Wys tans plasings met die etiket Koop die tyd uit. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Koop die tyd uit. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Daar is nie tyd vir wat verkeerd is nie


In net sewe strofes is die mens se lewe  opgedeel in 28 seisoene

            Prediker 3 sê: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd:

            'n Tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is, 'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en 'n tyd om op te bou, 'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van vreugde rond te spring, 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing, 'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n tyd om weg te gooi, 'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd om te spreek, 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede.

            Dar is nie tyd vir dronk word nie, ook nie vir owerspel nie, nog minder vir egskeidings, of leuens, of korrupsie,   onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;

afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

            “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Efes 5:15-16 – Wekroep

         

Sondag 08 September 2019

Koop die Tyd uit


Tyd is kort. Die oumense het vir ons as jongelinge gewaarsku, tyd is kort. Ons was net 20 jaar oud en ons kon die werklikheid hiervan nie insien nie. Toe ons weer sien was ons 60 en toe 70 en nou nader ons 80.

            Gister was mens 50 jaar oud en oormore sê almal veels geluk met jou 60e jarigwording.  Selfs die Bybel waarsku: Koop die tyd uit.

            Alle nuusmedia werk in spertye. Neem ‘n koerant as voorbeeld. Elke bladsy het ‘n spertyd en die totale koerant ook. Nooit durf iemand dit waag om oor ‘n spertyd te gaan nie. Die rede is eenvoudig. Koerante word per pad en per vliegtuig vervoer. Dit moet ten alle koste op ‘n gegewe tyd al sy verkooppunte bereik.

            Vra maar vir jouself dit af: Hoe kry ‘n Sondagkoerant dit reg om Sondagoggende wanneer die winkels oopmaak, landwyd betyds beskikbaar te wees. Saterdagnagte wanneer jy slaap, beweeg voertuie soos rooimiere kruis en dwars deur ‘n netwerk van  paaie, oorlaai en aflaai kruis en dwars oor Suid-Afrika. En dan is daar die  mense wat donker oggend per fiets die koerant by jou huis aflewer. Alles is uitgewerk en beplan tot op ‘n minuut... en niemand in die netwerk durf slap lê nie. Van almal word ‘n 100% prestasie vereis.

            En jy lees rustig jou koerant met sonder die vaagste benul wat alles landwyd gebeur het, sodat jy jou koerant betyds kon ontvang.

            Skrywer had deur die jare ‘n kennisgewing teen die muur in my kantoor: “Straks Vandag”, verwysend na die Wederkoms. Op my lessenaar ‘n kennisgewing: “Doen dit Nou!” Tyd verskaf nie voorskotte en lenings nie. Tyd wat verby is kan jy noot weer inhaal nie.

            ‘n Stukkende horlosie kan mens vervang of laat regmaak (en tog is ‘n stukkende horlosie twee keer in elke 24 uur op tyd)  maar baie mense is net nooit op tyd nie.

            Moet nooit wat jy vandag kon doen los vir more nie, want jy is dalk nie more meer hier nie.  Moet nooit tyd verspil nie. Dit is net so kosbaar soos water. Kyk na die droogtegeteisterde gebiede, as kos en water nie betyds opdaag nie, vrek alles.... vee, verlore winste, water en tyd wat mens nooit weer sal terugkry nie.

            ‘n Ander waarheid is dat “Tyd is Geld.” As jy tyd verloor, verloor jy geld. Die volledige Skrif lees: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as (let op) onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.

“Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die Wil van die HERE is.” Efes 5:15-17

Let op, “die dae is boos”. Dit waarsku weer op die Wederkoms want dit is hoe dit sal wees in die Eindtyd... Boos! Boos beteken: Kwaad.  Goddeloos, sleg. Storend; lastig. Kwaai, onhandelbaar. Lasterend. Sondig. Kommervol, haglik. Vyandiggesind. Afgunstig. In groot mate bose kringloop.

As jy nie die tyd uitkoop nie, is jy onverstandig. Die ouers werk en die kinders is op skool en of universiteit. Almal kom vanaand kapot by die huis aan, maar ma moet rondspring om vir almal kos te maak... en sy moet gou maak! Dis onregverdig. Wat doen die res van die gesin dan met hulle tyd na werk?

Daar is net ‘n sekere aantal ure per dag wat ons kan werk en ons moet inderdaad werk want die nag is op ons. Hoeveel mense bedel nie terwyl hulle kan werk nie.

Gee mildelik aan die eenvoudige nederige karwag. Hulle doen te minste iets om hulle brood te verdien. Menige van hulle begin hulle dag met die HERE met Bybel lees en gebed. Hulle kom spesiaal vroeg om tyd in te ruim daarvoor. Sou jy aldag heeldag op jou voete wil wees in die son en wind en koue en reën. Hulle is die SA wat was. Bemoedig hulle.

Die tyd is boos, baie, baie boos. As die menslike hart nie nou verander word teenoor God nie, is dit te laat. Daar is geen tyd in die Ewigheid nie. Enigiemand wat reeds daar is, voel of hulle maar gister daar aangekom het, alhoewel daar geen gister, vandag of more is nie.

Die geheim oor tyd is nie hoe lank nie, maar watter kwaliteit ons daar inbou. Is daar kwaliteit in jou tyd ingebou? Koop jy die tyd uit? Jy gee ‘n tiende van jou inkomste, maar gee jy ook ‘n tiende van jou tyd wat betref voorbereiding vir die Ewigheid?

Ons het in hierdie tyd mans en vroue en jeugdiges wat saam met die HERE loop.  As jy dit doen, sal ook jy jou taak op aarde vrugbaar voltooi.

Jy is te vroeg vir ‘n afspraak, jy moet tyd verdryf... nee nooit, wanneer jy in ‘n koffiewinkel instap, stap Jesus daar in. Maak ‘n verskil. Spandeer kwaliteit tyd daar. Koop die tyd uit. –   Wekroep