verbaas as hul terugantwoord:  “Ja, ja – ek kan dit voel!” Net om jou éérs daarna vas te gryp. Dan snak ek na asem en huil en lag saam met hulle. Om te dink so ’n klein bietjie Jesusliefde kan so ’n groot verskil maak. Dit is in staat om ’n nuwe jubeljaar waarin alles weer herstel, aan te kondig.Levit 25:12 Vernaam wanneer hulle besef dat hulle spesiaal aan Hom behoort. Joh 17:17

            Nie een van ons is goed nie. Het niks om ander te bied. Maar wanneer goddelike genade en liefde vloei vanuit Sy troonsale tot binne in stukkende harte, dan moet ek en jy erken: God is goed!

            Geniet opregte, ware en rein liefde hier op aarde. Dis verniet en gee jou lewe kleur. (Jy gaan dit beslis nie in die biegkolom vind nie.)