Wys tans plasings met die etiket Grootste Revolusie van alle tye. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Grootste Revolusie van alle tye. Wys alle plasings

Woensdag 18 Mei 2016

Die Grootste Revolusie van alle Tye! – Hiertoe is jy en ek geroep!


Image result for revolution


Ons bevind ons vandag in die mees revolusionêre tydvak van alle eeue. Revolusie beskryf die gees van ons tyd. Wêreldleiers en die mensdom vrees wat die dag van more sal bring.

Die voormalige Britse leier, Sir Winston Churchill, het gesê: “Ons generasie mag stellig nie meer leef wanneer die einde van die beskawing aanbreek nie.”

Die voormalige Amerikaanse President Dwight Eisenhower, het gesê: “Sonder ‘n morele en geestelike ontwaking, is daar geen hoop vir die wêreld nie... eendag sal ons onsself sien verdwyn in die stof van ‘n atoomontploffing.”

Dag Hammerskjold, voormalige Sekretaris-generaal van die VN, het kort voordat hy in ‘n vliegramp in die Kongo gesterf het, gesê: “Ek sien geen hoop vir die wêreld nie. Ons het so hard probeer en so tragies misluk. Tensy die wêreld in die volgende paar jaar ‘n geestelike hergeboorte ondergaan, is ons verlore.”

Daar is hoop. Jesus sê: “Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
          “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
          “Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” Openb 20-22
          So  maak jy die deur oop: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Rom 10:9-10

·       Hierdie is die uur vir gelowiges om betrokke te raak in wat gestalte kan kry as die grootste geestelike oes en ontwaking sedert die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag!


·       Hierdie is die uur waarvoor ons gebore is en Wedergebore is. “... mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.” Luk 21:26. Mense se harte is oop vir die ontvang van die Evangelie wat ek en jy vir hulle moet bring.


·       Nou is die tyd om die Goeie Nuus op elke denkbare wyse te versprei. Ons moet Jesus Christus se werk op aarde voltooi en die Getal volmaak. Ons dwing niemand nie, ons oortuig niemand nie, ons saai net die saad. Die Gees van God sal die Woord nooit leeg laat terugkeer nie.


Baie Gelowiges het nog nooit die Groot Opdrag ernstig opgeneem nie. Meeste redeneer dat Herders al die werk moet doen. Herders kry egter nie lammers nie, net skape kan lam en simbolies hou die Bybel ons, vir my en jou, voor as skape.

Herders is daar om na die welstand van die skape om te sien, hulle te voed en te versorg sodat hulle selfs twee-, drie- en vierlinge per keer kan lam.

Daar is drie goeie redes hoekom ek en jy siele moet inwin: Eerstens omdat Jesus ons die Groot Opdrag gegee het om dit te doen; Tweedens omdat die mensdom verlore is sonder Hom en Derdens omdat die mensdom honger na ‘n Verlosser, al besef sommige dit selfs nie.
        Ek en jy kan niemand dwing om Christus te volg nie. Ons vertel en getuig oor die Goeie Nuus en Sy wonderwerkende krag. Die heilige Gees laat groei.
            Die profeet Sagaria profeteer oor die toekoms (Sag. 4:6) “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here van die leërskare.”
            Die klem val op ‘n nuwe revolusie. Christus was seker in ons taal die grootste revolusionêr van alle tye.  Kyk net wat het Hy nie alles gedoen en bereik nie.
            Nechayev, ‘n Marxis wat in die tronk dood is na die sluipmoord op Tsaar Alexander 11, het gesê:
            “Die revolusionêr is ‘n toegewyde persoon. Hy stel nie sy eie belange voorop nie, ook nie sy eie gevoelens nie, nog minder het hy belang by eiendom, selfs sy naam is nie vir hom belangrik nie. Vir die revolusionêr is alles saamgevat in die enkele eksklusiewe gedagte – die een-passie revolusie!”
            Maar hierdie toegewydheid was nie oorspronklik Kommunisties nie. Dit was Jesus Christus wat gesê het:
            “As enigeen ‘n begeerte het om My dissipel te wees, laat hy homself verloën (homself alles ontsê, van homself en sy eie belange vergeet), sy kruis opneem en My volg (word gelyk aan My voorbeeld wat ek stel in lewe, daad en dood).
            Joshua 5: 15-15 is ‘n weerspieëling van wat tydens die Yom Kippoer Oorlog in Israel in Desember 1973 en Januarie 1974 gebeur het.
            “En terwyl Joshua by Jerigo was, slaan hy sy oë en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Joshua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort u by ons of  by ons vyande?
            “En hy sê:  Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. (Ek het pas gearriveer).”

