Wys tans plasings met die etiket dienaars van die Here. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket dienaars van die Here. Wys alle plasings

Woensdag 17 Augustus 2016

Ons is maar net dienaars...


“Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.” 1 Kor 3:1-9 (5)

 
Harry Moorehouse, die beroemde en kragtige Engelse prediker, was nog ’n jongman toe hy gedurende die Engelse en Amerikaanse herlewings van meer as ’n eeu gelede, in een van die Engelse stede ’n diensreeks gehou het, vertel Alliance Weekly.

Op ander plekke was daar tydens sy dienste ’n gees van herlewing, gepaardgaande met groot seën vir die mense wat die dienste bygewoon het. In die stad waar hy nou met sy dienste besig was, was dit egter anders. ’n Hardheid het die dienste gekenmerk en dit het vir hom gevoel hy preek teen ’n koue muur vas. Hy het ure op sy knieë deurgebring soos hy by die Here gepleit het vir die deurbreek van die werking van die Heilige Gees en soos hy selfondersoek gedoen het of daar dalk in sy eie lewe iets was wat die Heilige Gees bedroef.

Een middag loop hy in een van die stad se strate af en sien ’n plakkaat teen ’n muur wat sy dienste bekendmaak: Harry Moorehouse, the most famous of all British preachers! Dadelik sê hy vir homself. “Daarom is daar nie herlewing nie!”

Hy het dadelik  gevra dat die komitee wat die dienste reël, moet vergader. Hy het vir hulle gesê: “Brethern, now I know why there is no revival. See how you have advertised me as the greatest of this and the greatest of that! No wonder the Holy Spirit cannot worK! He is grieved and quenched because you haven’t magnified the Lord Jesus Christ. He is the wonderful One. I’m just a poor, simple, humble servant, preaching the glorious Gospel, and saying, ‘Behold the Lamb of God that taketh away the sins of the world.’”

Ongelukkig word in die beriggie nie gesê wat die gevolg van sy gesprek met die komitee was nie, of daar toe herlewing in die stad gekom het en of die harde, koue atmosfeer voortgeduur het, omdat daar ‘n ander probleem was nie.

Die feit dat hierdie vertelling by herhaling oorvertel is, laat mens dink dat Harry Moorehouse reg was in sy vermoede en dat die Here, na die roem van die prediker na die regte plek toe afgebring is, Homself deur die prediking van sy jong dienskneg in daardie kerk en stad openbaar het. Dit was ook die houding van Johannes die Doper toe die volk so ’n grotigheid van hom gemaak het: “Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop...Hy het gepreek en gesê: ‘Die Een wat ná my kom, is my meerdere.

Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie...Hy sal julle met die Heilige Gees doop’” (Mark.1:5-7). Wanneer ons, in ons diens vir die Here, van onsself af wegdraai na Jesus  toe en Hom verhoog, gebruik die Heilige Gees ons werk vir Hom tot eer van God.