            Die Hoof van die Leër van die HERE!

            Die gedagte verruk ‘n mens se sinne. Dis byna te groot vir die mens om te begryp.
            Die harde feite is dat ons in hierdie stadium onsself in ‘n geestelike oorlog bevind. Maar ons is beslis nie alleen nie. Jesus belowe: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Matt 28:20
            Die tweede wat hieraan gelykstaan is dat Jesus Christus die Hoof van ons Leërmag is. Aan Hom is “alle mag gegee in die Hemel en op Aarde.” Matt. 28:18.
            En hier is die mees verstommendste aspek van die geestelike lewe wanneer Jesus in Lukas 10:19 sê:
            “Ek gee julle die mag om op slange en skerpioene (die okkultisme, towery, heksery en magte van die duisternis) te trap, en oor al die mag van die vyand, en niks sal julle ooit skade doen nie.”
            Eers is die mag aan Hom gegee, en toe gee Hy dit aan ons. Ek wat maak ons daarmee?
            Ons sukkel met ons perspektiewe omdat ons nie in en deur die Gees van God wandel nie.
            Saam met die Hoof van die Leërmag is etlike legioene Engele.
            Hulle was daar toe die Rooi See oopgekloof is, hulle het die mure van Jerigo  omgegooi, hulle was ook saam met Josafat toe die vyand skielik homself vernietig het, en met Jonathan toe hy die Filistyne bestorm het, saam met Dawid toe hy Goliat  verslaan het, saam met Daniël in die Leeukuil  en helaas, ook telkemale saam met  ons eie volk.
            Die sonde van ons tyd is wanpersepsies omdat ons toelaat dat ander invloede uitwerkings op ons het, in plaas daarvan om te bly in dit wat ons geleer was – die Waarheid en nogmaals die Waarheid soos vervat in die Bybel. Ons lewe onder die omstandighede in plaas van bo die omstandighede.
            God se Engele is oral. Hulle het nie visums en paspoorte nodig nie. Dit is ook hulle wat in Angola ons troepe keer op keer uit benoudhede gered het. Die getroue gebede aan die tuisfront, was nodig.
            Dis ook hulle wat die Yom Kippoer Oorlog in 1973 gewen het.
            Jare gelede het die SAUK-tv  ‘n program gebeeldsaai waarin sommige van ons eie soldate vertel het van Goddelike ingrypings in die Angolese-oorlog.
            Christen-soldate wat in die Viëtnam-oorlog geveg het, het later ook van vele Goddelike ingrypings vertel.
            In 11 Konings 6:15-17 beleef ons weer ‘n pragtige Goddelike ingryping:
            “En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad.
            “En sy dienaar sê vir hom: Ag my heer, hoe sal ons maak?
            “Maar hy antwoord hom: Vrees nie; want dié wat by ons is, is meer as die wat by hulle is!
            “En Elisa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë dat hy kan sien. En die Here het die oë van die dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.”
            Van wie het Elisa gepraat? Van God se legioene Engele natuurlik. Die dienaar kon hulle eers nie sien nie, nie voordat God sy geestelike oë geopen het nie.
            Ook ons moet die plek bereik waar God ons geestelike oë vir ons open. Lees gerus die hele 11 Konings 6 en sien hoe Elisa die vyand verslaan het.
            Die leërmagte van die Hemel is gemobiliseer, maar ons is nie gereed nie. Ons verhouding met God en met mekaar is nie reg nie.
            Sonder geloof (Heb. 11:6) gaan daar ook niks gebeur nie. Voordat die Goddelike ingryping kan plaasvind, moet ons as volk verootmoedig, ons bekeer en terugkeer na die weë van God, ons God.
            Adam en Eva is nie uit die Paradys gesit omdat hulle gesondig het nie, maar omdat hulle nie bely het nie. Pleks van bely het Adam die skuld op Eva gepak en sy het die skuld op die slang gepak.

Met die vyandige vliegtuie wat in die Wêreld Handelsentrum in Amerika vasgevlieg is, het Amerikaners opnuut na die kerke gestroom, maar ‘n rukkie later was dit weer tot niet want niemand het bely nie.
            In Suid-Afrika kry die regering en ander die skuld vir alles, maar die Christene bely nie.
            Die sensusopname toon dat 32-miljoen Suid-Afrikaners sê dat hulle Christene is. Waar is hulle?  Waar is die Christen-stem?
            Op een van ons oorsese sendingtogte het ‘n Belg, nadat hy die Waarheid aangehoor het, gesê: “Dan was ons nog die hele tyd net papier Christene”.
            “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
            “Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.” 1 Kron 7:14-15
            Maar gelowiges maak nie hulself bymekaar en bekeer hulself en verootmoedig nie. Die HERE se oë is oop en sy ore luister, maar daar gebeur niks.
            Liefdeloosheid, twis, haat, skinder, tweedrag is eerder aan die orde van die dag.
            Lees Jesus se laaste gebed in Joh 17 en kyk of daar van my en jou gepraat word.
            Ons moet heilig wees. Wat beteken heilig? Die Verklarende Woordeboek verduidelik dit so:
            Aan God opdra, aan God toewy.  Waardig maak.  Regverdig. As heilig erken. Heilig maak.  Volmaak, sonder sonde, godvresend.  Gewyd; met besondere gawes bedeel.  Eerbiedwekkend.  Trou.  Eerbiedwaardig.  Afgesonder. Pligsgetrou. Diep (eerbied). Heilig bly, onskendbaar bly; iets heilig glo, iets onvoorwaardelik glo; (hulle is nie almal heilig wat baie kerk toe gaan nie, 'n mens kan nie net na uiterlike vroomheid oordeel nie).
            “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.
            Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
“Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.
“En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” Gal 5:5-21
            As ons sê dat ons gelowiges is, dan behoort die Groot Gebod, die van Liefde, tekenend van ons bestaan te wees:
            “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, goedheid, lankmoedigheid, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22. Ervaar jy dit in jou eie lewe?
            1 Pet 2:24 lees: “Deur die wonde van Jesus het daar vir ons genesing gekom.” So moet daar deur ons wonde ook genesing vir ander kom.
            Dan is ons lief vir mekaar en lief vir ander. Dan “Dra ons mekaar se laste” Gal 6:2. Dan “Bid ons vir mekaar.” Jak 5:26
            “Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.” Luk 6:28
            Die revolusionêre magte van die duisternis saai onheil, terwyl die revolusionêre magte van die Hemel, waarvan ons as Christene deel is, die situasie net mooi kan omkeer na ware vrede en heil.
            Om siele by Jesus Christus uit te kry vereis van ons ‘n ware Christen-lewenswandel, die uitdra van die Evangelie en gebed... en nogmaals gebed. Jesus het die Revolusie begin en vandag is dit die grootste beweging in die wêreld met die Bybel steeds as die top verkoper, maar ek en jy moet die Revolusie voltooi, die Getal volmaak.
            Waarvoor wag jy?
            Luister: https://www.youtube.com/watch?v=ad54bH-nQTM
            En: "Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra." Ps 126:6
Bid deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA. Raak betrokke, dis die Groot Opdrag – Sjibbolet

https://www.youtube.com/watch?v=ad54bH-nQTM&authuser=0